Algemeen -

Die dag toe my kind weggeraak het

Geen ouer wil so nagmerrie-oomblik beleef nie.

Jy is by 'n vakansieoord. Die kinders het sopas geswem en jy kom terug in die woonstel om hulle droog aan te trek, kos te gee en almal rustig te kry. Dan kyk jy om jou rond: Waar is sy? Sy was dan nou net nog hier!

Een sekonde wat jy nie mooi dopgehou het nie… Dit is hoe vinnig dit gebeur.

“Is sy by jou?” Nee. “Is sy langsaan?” Ook nie.

Die twee woonstelle langs mekaar is bespreek vir 'n wegbreek saam met familie. Maar nee, sy is ook nie langsaan nie. Sy is nêrens nie.

Jy roep haar naam weer en weer en wéér. Geen antwoord.

Jy hardloop by die trappe af. Jy roep haar naam soos 'n besetene van onder af terwyl jy opkyk na die vier vloere van die woonstelblok. Jy soek oral waar jy kan. Jy sien nie haar geliefde klein figuurtjie nie.

Sy is net weg.

Jy dink aan al die onrusbarende moontlikhede, die nuus is daagliks vol daarvan. Vreeslike, onnoembare gedagtes.

Jy hardloop van een punt na die volgende. Jy kyk in die hysbak, die swembad. Jy kyk by die venster uit om te sien of sy nie dalk daar uitgeval het nie. Jy weet nie wat om te dink nie.

Jy is bang en jy raak al hoe banger. Jy bid: Asseblief Here. Asseblief, laat ons haar kry.

Jy vra vir almal: “Het julle nie dalk 'n klein krulkop dogtertjie gesien nie?” Daar word net koppe geskud.

Waar kan sy wees?

Jy roep van onder af vir jou mense: “Het julle haar al gekry?”

Nee.

Jy hoor hoe hulle ook heeltyd haar naam roep. Geen antwoord. Net stilte.

Aggenee!!! Hoe het dit gebeur? Hoe is dit moontlik? Dit kan tog nie wees nie?!

Selfverwyt en nogmaals selfverwyt. Al die: “Ek moes…”-gedagtes maal deur jou kop.

Jy hardloop steeds verwoed rond. Jy kyk oral. Maar niks.

“Hulle het haar gekry!” sê die mense op die tweede verdieping toe jy weer om die hoek kom. Hulle het die hele tyd die drama dopgehou.

“Dankie!”

Jy hardloop by die trappe op. Dankie tog! Dankie tog! Dankie tog! 'n Dankie vir elke trap. Jou bene voel lam en bewerig as jy eindelik by die woonstel instap.

Jy is só verlig as jy in haar ogies kyk – 'n verligting wat jy nooit volkome sal kan verwoord nie. Nooit.

In daardie tien minute het jy tien jaar ouer geword.

“Waar was sy?”

Op die bure se bed – waarskynlik gedink dit is ons woonstel se slaapkamer. Die skoonmakers was vroeër daar en het die deur oopgelos. Sy móés ons hoor roep het. Lê toe ewe armpies oor mekaar gevou met ogies toe en maak of sy slaap.

Die klein rakker! Salig onbewus van die warboel emosies wat sy ontketen het.

Dankie tog haar pa het daar gaan kyk in 'n laaste desperate poging om haar op te spoor.

Só dankbaar was jy in jou lewe nog nooit.

Dit is net genade van Bo. Al wat jy kan doen is om 'n duisend keer dankie te sê.

Dit kon so anders gewees het…

  •  
  •  
  •  
  •  
Carina Bester Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close