Ek het die afgelope week net weer besef dat die lewe bitter kort is en dat nie een van ons weet wanneer God ons werk op die aarde as afgehandel ag nie. Ons het baie planne en drome, maar as dit jou tyd is, is dit jou tyd. My ma is een van die groep Suid-Afrikaners wat die afgelope drie weke in Mosambiek op ‘n uitreik was. Gisteroggend het ‘n tragedie die groep getref oppad terug na Suid-Afrika. Ek het die oproep vroegoggend gekry en my yskoud geskrik. Toe ek die foon neersit is ek deur ‘n vloedgolf van teenstrydige emosies oorweldig terwyl my bene vir omtrent vyf minute te jellie was om op te staan.

Eers was dit die skok.
“Daar was ‘n ongeluk vanoggend vroeg,” sĂȘ die oom op die lyn.

Daar was ‘n stilstaande vragmotor sonder ligte, die weerkaatsers was vol modder en daar was geen takke of driehoekies in die pad om die Suid-Afrikaners van die doodsmonster te waarsku nie. Die bakkie wat voor gery het kon betyds uitswaai en het onmiddellik met hul radio die agterste motors gewaarsku. Die kombi wat tweede in die ry was, het egter nie die waarkuwing gehoor nie, want die insittendes was besig om uit volle bors tot eer van die Here te sing. En so het twee van die sendelinge die lewe gelaat.

Toe kom die verligting. My ma was in die voertuig agter die kombi. Sy is orraait.

En toe begin die “wat as…”-vrae…
Wat as sy nie aangedring het om met haar bakkie ook te gaan om rolstoele saam te neem nie?
Wat as sy voor gery het?
Wat as sy nie die waarskuwing gehoor het nie en agter in die kombi vas is?

en later die hoekoms…
Hoekom moes juis hierdie groep mense wat vir drie weke die Here se werk gedoen het in die ongeluk kom?
Hoekom het die Here dit toegelaat?

En toe kom die verskriklike hartseer en skuldgevoel. Die arme mense wat hulle geliefdes verloor het. Hoe kan ek verlig en dankbaar wees dat iemand anders gesterf het en nie my ma nie?

Die Here dink anders as mense…
My gevolgtrekking: Die Here het ander planne met ons lewens as ons. En as mens mooi soek is daar selfs in die tragedie genade. Genade dat die wat die lewe gelaat het op slag dood is en nie gely het nie en dat hulle met psalms en gesange in hulle hart in God se arms ontvang is. Dat hulle hul lewens op so ‘n geestelike hoogtepunt kon afsluit. Dat daar nie meer is wat beseer of dood is nie. Dat hulle in hulle laaste dae die evangelie met verlore mense kon deel en Christus se liefde prakties ten toon gestel het. En dat God mense roep. Charles Hallat van Kempton Park, een van die oorledenes was die laaste persoon wat toegetree het tot die groep na die gesprek oor die uitreik op RSG Sondagaktueel. Hy was ‘n lidmaat van die NG Kerk Birchleigh en het ‘n nuwe doel in sy lewe gesoek.

Die tragedie is nog nie verby nie…
Arme oom Duppie, wat die kombi bestuur het, is gister heeldag aangehou en moes gistraand in die selle slaap. Sy vrou is een van die wat ernstig beseer is en sal na verwagting vandag in Suid-Afrika aankom. Ek sukkel om die opstand te bedwing: Wat van die vragmotorbestuurder? Wat van hom?! Die sendelinge wag nou vir nuus oor Duppie en oor die terugvervoer van die liggame voor hulle die driedag terugrit aanpak.

En al teks wat uur na uur in my kop opkom: Die Here het gegee, die Here het geneem. Prys die naam van die Here.

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Moira Kloppers


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close