Algemeen, Nuus, Politiek -

Die ANC is lelik en maak Suid-Afrika lelik.

As kind is ek geleer om nooit onder enige omstandighede na iemand as lelik te verwys nie.  Die grondliggende rede daarvoor kon ek maklik verstaan: Almal is deur God geskape en om God se werk lelik te noem is verkeerd, of soos ek later sou leer, lasterlik. Geen mens kan dus op grond van uiterlike voorkoms deur 'n toegewyde gelowige as lelik beskryf word nie – dit verstaan ek. 'n Mens kan egter na my mening na 'n gebou of 'n voorwerp, of na iemand se karakter verwys as lelik, en ons doen dit dikwels. As 'n mens egter iets as “lelik” wil beskryf, moet jy weet wat “mooi” is, met ander woorde wat skoonheid is.

Om die opmerking “Die ANC is lelik” te kan maak en daarbenewens ook: “Die ANC maak Suid-Afrika lelik,” moet ek tog weet wat die term “lelik” konstitueer, en wat die teenpool “mooi” konstitueer.

Die boek, Meesterschap, deur Paul Donders en Chris Sommer stel 'n vaste maatstaf vir skoonheid – die skrywers voer aan dat 'n “voorwerp”– 'n skildery of gedig of draaiboek van 'n rolprent, of selfs 'n optrede gemeet kan word aan die hand van vyf vereistes vir skoonheid:

  1. Verbetering: Is dit waarna die mens kyk, luister, of ervaar, besig om daardie mens se lewe beter te maak?
  2. Innovering: Is hierdie “voorwerp”, hetsy optrede, kunswerk, of wat ook al, besig om spanning tussen ou, getoetste idees en nuwe uitdagende idees te bewerkstellig wat tot nuwe oplossings kan lei?
  3. Inspirasie: Daag hierdie voorwerp nie net die norm uit nie, maar ook die waarnemer of aanskouer daarvan om beter te wees, na meer te strewe?
  4. Estetika: Donders en Sommer is onderskeidelik 'n argitek en 'n juwelier en vir hulle hou estetika direk verband met simmetrie, balans en orde.
  5. Waarde: Iets wat mooi is, dra dikwels waarde. Ons is bereid om baie daarvoor op te offer. 'n Mooi verhouding verg baie tyd wat ons met graagte opoffer. 'n Mooi kunswerk, gebou of musiekstuk hou gewoonlik groot finansiële waarde in.

As ek dan die opmerking maak “Die ANC is lelik” dan doen ek dit nie uit kwaadwilligheid of bitterheid nie; ek doen dit omdat die ANC aan die hand van hierdie maatstaf willens en wetens nie aan die maatstaf voldoen om as mooi of suiwer beskou te word nie.

Wat verbetering betref, hoef ons maar net aan Eskom te dink. Die ANC-beheerde regering het Eskom se werksmag verdriedubbel, maar het nie werklike kapasiteit bygevoeg nie. Die beplande bykomende kapasiteit wat deur die aanlegte by Kusile en Medupi geskep sou word, het ons nie net met enorme skuld gelaat nie; dit is ook jare ná die beplande voltooiingsdatum nog nie naastenby voltooi nie. ’n Mens dink aan die miljarde rande wat nie na landsburgers toe vloei nie (veral nie na uiters behoeftige landsburgers toe nie) en hier doem projekte soos die Estina-melkery by 'n mens op. Die ANC is nie aktief besig om ons lewens te verbeter nie.

Die tweede deel van my opmerking, naamlik dat die ANC Suid-Afrika lelik maak, gaan hand aan hand daarmee. Ons verloor die vermoë as land om te verbeter omdat ons sonder krag nie werklik kan produseer of kan vooruitgaan nie.

