Wanneer ’n mens aan die kantoor of werkplek dink, is oefening nie die eerste gedagte wat by jou opkom nie. Die meeste van ons kom soggens op kantoor, sak agter die rekenaar in en kyk nie van die skerm op totdat jy die middag huis toe gaan nie. Soms eet jy sommer jou middagete ook agter jou lessenaar.

As ’n werkgewer oefening by werkplek aanmoedig, kan dit ’n baie voordelige uitwerking op die werknemers hê. Wanneer ’n mens oefen, word endorfiene vrygestel wat groter selfvertroue, meer energie en ’n positiewe houding meebring. Werknemers wat gereeld oefen, is ook minder geneig om aan spanning te ly en is oor die algemeen meer gesond as werknemers wat nie gereeld oefen nie. Die aanmoediging van oefening in die werkplek kan dus lei tot minder afwesigheid onder die werknemers.

Daar is talle maniere waarop organisasies hul werknemers kan aanmoedig om gesond en fiks te bly ongeag die grootte van die organisasie. Alhoewel die meeste organisasies nie met Google, wat 'n gimnasium vir hul werknemers ingerig het, kan kompeteer nie is daar wel eenvoudige, laekoste-maniere om fiksheid in die werkplek te bevorder. Bestuur kan byvoorbeeld die drukkers ver van die lessenaars af posisioneer, of 'n drafklub begin en die werknemers aanmoedig om as 'n span aan kompetisies deel te neem of die klub kan ook kompetisies tussen die verskillende departemente reël met 'n wisseltrofee wat op die spel is.

Deur oefening en fiksheid aan te moedig, wys bestuur nie net dat hulle omgee oor die werknemers se welstand nie, maar dit is ook 'n baie goeie manier om moraal in die werkplek 'n hupstoot te gee want dit kan ook bydra tot spanbou en 'n gelukkige werksomgewing skep.

  •  
  •  
  •  
Deur Wilmarie Brits


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close