Algemeen -

Die boelie steel die kollig

My vrou kyk my gisteraand bekommerd aan: “Die Mafikeng kampus brand.” In daardie stadium was ek toe al vir ’n geruime tyd bewus daarvan en ek was ook reeds besig om per e-pos met kollegas in dié verband te kommunikeer. My vrou wou toe weet hoe hierdie betogers daarmee wegkom; hoe hulle dit regkry. Hoekom keer niemand hulle nie? Hoekom berig die media net oor die een kant? Is die betogers regtig studente?  Is hulle op die kampus om te swot?

Dit is die vrae wat by die meeste normaal denkende Suid-Afrikaners opkom. Die antwoorde wat tot ’n begryp lei, lê dalk elders as waar ons daarna soek.

Net daar onthou ek die boelies op skool en sien ek die korrelasie raak. Daar is ’n skool in die stad met 1 200 kinders. Uit die 1 200 is daar 50 groot boelies en al die ander weet van hulle.  Sodra die 50 boelies die geleentheid kry om ’n ander leerling by te kom en te boelie, drom almal saam om dit te sien. Almal praat daarvan. Almal bespreek dit. Maar nie een van die ander leerlinge doen iets daaromtrent nie. Die hoof vind later daarvan uit, maar het toe nie konkrete bewyse nie. Hy sal die boelies moet betrap, maar hy is ook besig met ander sake. Die boelies kom elke slag daarmee weg.

Boelies skep sensasie. Boelies het bepaalde denkwyses en het nou ‘n gevestigde patroon geraak.  Jy sal hulle nie sommer verander nie, maar jy moet hulle in ’n stelsel probeer akkommodeer.  ’n Boelie kan ophou boelie as jy hom sekere verantwoordelikhede gee.

Iemand het nou die dag ’n waar ding op Twitter “getwiet”. Hy het “getwiet” dat die antwoorde op die kampusgeweld eintlik op die kampus self lê. Daarmee bedoel hy dat kampusse die leefwêreld en werkomgewing van die land se hoogs gekwalifiseerde mense is. Van alle mense is hulle veronderstel om die antwoorde te hê. Daar word gedurig navorsing gedoen oor al hierdie kwessies wat hulle nou om ons afspeel. Waarom pas hulle dié navorsing nie in die praktyk toe nie? Dit wat nou gebeur, is tog sekerlik nie ’n nuwe kwessie nie.

Ek sukkel om in my kop telling te hou van die punte waarmee die boelies nou al voorloop en met hoeveel punte die kampusbesture besig is om te verloor. Die ding wat my egter die meeste pla, is dat as die boelies te veel raak, die slagoffers begin ingee en ’n vreeslike ding dan gebeur.

Kampusbesture, die antwoorde lê in jul geledere opgesluit. Gaan dink ’n bietjie daaroor na. Gaan stof die navorsing af. Ons kon nog altyd dinge regkry en vermag danksy ons akademici se bydraes. Dit moet weer gedoen word.

 

  •  
  •  
  •  
Deur juran


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close