Algemeen, Ekonomie, Gemeenskappe -

Die lesse van Zimbabwe

Die regering se radikale planne oor onteiening en veral meer sosialisme, maak mense bekommerd dat Suid-Afrika die volgende Zimbawe gaan wees, maar daar is nog omdraaikans. 'n Mens hoef maar net te kyk na die Zimbabwiese werkloosheidsyfer van sowat 80% (eintlik onmeetbaar) om te weet daar is 'n groot verskil tussen Zimbabwe en Suid-Afrika.

Dit alles beteken egter nie dat daar nie lesse is wat ons uit die Zimbabwe-ramp kan leer nie. Daar was al te veel mislukkings op ons vasteland om die plat bestuur van Zimbabwe te ignoreer of om dit as 'n totale uitsondering weg te lag. Dit is dus nodig om te kyk wat ons uit die gebeure in Zimbabwe kan leer, want daardie gebeure mag nooit weer herhaal word nie. Dit is ironies dat Zimbawe se nuwe president die onteienings stop en die boere wil vergoed in dieselfde tyd wat ons regering nou eers al Zimbabwe se foute wil herhaal.

Werkerregte hang af van burgerregte

Die belangrikste les uit Zimbabwe is dat werkerregte van burgerregte afhang.Dit beteken dat waar daar nie burgerregte is nie, werkers ook nie regte het nie. Om die belangrikheid hiervan te besef, moet mens kyk hoe Mugabe dit reggekry het om sy land te vernietig. Dit is ‘n merkwaardige “prestasie” om daarin te slaag dat sowat 80% van jou mense hulle werk verloor!

Ten eerste het Mugabe nie werkerregte direk aangetas nie. Hy het nie wette gemaak teen werkers of hulle regte weggeneem nie. Hy het só despoties begin regeer dat werkers uiteindelik in die praktyk nie meer werk gehad het nie, wat nog te sê werkerregte. Dit was 'n stadige proses wat begin het met die afneem van produktiewe wit boere se grond en die weggee daarvan aan “veterane” in 'n poging om Mugabe se politieke gewildheid te verhoog.

Om te keer dat die wit boere hof toe gaan, het hy klein, maar ingrypende veranderings in die wette oor eiendomsreg aangebring. Daar was nie grootskaalse veranderings in wette nie, en hy het ook nie die grondwet afgeskaf nie. Die demokrasie het ook steeds funksioneer met verkiesings, parlemente en al. Mettertyd het hy steun begin verloor en het die Zimbabwiese vakbonde die leiding geneem met die stigting van ‘n opposisieparty, die MDC.

Mugabe het nie aanvanklik téén sy mense regeer nie – inteendeel, hy het hulle juis probeer help.  Hy het vir die armes grond gegee, en bevele uitgevaardig om pryse van melk en meel vas te pen, en nog baie ander wette gemaak om sy mense by te staan. Behalwe sy deursigtige pogings om politieke steun daarmee te werf, het hy meestal goeie bedoelings hiermee gehad. Hy wou die armes help, en kon dit nie verduur dat hulle duur moes betaal vir hulle kos en ander uitgawes nie. Hy wou hulle beskerm teen die uitbuiting van boere, werkgewers en die sakelui, en het ontsteld geword toe hulle die media en opposisiepartye se stories oor sy swak regering begin glo. Het hy dan nie juis sy bes gedoen om sy mense te help nie?

Vernietiging

Mugabe het egter die ingewikkeldheid van ‘n moderne staat en ekonomie nie begryp nie. Eiendomsreg is die fondasie van 'n ekonomie en van kosproduksie. 'n Boer se billike wins is sy regmatige beloning vir sy werk om vir die mense van die land kos te produseer. Ongelukkig het markkragte baie foute, maar regerings soos Mugabe se inmenging het nog erger gevolge. Uiteindelik het dit gelei tot die vernietiging van die land, sy ekonomie en miljoene werksgeleenthede. Mugabe het sy mense van die wal af in die sloot “gehelp”.

Hoe slegter dit gegaan het, hoe verder het Mugabe gegaan. Toe die grond klaar herverdeel was, het hy op groot skaal ingespring om die mense te bemagtig. Alle maatskappye moes nou ook op groot skaal begin BEE (verinheemsing genoem), regstel en bemagtig. Dit het die ekonomie nog verder gekniehalter en gelei tot nog groter werkloosheid en armoede.

Hoe beter die opposisie begin doen het en hoe meer die vakbonde teen hom standpunt ingeneem het, hoe erger het Mugabe aan die mag vasgeklou, en hoe meer outokraties het hy geword. Daar was nog 'n grondwet en verkiesings, maar in die praktyk het Zimbabwe 'n grondwetlike diktatuur geword, en het net sy ondersteuners nog gedink die land is 'n demokrasie. Die uiteinde is 'n hartseer verhaal van lyding, werkloosheid, armoede en ellende. Die regte in die grondwet het in die praktyk niks meer beteken nie. Die regte van werkers is prakties vernietig deur die vertrapping van hulle burgerregte deur die Mugabe-“regering”.

Suid-Afrika

Wat beteken dit alles vir Suid-Afrika? Ons Grondwet het 27 basiese regte, waarvan net twee direk met die regte van werkers te make het, naamlik artikel 22 en 23 wat lui dat alle werkers die reg het om vrylik 'n beroep te kies en die reg op billike arbeidspraktyke het.

Daar is nog nie 'n vergelyking tussen die Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese situasie nie, maar dit beteken beslis nie dat ons oor burger- en werkerregte gerus kan wees nie. Hier is lankal al 'n agteruitgang in ons burgerregte as gevolg van probleme soos geweldmisdaad en die wanbestuur van baie staatsinstellings. Dit het in die praktyk 'n streep deur ons grondwetlike regte, soos die reg op lewe getrek. Die slagoffers het nie 'n reg op lewe nie, maar hulle  moordenaars wel, want doodstraf is afgeskaf. Arm mense se reg op gesondheidsorg is prakties betekenisloos as staatshospitale se behandeling gevaarliker as hulle siekte is. Dieselfde geld vir 80% van ons staatskole.

Solidariteit

Dit alles beteken dat Solidariteit homself nie net kan beperk tot werkerregte nie omdat burgerregte die voorwaarde vir die bestaan van werkerregte is. Sonder burgerregte is daar nie werkerregte nie. Die beste manier om burgerregte te beskerm, is nie om in partypolitiek betrokke te raak nie, maar te help sorg dat die burgerlike samelewing gesond is en dat daar sterk en lewenskragtige burgerlike organisasies op alle belangrike terreine bestaan. 'n Breë burgerlike alliansie is nodig om te verseker dat die grondwetlike demokrasie, burgerregte én werkerregte volhoubaar veilig en beskermd is in belang van almal in Suid-Afrika.

Solidariteit hou dus die skokkende planne van die regering om boere se grond te steel fyn dop en ons sal saam met ons vennote op die nodige aksies besluit. Om plase te onteien, is die eerste domino wat gaan val om mense se werk, pensioene en lewens te vernietig.

  •  
  •  
  •  
  •  
Flip Buys Deur Flip Buys


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close