Godsdiens -

Die klop van jou hart

Die nuwe jaar het skaars begin of ons hardloop al soos afkop hoenders in die gange van ons lewens rond; Kersfees en Nuwejaarsdag, wat rus moes bring na twee jare van ongekende oppe en affe, is reeds net 'n vae herinnering.

 

Ek wonder vir 'n oomblik of die vakansie werklik rus gebring het. Ek voel uitgerus. Maar die afgelope vakansie het ek anders aangepak as wat ek normaalweg doen. In plaas van rondrits en besig wees en die een aktiwiteit na die ander inryg, het ek dinge gedoen wat my hart gelukkig maak.

 

Ek het onlangs geleer dat daar sekere dinge is wat ons energie gee en ander wat ons energie tap. Daarom het ek ook teen die einde van 2021 besluit dat ek nie uitgebrand is nie, maar dat die dinge waarmee ek my bemoei net my energie tap in plaas daarvan om my batterye te laai.

 

Dit is dan ook die rede waarom ek my Desembervakansie anders aangepak het. En dit was so eenvoudig! Ek het bloot die dinge gedoen wat ek regtig wou; die dinge wat vir my lekker is: ek het geluister na die klop van my hart.

 

Daardie klop het my gelei na mense by wie ek wil wees en saam met wie ek my tyd wil spandeer. Dit het my gelei na aktiwiteite wat my goed laat voel. En uiteindelik het dit my gelei na eerlike gesprekke en na die uitsorteer van dinge waaroor ek nooit eerlik sou wees nie.

 

Dit is dan om hierdie rede wat ek vanoggend, met die begin van die nuwe werksjaar, diep asemhaal en bid. Ek bid vir krag. Ek bid vir waagmoed. Ek bid dat vrees my nie sal oorheers nie. Ek bid vir wysheid. Ek wil die klop van my hart hard en duidelik hoor. Ek wil hê daardie klop moenie vanuit myself ontstaan nie, maar vanuit die wil van God. Ek wil die moed hê om na daardie klop te luister en daarvolgens op te tree, en meer nog wil ek die angs van mislukking en teenkanting afskud omdat ek weet ek is veilig in Sy hande.

 

Ek wil hê daardie klop moet my lei om in eerlike opregtheid, maar ook in liefde, sag en teer te kan praat. Ek wil hê daardie klop moet een wees wat energie, nie net aan myself nie, maar aan almal om my gee en dit moet my en my gesin lei op ons pad hierdie jaar.

 

Liewe vriend en vriendin wat vandag hier lees. Mag jy die klop van jou hart hoor. Mag dit jou weglei van uitputting. Mag dit jou stuur na paaie van geluk. Mag dit vir jou in 2022 hemelse vrede bring.

  •  
  •  
  •  
Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close