Algemeen -

Die beste gevoel ter wêreld

Ek ag myself as uiters geseënd in die lewe en is baie trots op wat ek al bereik het.

 

Ek is met 'n wonderlike vrou getroud wat elke liewe dag vir my spesiaal maak en my altyd in die beste van die lewe en die huwelik laat glo. Ek het 'n gesonde brein en liggaam en ek ervaar elke dag 'n nuwe verrassing uit die Here se skatkamer. Ek het al vyf grade verwerf, waarvan vier nagraadse kwalifikasies is en twee met lof geslaag is. Ek is geseënd met hope energie, vindingrykheid, dryfkrag, goeie intelligensie en 'n hele rits voortreflike vaardighede. Daardeur het ek al hoë professionele hoogtes bereik en ek is vas oortuig dat ek nog baie in my lewe en loopbaan gaan bereik. Bowenal is ek 'n Christen en my geloof gee my altyd rede tot hoop – al lyk dinge in die land redelik wanhopig en donker.

 

Ek het uiteraard ook oorgenoeg probleme, teleurstellings, vrese, pyn en onsekerhede in my lewe – nes alle ander.

 

Ek is ook met 'n wonderlike, vierjarige dogtertjie geseënd en daarmee kom ek by die kern van hierdie artikel. Ek het vandag gaan kyk hoe sy haar laaste gimnastiekles vir die jaar, en ook haar gimnastieksertifikaat, by die kleuterskool kry. Dis die eerste keer wat ek gaan kyk wat hulle in die gimnastieklesse doen, hoewel sy baie ywerig is om haar vaardighede by die huis op die banke, beddens en toonbanke ten toon te stel! Sy was geweldig opgewonde en kon nie wag om my te wys wat hulle presies doen nie. Dit was asof sy als gedoen het net om my te beïndruk. Terwyl ek daar gesit het en haar dopgehou het, was dit asof my beker oorgeloop het, so asof als volmaak is en ek die trotsste pa ooit is. En dié vreugde is heeltemal gratis sonder dat ek iets van my kant af daarvoor moes gee of betaal.

 

My vrou het vroeër vanjaar 'n miskraam gehad nadat ons vir jare deur allerlei prosedures moes gaan om te probeer om nog kinders te hê. Ons berus in die feit dat ons als in ons vermoë gedoen het om nog kinders te kry. Deur hierdie prosedures het ons mense ontmoet wat nog nie eens een kind het nie en dus so hoop om net enetjie te hê. Van ons nabye vriende en familie het al met dieselfde probleme te kampe gehad (of het nog steeds) en ek weet watter hartseer en pyn dit in lewens en huwelike kan veroorsaak.

 

Dit als het hierdie alledaagse oomblik vir my in groter en skerper perspektief gestel en my net weer laat besef watter ontsaglike seën jou kinders vir jou is. Op daardie oomblik was daar vir my geen beter gevoel nie as my dogtertjie wat haar als gee om my te beïndruk en al my aandag net vir haarself wou hê. Ek is 2 m lank en weeg soveel soos 'n Springbok-voorspeler, maar die grote man was skoon aangedaan toe ek na die tyd moes terugry werk toe. Ek wil daardie oomblikke vir ewig vries, want ek weet dit gaan nie vir ewig hou nie. Kinders raak groot, hulle trek weg en hulle begin hul eie lewens. Nes ons.

 

Dit is nie dat al die ander positiewe aspekte en seëninge in my lewe nie ook belangrik is nie – inteendeel – maar op daardie oomblik het ek net weer besef hoe belangrik en spesiaal ons tyd saam met ons jong kinders is. Ons bestee gemiddeld sowat 90% van die tyd wat ons ooit saam met ons kinders sal bestee, saam met hulle voordat hulle 12 word. Ondanks my (gereelde en selferkende) humeurigheid en ongeduld met haar, wil ek dit die beste jare van ons lewens maak. Sy moet dit nooit vergeet nie en ek sal beslis nie. Om vir hulle goed te koop is belangrik, nodig en lekker, maar hulle begeer jou aandag en liefde meer as enigiets anders.

 

Desembers is juis die volmaakte tyd om soveel tyd en aandag moontlik aan hulle te gee. Gryp dus saam met my die kans aan om hierdie feestyd vir jou kinders spesiaal te maak deur soveel moontlik tyd en aandag aan hulle te gee. Gaan pak 'n avontuur saam aan en skep blywende herinneringe. Begin sommer vandag!

  • 20
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close