Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM): Lank sal sy lewe!

Ek staan verstom. Nathi Mthetwha, die minister van sport, kuns en kultuur, is van plan om die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se naam te verander. Ek, wat só graag in hierdie lieflike moedertaal van my skryf, het eintlik nie woorde nie.

 

Ek kan nie help om myself die volgende af te vra nie: “Wie doen dit?!” Wie gaan steel ’n plek wat iemand anders se identiteit en erfenis vier, en gaan plak ’n ander se naam daarop? Dit sal tog nie die simboliek verander nie. Dit sal tog nie die geskiedenis verander nie. Dit sal tog nie die eienskappe van Afrikaans óf haar plek in die samelewing verander nie.

 

Volgens minister Mthetwha is sy beweegrede inklusiwiteit. Ek wonder of hy na homself geluister het toe hy dit hardop gesê het? Afrikaans is seker een van die mees inklusiewe tale in Suid-Afrika. Dit word deur meer as een ras uit verskeie sosio-ekonomiese omstandighede gepraat. En die storie wat dié monument vertel, bevestig juis die kleurryke mengelmoes waaruit Afrikaans haar oorsprong het.

 

Ek stem saam dat verskillende taalgemeenskappe hande moet vat om meertaligheid te bevorder en dat hulle wedersydse respek vir mekaar moet betoon. Moedertaalonderrig is die boustene vir groei. Dit is goed vir elke kind, ongeag sy of haar velkleur. Dit is dus vir my verbysterend dat die visie om ander tale se uniekheid en identiteit deur verdere ontwikkeling en die oprigting van soortgelyke monumente te vier, ontbreek én dat daar eerder op die afneem van ’n ander monument gefokus word.

 

Hierdie nuutste (uit ’n rits) truuks van die minister, laat ’n bitter smaak in die mond. In werklikheid ontken hy die belangrikheid van my moedertaal en die plek wat dit in ons land volstaan. Op ’n goedkoop wyse forseer hy dit op ’n ander groep af, wat verdien om hulle eie herkoms in hul eie kollig te mag vier. Hy maak dus net die Afrikaanse taalgemeenskap kwaad en verneder ander taalgemeenskappe met hierdie waansinnigheid.

 

Dit wil vir my voorkom of mnr. Mthetwha sy mandaat misverstaan; of hy meen dat nasiebou ’n “vat by die een en gee vir die ander”-ding is. Maar in werklikheid pleeg hy net ’n onreg teen elke gemeenskap. Hy vervreem en veroorsaak verdere verdeeldheid.

 

Op 28 Mei is daar geleentheid vir openbare deelname. Mag elkeen wat kan, daar wees. Mag elkeen wat 'n stem het, dit in Afrikaans laat hoor. Mag ons elkeen die mag van oortuiging hê om op te staan vir dít waarin ons glo, te beskerm wat ons het en te veg teen die onteiening van dít wat vir ons kosbaar is.

 

Lank lewe Afrikaans!

  •  
  •  
  •  
Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close