Algemeen -

Die belangrikste lesse wat ek van my reis met tipe 1-diabetes geleer het

Tipe 1-diabetes wat as 'n outo-immuunsiekte gekategoriseer word, openbaar homself aan my op 4-jarige ouderdom toe my witbloedselle wanfunksioneel was en hulle my pankreas tydens 'n ernstige geval van Waterpokkies aangeval het. My pankreas het sy funksie verloor om insulien te pomp en my glukosevlakke te reguleer, en die diagnose was finaal.

Na 'n reis van 20 jaar met tipe 1-diabetes kry ek steeds vrae soos: “Is dit ernstig?” óf “Kan dit genees word?” Dis belangrike vrae wat eers aandag moet geniet, sodat jy as leser my storie kan verstaan. Ja, dit is ernstig en lewensgevaarlik en nee, dit kan nie genees word nie. Ek dra 'n insulienpompie saam met my waarna ek altyd verwys as my pankreas buite my lyf. Ek dra ook 'n sensor op my arm wat my bloedsuikervlakke meet en dit na my pompie toe stuur. Om my glukosevlakke dop te hou, kalorieë te tel (‘carb-counting’), insulien tydens etes in te spuit, my pompie se insulien te ruil wanneer nodig en dan my sensor wanneer nodig is te ruil, is deel van my daaglikse roetine.

Ek kry myself nie jammer nie en ek glo ook nie dat tipe 1-diabetes enige beperkings op my plaas nie. Op skool het ek aan 'n verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite deelgeneem. Ek doen steeds modelwerk, selfs ná skool, met pompie en al, en vandag kyk ek terug op 'n suksesvolle universiteitsloopbaan. So nee, dit het my nie een oomblik gekeer om my volle potensiaal te bereik nie.

Die belangrikste lesse wat ek van my reis met tipe 1-diabetes geleer het en steeds tot vandag toe leer, is dat dit nie 'n straf is nie. Ek het 'n keuse deur watter lens ek daarna kyk – dit kan of 'n positiewe, of ’n negatiewe lens wees. Uitdagings bou karakter, en hindernisse maak ’n mens nederig en verdiep ’n mens se besef van jou afhanklikheid van God. Ek kan dit wegsteek of ek kan met selfvertroue in dit loop, en daar waar ek my pompie op loopplanke of skoolgronde by die werk dra, kan ek dit as bewusmakingsgeleentheid gebruik om boelies, wat ander boelie omdat hulle “vreemd” of “anders” is, aan te spreek.

Ek is vandag wat ek is as gevolg van God se genade en kan met alle eerlikheid getuig dat Hy my tipe 1-diabetes nog net ten goede in my lewe gebruik het. Wat ook al jou hindernis is, mag dit nooit vir jou ’n beperking wees nie, maar eerder 'n rede wees om weer te probeer en aan te hou. Jou storie kan een wees wat ander inspireer.

  •  
  •  
  •  
Deur Zoné Oberholzer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close