Algemeen -

Die EFF: “Clicks-bait”-meesters

Deur Reon Janse van Rensburg

“Clickbait”, oftewel 'n klikstrik, soos dit pittig in Afrikaans bekend staan, is digitale inhoud, meestal fopnuus, waarvan die hoofdoel is om aandag te trek en besoekers aan te moedig om op 'n skakel na 'n bepaalde webblad te klik.

Dié soort inhoud is orals op sosiale media en die internet te sien. Dit word soos soetkoek gedeel en opgeëet, sonder dat iemand ooit wonder of die oorsprong en inligting van die sogenaamde nuus wel akkuraat of waar is nie. Die skepper of vervaardiger van hierdie tipe inhoud het slegs een doel – om jou aandag te trek.

Die inligting in 'n klikstrik het geen waarde nie en kan selfs gevaarlik wees.

Fopnuus, oftewel artikels wat opsetlik geskryf word om valse nuus te versprei, is ontwerp om mense se persepsie van die werklikheid te manipuleer. Dit word ook gebruik om die politiek te beïnvloed en advertensies te bevorder. Dit het egter ook  'n metode geword om sosiale konflik aan te wakker en te versterk.

Nuus wat onwaar is en wat lesers opsetlik mislei, veroorsaak toenemende wantroue onder mense. In sommige gevalle lei hierdie wantroue tot protesaksies en geweld oor denkbeeldige gebeure. Dit laat die grond onder die samelewing wegkalwer en draai buurman teen buurman.

Waarom sou iemand dit doen?

Mense, organisasies, politieke partye en regerings gebruik fopnuus om sosiale konflik te bewerkstelling, om mense se geloof in die demokratiese proses af te breek, asook om die vermoë van mense om saam te werk, te ondermyn. Dit trek mense se aandag van ander belangrike kwessies af wat dringende aandag verg en veroorsaak dat dié kwessies onopgelos bly.

Die EFF het hierdie week bewys dat hulle inderdaad 'n politieke klikstrik-, oftewel “Clicks-bait”-party is (my woordspeling is opsetlik). Hulle vermy rasionele politieke ingryping en volg eerder die makliker en/of populistiese uitweg na betrokkenheid deur onverantwoordelike optredes te kies om gesien en gehoor te word. Die ergste is dat hierdie politieke party deur sy optrede en aanhitsery tot plundery en geweld, jou vir nog meer laat klik het. Hulle het jou gebruik en jou aandag afgetrek van groter en belangriker probleme wat Suid-Afrikaners van alle rasse in die gesig staar. Moord, verkragting, werkloosheid, die swakste ekonomie in die geskiedenis van Suid-Afrika en 'n regerende party wat geen politieke wil toon om enige van die land se probleme op te los nie, bly onaangeraak.

Verskoon die woordspeling, maar waarom kloof ons hare oor 'n party wat hulself aan “Clicks-baiting” skuldig maak en word ons mislei om toenemend valse wantroue onder Suid-Afrikaners te glo en te verkondig? Is ons dan nie self besig om fopnuus te verkondig, al weet ons in ons harte dat ons eintlik oor ons buurman omgee nie?

Ons behoort te vra of ons grondwetlike demokrasie dan werklik so goed werk soos wat dit op papier lyk. Hoe is dit dat hooggeplaaste leiers soos Julius Malema, leier van die EFF, die grondwet openlik afkraak en menseregte vertrap al het hy en die ander EFF- verteenwoordigers in die parlement gesweer om die grondwet te handhaaf?

Ons vermoë om saam te werk word deur politieke kleuters ondermyn wat Suid-Afrikaners steeds wil laat glo dat ons nie in staat is om soos volwassenes na mekaar te luister en met die nodige respek saam te kan stem en ook te mag verskil nie.

Die EFF se aanhoudende pogings om “Clicks-bait”-politiek aan hulle volgelinge te verkondig, gaan veroorsaak dat hulle gehoor kleiner en kleiner raak. Flous jouself een keer en voor jy jou oë uitvee, sit jy sonder enige geloofwaardigheid en is jou “Clicks-bait”-politiek rooi gemerk en saam met die res van die gemorspos in die asblik.

Moenie geflous word nie, dit is tyd vir die volwassenes om te gesels.

 

  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close