Algemeen -

Die NGV – Rampspoedig vir jou gesondheid

Dit is amptelik – die regering gaan voort met die katastrofiese planne om die Nasionale Gesondheidversekeringplan (NGV) deur die nooddeure van Suid-Afrika se gesondheidstelsel te rol. Die onverantwoordelike besluit wat nie voor die Nasionale Gesondheidsraad bespreek is nie, het tans soveel onduidelikhede dat die kwessie selfs groter kommer wek omdat die provinsiale departemente van gesondheid geen duidelikheid het oor wat van hulle verwag word met die huidige formaat van die NGV nie.

Skandale soos Life Esidimeni, uiters swak tot geen dienslewering nie in feitlik alle provinsies, gesondheidskrisisse by tientalle staathospitale, wanadministrasie en veral ook finansiële wanbestuur is reeds probleme wat tans op ‘n nasionale skaal by die department van gesondheid ontstaan. Die probleme, en dit is maar slegs dié wat reeds of wel bekend gemaak is aan die publiek, is nie net besig om ’n belangrike sektor waarvan alle Suid-Afrikaners afhanklik is, te kelder nie, maar hulle is stadig maar seker besig om met hul lewens daarvoor te boet.

Hiermee is dit duidelik dat die publiek vertroue verloor het in die regering weens sy onvermoë om die nodige dienste aan die publiek te verskaf. Die mislukking is ten koste van miljoene mense wat strek oor alle kulture en agtergronde, en al nege provinsies se gesondheiddienste behoort noukeurig ondersoek te word sodat die nodige departmente en persone in die spervuur kom. Die kwessie is ook ’n saak wat oor die grense van sosio-ekonomiese vooroordele strek omdat dit alle Suid-Afrikaners raak.

Die onbeantwoorde vraag bly egter of die regering daarvan bewus is dat daar ’n verskil is tussen die gelykheid van sorg en die gehalte van sorg. Met ’n tekort aan opgeleide personeel en dokters, hospitale wat bestaan uit verouderde infrastruktuur, en selfs die tekort aan nuwe hospitale weens ’n drastiese groei in die bevolking se getalle, is beide gelykheid en gehalte van diens vasgemaak aan ’n stoel en kan dit nie losgemaak word onder die huidige Suid-Afrikaanse regering nie.

Daar is tans nege universiteite in Suid-Afrika waar jongmense kan studeer om ’n mediese kwalifikasie te bekom. Van die universiteite is wêreldklas instellings. Dit is daarom ongewoon dat die minister van gesondheid onlangs 281 mediese studente by die lughawe verwelkom het wat deel is van ’n buitelandse opleidingsprogram waaraan 2 885 Suid-Afrikaanse studente deelneem. Volgens die departement van gesondheid het meer as 500 studente sedert die ontstaan van die program in 1996 hulle kwalifikasies behaal. Kuba voer hoofsaaklik nikkel, rietsuiker, sigare, brandstof, drank, metaalerts, vis en sement uit en dokters word nie op die lys genoem of gevind nie. Waarom dan nie eerder dokters by plaaslike universiteite oplei wat terselfdetyd blootgestel word aan Suid-Afrikaanse probleme nie? Die toekomstige dokters se kennis kon plaaslik uitgebrei word en hulle kon die druk op ’n reeds wankelende stelsel verlig het. ’n Ander bydraende faktor wat aangepak behoort te word, is die sloering met akkreditasies van privaat onderrigstelsels wat die las op openbare universiteite sal verlig.

Hennie Bierman, hoof van die Solidariteit Beroepsgildes, het ook sy kommer uitgespreek oor die uitwerking wat die NGV op die land se gesondheidwerkers gaan hê en oor die wyse waarop dit gesondheidsorg van gehalte gaan beïnvloed.

’n Onlangse opname oor gesondheidswerkers wat deur Solidariteit gedoen is, het bevind dat 43% van gesondheidswerkers sal oorweeg om Suid-Afrika te verlaat indien die regering voortgaan met die implementering van die NGV-skema terwyl 83% daarvan oortuig is dat die skema uiteindelik sal veroorsaak dat professionele mense soos dokters, spesialiste en ander gesondheidwerkers die land sal verlaat.

Die regering is onder die indruk dat mooi woorde en beloftes wat in die wolke uitgedink word, Suid-Afrikaners se reg op gesondheidsdienste van gehalte sal laat verwesenlik, en dat die NGV mense gesonder, gelukkiger en ryker sal maak. Solidariteit stel voor dat daar na ander oplossings gekyk word wat beter en goedkoper gesondheidsdienste aan die publiek sal bied in plaas van ’n placebo wat meer geld gaan kos en geen oplossing gaan bied vir ’n diagnose wat verkeerdelik behandel word nie.

 

 

  • 1
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close