Algemeen, Nuus -

Die monster in jou kamer was lewendig, Poppie …

Klein Poppie, jy is dood. Jy is vermoor deur jou ma en jou stiefpa.

Elke stukkie potensiaal en bouwerk wat jy in hierdie wêreld moes inploeg, is in die toilet afgespoel soos wat jou stiefpa soms jou kop in die toilet gespoel het. Ha! – om jou ‘n les te leer, het die hof gehoor.

Jy is vermoor. Deur jou ma. Deur jou stiefpa.

Hulle het die afgelope ruk in die hof gestaan, verdedig, probeer regverdig. Siek.

Ons moes lees hoe jou ma se man jou klein lyfie (asook jou boetie) gedurig geskop het, hoe hy jou kop teen die kaste geslaan het. Hoe jy soms net gemaak het asof jy dood is sodat die pyn kan stop.

Ek raak naar soos wat ek hier tik. Daar is een ding wat seker is en wat jy moet weet, en dit is dat jou ma en stiefpa dit op die oomblik vir ontsaglik baie mense moeilik maak om ‘behoorlike Christene’ te wees.

Baie, nes ek, moet probeer sin maak waarom ‘n God wat liefdevol is, kon toelaat dat ‘n klein mensie soos jy basies doodgeskop word. Koue, harde skoene wat jou maag, en tien teen een jou kop en jou bene tref. Hou na hou … na hou … na hou.

Ons verstaan nie, maar ons vertrou steeds. Jou kort lewe sál ‘n verskil maak.

Jou foto in die koerant – die nabyskoot van jou gesig, blonde haartjies en pienk hempie – spog met jou pragtige blou oë. Blou soos die lug op die mooiste somersdag. Maar wat my die diepste tref, is die wete dat jou klein lyfie onder daardie pienk hemp sekerlik blou en pers is. Jou kneusplekke lê waarskynlik baie diep en baie duidelik.

Maar niemand kon jou red nie.

“Want mens kan mos nie net by iemand se huis inloop en ‘n kind vat nie,” of so hoor ek mense sê.

Wel, Poppie – laat ek vir jou vertel: Dit is presies wat mense moes gedoen het.

Ek weier om te glo dat niemand jou geskree gehoor het nie. Dag na dag. Ek weier om te glo dat niemand aand na aand na aand na aand jou en jou boetie se gehuil en gesoebat gehoor het nie. Ek weier om te glo dat ‘prosesse’ belangriker as julle veiligheid was.

Ja, Poppie, ek is jammer, maar ‘die regte proses vir hierdie tipe situasies’ was belangriker as jou lewe. Mens lees dit in bykans elke berig oor jou dood.

Dis koud. Dis siek. Dis die waarheid.

Selfs in Orania – die plek waar jy jou sleutels in die kar kan los terwyl jy inkopies gaan doen  – was jy nie veilig teen die monsters in jou huis nie. Net soos só baie huishoudings regoor Suid-Afrika. Dit gaan ongelukkig nie oor wáár julle is nie, maar eerder wié in julle huise is.

My driejarige seuntjie dink die skaduwee van ‘n blaar is ‘n monster, maar jy, ai, jy Poppie, jou monsters was eg in elke sin van die woord.

Ek was onlangs op ‘n besoek aan ‘n klein dorpie en sukkel steeds om oor my ervaring te skryf, maar vir jou het ek gesien.

Ek het jou een aand lank na 22:00 in ‘n kroeg gesien sit. Nie jy fisies nie, maar ‘n blonde dogtertjie, bo in die kroeg. Alleen terwyl haar grootmense langarm en drink.

Ek het haar afgeneem en as ek nou na die foto kyk, dan sien ek jou. Nie dat ek sê die kind word mishandel nie, maar genugtig, klein dorpie al dan nie, ‘n redelike mens behoort te weet dat dit verkeerd is.

Ek het so jammer gevoel vir die klein kindertjies (ja, daar was ongelukkig meer as een) wat geforseer was om in die kroeg se hoekies te sit terwyl hulle grootmense drink, dans en kuier.

‘Lekker op die platteland!’ het ek hulle gehoor skree.

Ek het geloop. Ek het hulle – ek het jou – in die steek gelaat.

Ek is jammer.

Ek, ons, die publiek behoort meer op te staan vir kinders. Julle is die ongemak werd.

Mens bereik ‘n punt waar die lyn tussen reg en verkeerd so duidelik soos daglig behoort te wees.  Maar vir baie mense is alles grys en alles aanvaarbaar.

Poppie, jy is dood en daar is baie soos jy daar buite en dit is nie aanvaarbaar nie.

Jou dood is nie aanvaarbaar nie.

Julle word vermoor in plekke waar julle veilig moet wees en deur mense wat julle veiligheid en liefde moet gee.

Maar julle word vermoor, regoor Suid-Afrika. Nie net in Brits nie, maar oral. Julle monsters is daar in jul binnekamer, ongeag waar julle is.

In 2014 was die statistieke dat daar elke dag in SA drie kinders vermoor word. Ek laat sak my kop in skaamte vir die mensdom.

Ek wil nie eers google waar dié statistieke nou al staan nie.

Ek dink vandag spesiaal aan dié kinders. My gedagtes beteken eintlik niks want dit kan geen fisiese verandering bring nie.

Maar mag iemand julle hulpkrete hoor. Mag iemand begin wonder. Mag iemand julle huise se voordeure oopbreek en julle red.

Mag iemand, ‘n buurman of buurvrou, genoeg omgee om die kans te vat en die ongemaklikheid van die situasie in die oog te staar.

Mag julle dood, elke liewe een van julle, ons meer laat omgee sodat die ‘regte prosesse’ (net soms) eenkant gegooi word.

Mag dié ‘iemand’ ek wees, mag dit jy wees.

  • 583
  •  
  •  
  •  
Mia Slabbert Deur Mia Slabbert


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close