My geld -

Die gewoonte om te spaar

Ons het 'n tyd gelede 'n rubriek geskryf wat gehandel het oor die gewoonte om te spaar. Uit dieselfde boek, The Law of Success, geskryf deur Napoleon Hill, kom 'n gedeelte wat handel oor geleenthede wat oor mense se pad kom en wat die gewoonte om te spaar kan aankweek. Hoewel die eerste uitgawe van die boek reeds in 1937 gepubliseer is en die bedrae ter sprake belaglik laag klink, bly die beginsel vandag dieselfde.

Hy begin die gedeelte met 'n eenvoudige voorbeeld van 'n boerseun in Amerika wat by 'n drukkery in Philadelphia gaan werk het. Hy het 'n kollega gehad wat aandele in 'n bougenootskap en leningsmaatskappy besit het. Die kollega het hom oorreed om elke maand geld in 'n rekening by die bougenootskap te spaar. Na drie jaar het die man $900 gespaar. Die drukkery waar hy gewerk het, het finansiële probleme ontwikkel, en hy het die $900 gebruik om die besigheid uit die verknorsing te red in ruil vir 50% van die aandele in die drukkery. 'n Paar jaar later het hy $25 000 per jaar as winsdeling ontvang.

Daar is baie gesegdes oor geleenthede. Ek het al gehoor dat geleenthede kom na dié wat geduldig is, dié wat glo dat hul groot geleentheid op pad is. Ek wil die gesegdes uitbrei en sê dat geleenthede ook kom na dié wat geduldig spaar.

Die beginsel van die gedeelte in The Law of Success is dat 'n gesoute sakeman, en dit sluit banke in, nie geld aan iemand gaan toevertrou wat nie reeds bewys kan lewer dat hy na sy eie finansies kan omsien en dit wys kan aanwend nie. Ofskoon dit voorkom of banke net altyd sekuriteit soek om hul risiko’s te dek, is dit ook 'n metode om te bepaal of die persoon wat die lening aangaan, roekeloos daarmee gaan handel.

Ek is daarvan oortuig dat dit 'n sleutelbeginsel is wat begryp moet word. Ek is van mening dat 'n mens verbaas sal wees oor die resultaat van kredietaansoeke indien aansoekers bewys kan lewer dat hulle die dissipline het om te spaar.

Uit 'n ander hoek, wat nie in die boek genoem word nie, is ek seker mense wat spaar, ook deegliker huiswerk doen. Dit is altyd maklik om met iemand anders se beursie rond te loop. Ons regering is 'n goeie voorbeeld daarvan. Hulle deel net wild en wakker tenders uit, want dit is nie hul eie geld wat by 'n Mercedes-handelaar eindig, eerder as op 'n nuwe pad tussen Kroonstad en Bothaville nie. Mense wat spaar, maak opofferings, ongeag daarvan of dit 'n nuwe voertuig, 'n vakansie of enige ander luuksheid is. Hierdie mense sal dus hul huiswerk deeglik doen, voor hulle hul swaarverdiende spaargeld aan 'n verkwister gaan toevertrou.

  •  
  •  
  •  
Francois Smit Deur Francois Smit


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close