Algemeen, Gemeenskappe, Nuus, Politiek -

Die ANC se eie DNS plunder hulself en ons land uitmekaar

Dit was skokkend! Boewe wat 'n Makro stroop. Hulle storm met televisiestelle uit asof dit hulle s'n is. Nog 'n boef gryp 'n ander boef se TV en dit op kamera. Dit is chaos, buite ons verwysingsraamwerk. 'n Ander boef sê aan 'n nuuskanaal dat dit vryheid was. Vryheid!

Alles natuurlik vir Zuma – Zuma die groot plunderaar. Hy het sommer 'n land geplunder. Die seun van koning Plunderaar, Duduzane Zuma, vermaan die plunderaars om verantwoordelik te plunder. Wat op dees aarde is verantwoordelike plundering? Dit is reg om te plunder, dit moet net verantwoordelik gedoen word.

Zuma se groot woordvoerder is Mzwanele Manyi. Hy word self betrek by Gupta-plunderaktiwiteite. Op 12 Augustus 2007 het hy in 'n onderhoud met Sunday Independent die volgende oor sy “struggle”-verlede gesê: “We would stop a truck carrying milk and say, ‘If we loot this truck, who loses, you or the white man?’ We enjoyed this spree – until the Hippos came.” Dit was kriminele plundering onder die edele naam ‘struggle for freedom’. Die ANC het plundering oor baie jare deel van sy DNS gemaak. Plundering was geregverdig ter wille van die stryd om vryheid. Plunder en vryheid het sinonieme geword. Vandag word steeds geplunder as daar geprotesteer word, want dit is die ANC se DNS. Die ANC het dit in hul ondersteuners ingeplant. Die ANC se eie DNS plunder hul land en ons land uitmekaar.

Die plunderaars het ons veiligheid bedreig. Vir ons is orde en veiligheid van kritieke belang.

Twee dinge het spontaan gebeur. Die gemeenskap het self begin organiseer en ons het dadelik gevra: hoe kan ons help? Dit is óns DNS – ons sal self.

AfriForum se buurtwagte het dadelik ingespring en saam met ander strukture, insluitende die polisie, begin om ons gemeenskappe te beveilig.

Solidariteit Helpende Hand se strukture landswyd het ingespring en begin help. Kos word nou afgery en afgevlieg.

Die krag van die gemeenskap was die hoop in die chaos.

Op die kort termyn moet ons die Solidariteit Krisisfonds sterk maak sodat ons die nood in KwaZulu-Natal kan verlig. Maak jou bydrae hier: https://corona.org.za/donasie

Op die langer termyn moet ons op groot skaal deur ons gemeenskapstrukture organiseer.

Hoe beter ons georganiseer is, hoe veiliger is ons.

Elkeen van ons moet minstens by die plaaslike AfriForum-buurtwag of by 'n ander plaaslike gemeenskapbeveiligingstruktuur inskakel.

Elkeen van ons moet by ons naaste Solidariteit Helpende Hand-tak inskakel sodat ons vinnig en effektief kan help.

Elkeen van ons moet by 'n Solidariteit Gilde inskakel sodat ons netwerke kan vestig wat daar is vir mekaar.

Elkeen van ons moet by ander plaaslike strukture, insluitende die kerk, inskakel sodat ons ons gemeenskap en gemeente kan sterk maak.

Ons kon die afgelope week sien hoe kragtig 'n gemeenskap kan wees. In 'n swak staat is 'n sterk gemeenskap van kritieke belang.

Foto bron: Pawel Janiak | Unsplash

  •  
  •  
  •  
Dr. Dirk Hermann Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close