Die tweede maatstaf is innovering. Innoverende idees is nuwe idees wat die maniere van die verlede openlik uitdaag. Die eerste persoon wat 'n vis met 'n lyn wou vang eerder as met 'n spies, het die status quo uitgedaag en het waarskynlik weerstand gekry, maar innovering het ongetwyfeld plaasgevind. Die ANC, daarenteen, is nie besig om te innoveer nie; inteendeel, hulle kan nie eens die status quo handhaaf nie. Intern sien ons hoe hul leiers steeds na bewering op grond van gekoopte stemme verkies word – nie op grond van deugde, goeie beginsels of 'n bewese geskiedenis van prestasie nie. Op grond van geld. Hulle sukkel om net 'n webwerf aan die gang en aanlyn te kry en hul primêre verkiesingsveldtogtaktiek is steeds die uitdeel van T-hemde en kospakkies, presies soos wat dit in 1994 was. As land word ons ook lelik, want wie kan innoveer as arbeidswetgewing en regstellende aksie die doelpale by elke moontlike geleentheid verskuif en dit al hoe moeiliker maak vir suksesvolle besighede om wins te maak?

Die derde maatstaf vir skoonheid is inspirasie. Hierdie punt sal ek redelik vinnig aan die hand van 'n paar voorbeelde hanteer. Watter tipe inspirasie kan ons daaruit put as die meer as 700 aanklagte teen Jacob Zuma jare lank stilstaan? Watter tipe inspirasie bied dit ons as ons moet hoor dat Cyril Ramaphosa se seun R2 miljoen by Bosasa gekry het, of dat Ace Magashule 'n landboukollege se kalfies laat slag het vir 'n ANC-funksie waar hy groot kokkedore wou beïndruk? Watter tipe inspirasie behoort ons daaruit te put dat sy kalfieslagtery hom toe wel daardie bevordering besorg het? Nóg die ANC as organisasie, nóg die land wat aan sy korrupte onbevoegdheid blootgestel is, word deur enige van hierdie voorbeelde geïnspireer.

Volgens Sommer en Donders is die vierde maatstaf vir skoonheid estetika. Balans, simmetrie, en dalk die manier hoe alle elemente saamgevoeg word tot een, sorg vir daargestelde eenheid. Hier moet 'n mens dalk op 'n syspoor trap: Kan die regeer van 'n staat en die bestuur van 'n land se hulpbronne werklik as kuns of as mooi beskryf word?  Alhoewel die Duitse leier Otto von Bismarck gesê het dat politiek geen wetenskap is nie, maar eerder kuns, weet ek eerlikwaar nie, maar ek weet dat riool wat deur 'n skool se speelgrond loop esteties lelik is. Ek weet dat die Vaalrivier se visse wat vrek as gevolg van riool in die water, onooglik is. Ek weet dat dorpies wat leegloop omdat dit weens swak dienslewering onmoontlik geword het om besigheid daar te doen 'n gemiste noot in die simfonie van selfs die slegste regering sal wees.

Die laaste maatstaf vir skoonheid is waarde – hoe waardevol is daardie “objek” waarna gekyk word – in hierdie geval die ANC. Hier vind ons die paradoks dat die ANC as 'n kollektief 'n uiters hoë batewaarde het as daar gekyk word na die bankbalanse van al sy bestuurslede en grootkoppe. Behoort hierdie rykdom nie as waardevol vir Suid-Afrika beskryf te word nie? Die hele punt van iets wat waardevol is, is egter juis dat die “objek” nie sy waarde verloor nie. Die ANC het nie strukture daargestel wat ruimte vir ons gee om ons eie rykdom te vermeerder of waarde toe te voeg nie. Hy het ook sy eie waarde, wat sowel sy morele struktuur as sy funksionele struktuur betref, met 'n rits swak leiers en 'n reeks swak besluite die grond ingedryf.

As ons dan na al hierdie dinge saam kyk; as ons kyk na alles wat die ANC in die negatiewe sin van die woord reggekry het en in die positiewe sin van die woord nie reggekry het nie, dan kan ons nie anders nie as om eerlik te sê: Die ANC is lelik, en dit maak Suid-Afrika lelik.

  • 239
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close