Die (ab)normaliteit van 'n lewe in Suid-Afrika

Ek het in die week 'n Zoom-vergadering met 'n oorsese besigheidsman gehad wat sy eerste vraag baie besorgd aan my gestel het: “How is it to live in the corrupt, crime-stricken, deteriorating South Africa?” Dit het my opnuut herinner aan dr. Dirk Hermann se woorde dat ons die omstandighede in Suid-Afrika net eenvoudig nie as normaal mag aanvaar nie.

Met belastingbetalings van 'n eerstewêreldland in 'n derdewêreldland met rommelstatus moet ons dit beslis nie as normaal aanvaar of beskryf wanneer 'n vraag soos dié van die buitelander  aan ons gestel word nie. Ons kan nie afgestomp raak vir die nuus oor plundering, geweld en verval nie. Die media kan nie eers al die stories oor hierdie temas dek nie, maar dit waaroor wel berig word, is ontstellend, en tereg so.

Dit is nie oukei dat inwoners van Wolmaransstad al vir 13 jaar lank self hul vullis verwyder en slaggate met gesnyde gras moet probeer opvul nie. Dit is nie oukei dat jy bo en behalwe jou belastinggeld ook tolgeld moet betaal net om borde langs die tolroete te sien wat waarsku teen rondloperdiere en kapings-“hotspots” nie. Dit is onaanvaarbaar dat jou dag ontwrig word omdat jy 'n alternatiewe roete werk toe moet ry om nóg 'n gewelddadige betoging te vermy nie. Dit is nie normaal dat jy moet betaal om in 'n gym te oefen net omdat dit te gevaarlik is om in die strate te draf nie. Dit bly skokkend dat jy aandele van jou besigheid verniet aan regeringsbegunstigdes moet gee. Dit is nie “een van daai tien dinge” as jy op beurs- en pos-advertensies sien dat dit slegs vir swart mense gereserveer is nie. En ons durf nie sê dat ons 'n slagoffer van misdaad was, “maar lig daarvan afgekom” het nie, of dat die nuutste ontbloting van korrupsie “darem net R300 miljoen rand” was nie.

Nee, om dit nie as normaal te aanvaar nie, is jou eerste vorm van verset. Mooipraat en vra is al lankal nie meer 'n opsie nie. Wat nou? Ons kulturele identiteit lei ons om op te bou, eerder as om af te breek. So om aan die brand te steek en met klippe te bestook is ook nie die volgende verset-opsie nie. Om te vlug gaan dalk jou lewe gemakliker maak, maar ons voorouers, wat bloed vergiet het vir ons vaderland, het ons anders geleer. Nou wat bly oor?

My verset is om vir die regering te wys dat hy irrelevant is. Hy wil niks doen nie, so die gemeenskap sal self. Ja, dit veroorsaak soms innerlike konflik om deur my nek aan belasting te betaal net sodat die ontvangers daarvan in hul spogmotors kan rondry, terwyl ek die werk moet doen. Máár dit is ook bevrydend om dit bloot te stel dat die regering al hoe minder relevant word en dat die krag in ons gemeenskappe, en in die God wat ons dien, lê.

  •  
  •  
  •  
René Krüger Deur René Krüger


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close