Algemeen -

Die jaar snel ten einde

Waar is hierdie jaar heen? Dit het soos 'n oogwink verby gegaan!

Daar was mooi en moeilike tye. Daar was humor en hartseer. Daar was vreugde en verdriet.

Soos mens ouer word, besef jy hoe kosbaar elke oomblik is. As kind dink jy daar is nog baie tyd.

Tyd het 'n manier om deur jou vingers te glip, wég te wees voordat jy jou oë kan uitvee. Sonder God is tyd sinloos – Stella Seyffert.

Ons raak so besig met “dinge”. Die jaar word volgepak met afsprake en verantwoordelikhede. Ons moet op plekke wees en mense ontmoet.

Tyd is die kosbaarste ding wat 'n mens kan spandeer – Theophrastus.

Tyd wat verby is kan nie weer teruggekry word nie.

Henry van Dyke het die volgende oor tyd gesê:

Tyd is:
Te stadig vir hulle wat wag.
Te vinnig vir dié wat vrees.
Te lank vir dié wat treur.
Te kort vir hulle wat juig.
Maar vir dié wat liefhet, bestaan tyd nie.

Tóg so waar.

As daar een ding is wat ons van tyd kan sê is dat dit verby gaan. Die uurglas loop leeg. Elke dag is ons nader aan die einde.

Gebruik jou tyd wys.

Moenie toelaat dat die handjie vol kosbare aardse ure wat God jou geleen het tussen jou vingers deurglip in 'n transaksie waar jy onsigbare dinge verruil vir sigbare dinge nie. Die sigbare dinge is tydelik, die onsigbare dinge is ewig – Danie Vorster.

  •  
  •  
  •  
Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close