Algemeen -

Die ANC ‘struggle’ om te regeer omdat hy stééds ‘struggle’

Baie van Suid-Afrika se probleme sedert die ANC se bewindsaanvaarding 23 jaar gelede spruit uit die feit dat hy nog nooit die volledige oorgang van ’n bevrydingsbeweging na ’n volwaardige politieke party gemaak nie. In Afrika het hierdie selfde praktyk die vasteland duur ná die einde van kolonialisme gekos.

 

Die eertydse bevrydingsbewegings van Afrika het juis aan bewind gekom vanweë hul teenstand teen kolonialisme, rassisme en onderdrukking deur koloniale magte. Die probleem was dat hulle in hul dweepsieke ywer aanhou vyande van hul voormalige onderdrukkers gemaak het, sodoende al die vaardige wit mense uit hul lande gedryf het en daarmee saam ook die vaardighede om hul lande werklik suksesvol te maak of te hou. Hulle het terselfdertyd ook vir hulself die Godgegewe reg toegeëien om vir ewig te regeer en dit het tot groot ellende, dwingelandy en agteruitgang op die vasteland gely. Die Party (doelbewus bokas geskryf) sal dus ook die hoofnarratief vir ewig skryf en enigiemand  wat hulle teengaan – nie net die wit koloniste nie – is wreed onderdruk. In Ethiopië het dit in die 80’s tot een van die grootste mensgemaakte krisisse ooit gelei onder Mengistu Haile Mariam en sy Marxistiese organisasie, die Derg. Mosambiek en Zimbabwe, waar radikale vryheidsbewegings en leiers al vir dekades onophoudelik regeer, het van die laagste gemiddelde lewensverwagting en BBP per capita op die planet en menslike ontwikkeling is daar ’n oksimoron. Hierdie eertydse bevrydingsbewegings was by uitstek korrup, onverdraagsaam, onderdrukkend en het te lank regeer. Dis ook hoekom vryheidsoorloë teen koloniale moondhede amper sonder uitsondering deur intense burgeroorloë in eertydse kolonies in Afrika gevolg is.

 

‘n Ander soort bevryder

 

Voordat die ANC die regeringsleisels oorgeneem het, was daar ’n wydverspreide verwagting onder ontleders, buitelandse regerings in die Weste, lede van die destydse Nasionale Party en ook die wit publiek in Suid-Afrika dat die ANC anders sou wees as die ander nare regerings wat elders teen onderdrukking geveg het en toe self onderdrukkers geword het. ’n Beweging, organisasie of party se vroeë intensies en optrede is egter nooit genoeg om hulle behoorlik te takseer nie. Baie partye wat mag van nuuts af bekom is gewoonlik grootmoedig en tegelykertyd versigtig omdat daar gewoonlik ’n oorlog geveg is of intense onderhandelinge gevoer is, die mag amptelik maar nie heeltemal nie oorgedra is nie (in Suid-Afrika was die wittes byvoorbeeld nog sterk in beheer van die polisie en veiligheidsmagte nadat die ANC aan bewind gekom het) en daar versoenend opgetree moet word. Dit is eers later wat die krake duidelik word en die keisers kaal is.

 

In Zimbabwe het pres. Robert Mugabe uiters radikaal opgetree toe die oorlog teen die wit minderheidsregering geveg is – en dit het die oorlog verleng – maar hy het groothartige en altruïstiese uitlatings oor om ’n president vir almal te wees, gemaak toe hy in 1980 president geword het. Sy latere optrede was weer ’n drastiese ommeswaai gewees en dis geregverdig om aan te voer dat hy nooit werklik groothartig was nie. Nietemin, in Suid-Afrika was oudpres. Nelson Mandela die Mugabe van 1980 en hy het as ’n voorbeeld van seldsame staatmanskap in Afrika die tuig ná vier jaar neergelê – en hy het baie rede gehad om bitter te wees. Mugabe die vryheidsvegter egter nooit van sy amp in 37 jaar afstand gedoen nie en regeer vandag steeds terwyl gewone Zimbabwiërs letterlik en figuurlik die prys vir sy wanregering betaal.

 

Dubbele karakter of dubbelhartig?

 

Die ANC se nuutste uitlatings in sy besprekingsdokument voordat sy beleidskonferensie in Junie plaasvind, dat hy sy dubbele karakter as bevrydingsbeweging en politieke party wil behou, is ’n treffende leitmotief in hierdie tydvak. Dit verg groter debat en ontleding. Niemand kan dit ooit van die ANC wegvat dat dit ’n bevrydingsbeweging is nie – selfs nie die waarskynlike aanspraak dat dit die vernaamste een is nie. Of hulle dit nou wil wees of nie, hulle is ’n bevrydingsbeweging. Niemand kan of wil dit van hulle wegneem nie want dit word deur feite en die geskiedenis ondersteun.

 

Die probleem is egter dat hulle hulself as die enigste redders van Suid-Afrika, en vernaam die swart bevolking, wil voorgee. Hulle gaan selfs so ver as om enige wit persoon of swart mense van ander swart organisasies heeltemal verdag te maak en swart te smeer as hulle voorgee om ook ’n bydrae te gelewer het. Die feit is ook dat hulle nie Suid-Afrika alleen van apartheid bevry het nie.

 

Die ander probleem is dat hulle hul status as bevryders verhef bo dié van ’n normale politieke party en regering wat nou namens almal in die land moet regeer. Nie net skeep hulle minderhede af nie, maar maak doelbewus vyande van hulle by wyse van hul retoriek, optrede en beleide. Die ANC het nog nooit die geveg laat vaar nie en dit is duidelik vir enigiemand wat hul dokumente gadeslaan. Eerder as wat hulle oorlog teen armoede en wanhoop verklaar en van oral die bereidwilliges se hulp betrek, word mense en groepe die vyande gemaak. Wit mense, boere, die sakesektor, die Weste, clever blacks en nog vele meer kry knaend die skuld vir die land se huidige probleme en word terselfdertyd geteiken vir vergelding en verdagmakery. Vir hom het die struggle nog nooit geëindig nie.

 

Die ANC tree op asof hulle steeds in opposisie is en nog nooit werklike mag bekom het nie, terwyl hulle in der waarheid die land al vir 23 jaar regeer. Terwyl meeste Suid-Afrikaners, wat weliswaar nog nooit vreeslike kohesie as nasie getoon het nie, in hul daaglikse handel en wandel ’n verrasend groot verdraagsaamheid jeens mekaar toon, probeer die ANC om die slagorders van klasse mense en rassegroepe teen mekaar op te stel.

 

Dis nie ’n nuwe bedreiging in Afrika of elders nie, want sodra ’n bevrydingsbeweging se steun onvermydelik daal en hy op groot skaal misluk – soos wat nou met die ANC gebeur – dan wend hy hom tot desperate taktieke en etniese mobilisering. Dit was die geval met Zanu-PF, Frelimo en nou ook die ANC. En hoe meer die ANC vasgevang in die struggle bly en nie volwaardig begin regeer nie, hoe meer struggle hy om die land vorentoe te laat beweeg en vir sy eie ondersteuners die ekonomiese vrugte van vryheid te gee. Die ANC kan dus gelyktydig ’n bevrydingsbeweging en ’n politieke party wees, maar vir Suid-Afrika en die party om vorentoe te beweeg sal dit meer op die hede as die verlede moet focus – en aanpas.

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close