Kultuur, Politiek -

Dankie ANC, vir patriotiese Afrikaner-musiek

Dit is vreemd om die woorde “dankie” en “ANC” in dieselfde sin te gebruik, maar daar is een ding waarvoor ek dankbaar is teenoor die ANC-regering … Het jy al opgelet hoeveel patriotiese Afrikaner-musiektreffers daar deesdae op die mark is?

Dit is te danke aan die ANC-regering wat deur wette en reëls Afrikaners probeer onderdruk. Deur musiek kan Afrikaners egter sing wat hulle nie mag sê nie.

Dit is nie in Afrikaners se DNS om slagoffers te wees en na hulself te verwys as “onderdruktes” nie, maar ongelukkig is dit so dat die regering die Afrikanerkultuur onderdruk. Dit is vir die ANC totaal ongewens dat Afrikaners trots op hulle kultuur en erfenis is. Dit is amper 'n sonde as jy verskil van ministers wat ons hele kultuurerfenis in 'n temapark van skande wil plaas.

Daarom is dit letterlik en figuurlik musiek vir my ore wanneer Afrikaanse sangers en sangeresse sing wat ons almal so graag wil uitbasuin. Dalk luister jy graag na die roerende deuntjie, maar die waarde lê in die lirieke. Ek hoop dat dit jou hart so warm sal laat klop soos myne, en jou geheue sal verfris oor ons diep voetspore, wanneer jy weer hierdie woorde hoor:

  • “Die grond onder my voete is my volk se reg. My are is geweef in 'n koringland.” – Ghapi, Goliat.
  • “Ek sal aanhou deur die jare, met my trots en taal in my are.” – Andries Vermeulen, In Afrikaans.
  • “My vlag sal aanhou waai en die sade sal ek saai vir jou, ek belowe jou – die land behoort aan jou.” – Verskeie kunstenaars, Die land.
  • “Niks kan ons maak kniel, behalwe God nie. Ons sal self – begin soos ons begin het, toe alles teen ons staan. Ons sal self – as jy ons nie wil lei nie, as jy ons niks wil gee nie.” – Verskeie kunstenaars, Ons sal self.
  • “Dis wie ons is, die harde baarde, die bloedsweet en trane wat aanhou klop.” – Bok van Blerk, Dis wie ons is.
  • “Onthou ons verlede, ons is hier vir 'n rede. Hier lê ons sweet, hier lê ons bloed, staan op, want ons moet. Monumentaal – dis ons verhaal. Niks kan ons keer nie, want Hy’s in beheer.” – Ruhan du Toit, Monumentaal.
  • “Jy is sterker op jou knieë, as jou voete my maat. Dit is jou land, dit is my land. Jy moet verstaan dat hierdie boer nêrens heen sal gaan.” – Appel, Jou land.
  • “Jy kan breek, ons sal bou. Jy kan vat, ons sal hou. Jy kan brand net wat jy wil, ons kies werk ons kies verskil. Jy kan skree, ons sal leer… As ek buig, buig ek voor Hom.” – MD Greyling, Veg en bou.
  • “In ons durf en in ons daad is ons tot soveel meer in staat en ons sal oor ons helde praat.” – Adam Tas, Die spore wat ons los.
  • “Gewortel in die suide van Afrika. Vier eeue lank is 'n volk gevorm hier, deur oorloë, deur teenspoed, deur vuur. Al word daar vir my gesê dat my herkoms vêr bo in die Noorde lê, is ek uit hierdie grond verbou – hier lê my bloed, sweet en klippe kou.” – Jan Jan Jan, Die RSA is in my DNA.
  • “Laat 'n duisend stem weer een man raak – ja my vriend, ek’s 'n patriot!” – Appel, Patriot.

Hoe heuningsoet is dit nie wanneer jou gunsteling kunstenaars saam met jou sê: ons kom van hier, ons hoort hier, ons bly hier, ons dien die Here hier en ons bou hier nie? Hoe wonderlik is dit nie om te sien hoe kunstenaars, oud en jonk, verwoord wat in ons harte brand nie? Gaan jy ook die volume oopdraai en saam met my, en duisende ander, sing en dans in Afrikaans tot ons doof raak vir die ANC se leuens?

Jy kan saam na my speellys op YouTube gaan luister om van my gunsteling patriotiese Afrikaner-musiek te hoor:

https://www.youtube.com/watch?v=UXeEWnEhmmo&list=PLvFehFuNAvCgC2buYmvRmtMNFa3BKcbls

Dankie ANC!

 

  •  
  •  
  •  
René Krüger Deur René Krüger


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close