Nuus -

Die Kampus: Monumentaal!

 

Op Monumentkoppie, sowat 3 km van Solidariteit se hoofkantoor af, staan die Voortrekkermonument – ’n indrukwekkende gebou wat die verlede herdenk. Op friese word die Groot Trek uitgebeeld; op ’n muur van herinnering die name van diegene wat in diens van die Weermag gesneuwel het. ’n Multimediasentrum vertel die verhaal van die Afrikaner se geskiedenis oor die afgelope eeu. Die terrein se gewyde atmosfeer word beklemtoon deur beelde, skilderye, gedigte en historiese items.

Ook sowat 3 kmvanaf Solidariteit se hoofkantoor in die teenoorgestelde rigting is ’n oop stuk grond. Sien in jou geestesoog die lewendemonument van die toekoms wat oor ’n tydjie hier gaan staan. Jong studente word in die werkwinkels toegerus vir die toekoms; in die kafeteria bou hulle verhoudings, sosialiseer en vestig netwerke. Vanuit die uitsaai-ateljees word studente dwarsoor die land in leersentrums opgelei. In die konferensiesentrum word gepraat, beplan en geleer. Rekenaars, draaibanke, sweishokkies en klaskamers versterk die lewende karakter van Die Kampus. Dié opleidingsinstelling en sy studente word lewende monumente van hoop.

Vanuit die Solidariteit-hoofkantoor put ons enersyds inspirasie uit die monumente van die verlede; om te leer hoe ons voorsate uitdagings hanteer het. Uit die verlede leer ons meer oor geloof, hoop, verantwoordelikheid en harde werk. Andersyds kyk ons na die nuwe, lewende monument van hoop: Die Kampus. Op Die Kampus wil ons jongmense leer hoe om die uitdagings van die toekoms te hanteer. Daar gaan ons studente leer van geloof, hoop, verantwoordelikheid en harde werk as rigtingwysers vir die toekoms.
Die Kampus is ’n projek van sowat R150 miljoen en die opbrengs is duisende jongmense wat vir die toekoms toegerus gaan word. ’n Belegging in jongmense se toekoms is die beste belegging wat die Solidariteit Beweging kan maak.

Jy kan help bou aan hierdie lewende monument. Indien jy weet van sakelui wat stene vir die projek sal koop, laat weet ons. Laat weet ons ook as jy self ’n bydrae wil maak, hoe gering ook al. Kom ons skep met Die Kampus weer hoop vir ons jongmense. Solidariteit het die projek begin, maar dit is baie groter as die Beweging.

DIE KAMPUS-FEITE
• Die Kampus gaan die tuiste wees van die land se grootste Afrikaanse tegniese college en die telematiese instelling wat tot soveel as 10 000 studente sal kan oplei.
• Die Kampus gaan onder meer eendagkursusse, vakansie- en Saterdagskole aanbied.
• Die Kampus gaan fokus om mense in kritieke vaardighede op te lei.
• Die boukoste van Die Kampus gaan nagenoeg R150 miljoen beloop.
• Die eiendomsontwikkelingsgroep Atterbury sal die bouprojek monitor.
• Die argitek Jeremie Malan is verantwoordelik vir die ontwerp van Die Kampus en het opdrag gekry om die Afrikaanse kultuurerfenis in alle aspekte van sy bouplanne te vereer.

HOE KAN ÉK HELP BOU?
• Koop stene: Jan en alleman gaan aangemoedig word om stene teen R1 000 per steen te koop. Die stene kan kontant of per debietorder betaal word.
• Skenk ’n enkelbedrag: ’n Maatskappy of individu kan ’n enkelbedrag skenk. So ’n skunking is ’n belegging in jongmense en die ekonomie.
• Borg ’n lokaal: ’n Maatskappy, trust of individu kan ’n lokaal of werkwinkel borg wat na die maatskappy of individu vernoem sal word.
• Skenk materiaal: ’n Staalonderneming kan staal skenk of ’n bouonderneming kan stene skenk of teen kosprys verskaf.
• Kom met ’n voorstel: Enige ander voorstelle word verwelkom. Stuur jou voorstel na arina@solidariteit.co.za, of bel Arina Stoker by 012 644 4473.
• Neem korttermynversekering by Virseker uit: ’n Gedeelte van die premies van Virseker sal vir die oprigting van Die Kampus aangewend word.
 
Die artikel het oorspronklik in die Solidariteit Tydskrif verskyn.

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Dirk Hermann Deur Dr. Dirk Hermann


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close