Algemeen -

Dankbaar vir sewe jaar

Vandag is ons sewe jaar gelukkig getroud. Sewe jaar wat soos 'n oogwink verbygegaan het.

Daar was hoogtes en laagtes, vreugdes en hartseer, uitdagings en uitsonderlike tye! Ons lewe saam is voorwaar 'n fees. 'n Reis waarop ons saam op pad is. Waar jy gaan, sal ek gaan… (Rut 1:16)

In hierdie sewe jaar het ons:

  • Een troeteldier weens ouderdom verloor.
  • Twee kinders ryker geword.
  • In drie plekke in Suid-Afrika gebly – twee stede en een dorp.
  • Vier woonplekke gehad – drie woonstelle en een huis.
  • Saam oorsee gereis en was in vyf verskillende lande – Italië, Turkye, Singapoer, Suid-Korea, Ierland.
  • Vir ses maande in die Kaap gebly.
  • Sewe troues bygewoon van vriende en familie.

Natuurlik het daar baie ander dinge ook in hierdie sewe jaar gebeur.

Ons het gelag, gewag, gebid, gehoop, geglo, gewaag, geleer.

Ons het gegroei: in geloof, hoop en liefde.

Ons twee pragtige kinders is 'n groot seën. Deur hulle oë kan ons ook weer die wonders om ons raaksien. Hulle laat ons weer besef hoe klein en nietig ons is. Hulle wys ons weer hoe kosbaar tyd is en hoe vinnig dit verby vlieg.

Vandag is ek dankbaar vir sewe jaar. Al was meeste van hulle ook moeilike maer jare. Al was daar sewe sakke sout. Al was ons soms moedeloos.

Ons stap hierdie onseker pad met die wete: Ons het mekaar. Ons vreugdes is veel meer as ons swaarkry. Al het ons min, het ons alles wat werklik saak maak en meer.

Dankie, my man, vir sewe jaar se getroude lewe. Vir getrouheid en vir ondersteuning. Vir jou geduld. Dankie dat jy my liefhet nes ek is. Dankie dat jy 'n goeie pa vir ons kinders is. Dankie vir alles wat jy vir ons doen en gee.

Mag God die Vader ons seën en behoed (Num. 6:24) en ons lei op ons pad.

  •  
  •  
  •  
  •  
Carina Bester Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close