Algemeen, Politiek -

Dankie, Oom Cyril!

Ek is bly mense noem nie meer die president Oom Cyril nie. As hy mý oom was, sou hy een van dié wees waarmee ek kontak verbreek sodra my ouers my nie meer kan dwing om by familie te kuier nie. Maar nou ja, vir een of ander rede was daar tot verlede jaar nog 'n hele paar mense wat na die president verwys het asof hy ons beste-este oom is.

Nou begin ons hom darem sien vir wie hy is, alhoewel dit moeilik is om te sê wie hy regtig is, want hy doen nie juis veel nie. Hy is geskok, verbaas en onbetrokke. Nie juis presidensiële eienskappe nie, of hoe? Het Ramaphosa al 'n enkele standpunt ingeneem vandat hy president geword het?

Hy sê hy is gekant teen korrupsie, maar hy ontken dat hy bewus was van korrupsie wat reg onder sy neus plaasgevind het. Dan bedank hy nog vir Zweli Mkhize vir sy goeie diens aan Suid-Afrika, op die selfde dag wat Mkhize bedank het omdat hy en sy vriende en familie by Digital Vibes sakke vol geld gesteel het. En dit was nie sommer enige geld nie, maar geld wat bedoel was om ons deur die pandemie te help. Nou is daar nie meer geld om sinvolle inligting oor inentings beskikbaar te maak nie en ons gaan nog lank in die pandemie vasgevang wees.

Maar dit is nie al nie. Cyril was daar. Hy was nog altyd daar. Toe die ANC mense wat van hulle verskil het lewendig aan die brand gesteek het, was Cyril daar. Toe die ANC bomme geplant het wat onskuldige mense se dood veroorsaak het, was Cyril daar. Toe die ANC-regering aan bewind gekom het en begin het om minderheidsgroepe uit die ekonomie uit te sluit, was Cyril daar. Toe die ANC in die hof baklei het om die puttoilette waarin kinders by skole verdrink het te verdedig, was Cyril daar. Toe die regering mense verhoed het om warm klere en warm kos te koop, was Cyril daar.

Die lys kan nog baie lank aangaan, maar ons kan dit maar opsom as die feit dat die ANC nog niks goed kon doen nie, nooit sal doen nie, en ook nie die vermoë het om te verander nie. Ons moet dit nie verwag nie en ons moet ophou om bly te wees wanneer die regering sy eie opgemaakte regulasies verslap. Daarvoor kan ons nie dankie sê nie.

So nou ja, dankie, Oom Cyril. Dankie dat jy ons laat besef het dat daar regtig nie iets goeds uit die ANC kan kom nie.

Foto: Waldo Swiegers/Bloomberg

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close