Algemeen -

Die ondersoek van jou eie denke

Deur Karin van der Watt

 

Introspeksie kan uiters waardevol wees.

 

Gereeld sal ek myself afvra: Wie is ek? Wat is ek? Kan ek beter? Moet ek beter? Hoe verbeter ek? Hoe gelukkig is ek? Hoe tevrede is ek?

 

Hierdie selfondersoeke speel deesdae, en ek sê “deesdae” baie tong in die kies, 'n baie groter rol in my lewe as vantevore.

 

As kind, tiener, “grootmens” en toe later as Grootmens, het ek nie hierdie vrae gevra nie. Dit het my nie gepla nie totdat ek een sonnige laatwintersdag in Augustus 2015 met my alie in die botter beland het.

 

Van daardie dag af aan het ek al hoe meer en gereeld na myself begin kyk en ondersoek ingestel. Ek dink dit is baie belangrik om jouself te evalueer. Baie mense het 'n bedenklike opinie oor hulself en hul vermoëns!

 

Selfondersoek, of introspeksie, kan 'n ontnugterende ervaring en selfs 'n openbaring wees.

 

Dit is wanneer jy jouself sien soos wat jy dan ook waarlik is: met jou kleinlikheid, oppervlakkige selfbejammering en wensdenkery. Dit kan moontlik 'n ongemaklike oomblik in jou lewe wees … maar dis wie jy is, sonder God se genade! Dit is wie jy is en dit is waaraan jy dan moet begin werk.

 

Hou op om jouself te verkleineer en te oortuig dat jy nooit iets sal kan bereik wat die moeite werd is nie. Dit veroorsaak net innerlike konflik, frustrasie en ongelukkigheid.

 

Elke keer wat jy jouself met ander vergelyk, of dit nou jou binnegoed, ‘buite-goed’ (jou lyfie), besittings of posisie is, lei dit na onredelikheid.

 

Die waarheid is dat jy na die beeld van God geskape is en in Sy oë is jy van onskatbare waarde. As jy hierdie waarheid aanvaar, begin die eerlike evaluasie van jou lewe.

 

Ons moet kies om dit 'n gewoonte te maak om ander mense te sien soos God hulle sien.

Dis 'n keuse; dit gebeur nie vanself nie. Ons moet dus ook kies om dit 'n gewoonte te maak om onsself te sien soos God ons sien.

 

Kies uit gewoonte om jouself te evalueer soos God jou evalueer. Terwyl baie mense te veel van hulself dink, is dit my ervaring dat die meeste van ons te min van onsself dink.

 

Kies om jou optredes en sukses te meet en vra jouself af: Het ek my beste gegee? Sal hierdie poging vir God aanneemlik wees? Wie wil ek beïndruk, en hoekom?

 

Dit is waar introspeksie begin. Dit is waar die belangrikheid van 'n mens se bestaan saamgevat word.

 

Ek het my lewe lank nie in myself geglo nie. Diep in my hart het ek geglo ek sou heel moontlik met 'n slegte man trou vir wie ek nie waarlik lief kan wees nie.

Ek het geglo ek sal sekerlik altyd net administratiewe werkies doen want om verder te swot, was net nie vir my beskore nie.

 

Selfs toe ek aansoek gedoen het vir hierdie werk het ek nie met volslae eerlikheid geglo ek sou dit kry nie. My 1985-model Ford Eskort in die parkeerterrein sou dit duidelik maak dat ek nie hier inpas nie. Tog het ek probeer. Dalk was dit die Here se genade want, in die gebou moes ek daardie dag in. So gaan ek toe maar in met my beste masker opgeplak en my hele slegte selfbeeld diep weggebêre sodat dit nie na vore sou kom nie. Konserthou was my gunsteling-speletjie in daardie stadium van my lewe. Drama Queen kan jy maar sê.

 

Ek dink soms God het vir daardie man (wat die onderhoud met my gevoer het) spesiale lense gegee om deur my te sien. Hy het duidelik iets gesien wat ek self nie kon sien nie.

En, selfs in die afgelope twee en 'n half jaar, het hierdie selfde mens my laat glo in myself, my laat glo ek kán! Al wat ek kan sê is, dankie … dankie dat hy iets in my gesien het wat ek self nie kon sien nie en dankie ook dat hy in my geglo het.

 

Jy sien, ek het al hierdie “hoekom-”vrae gevra … Hoekom gaan dit altyd sleg met my? Hoekom is ons altyd arm? Hoekom is my familie sulke dronkaards?

Hoekom ek? Hoekom ons gesin? Hoekom my kinders? Hoekom vat mense kanse met my? Hoekom vertrou ek almal so blindelings en lees nie kontrakte voor ek dit teken nie? Wat is dan fout met my? “Hoekom?” “Hoekom?” “Hoekom?” “Hoekom?”…

 

Dit het my siek gemaak.

Dit was juis hierdie “hoekom-vrae wat my negatiewe denke, en swak selfbeeld, so gevoer en vertroos het soos wat 'n mammavoëltjie haar kleintjies voer.

 

Ons kan eindelose tyd spandeer aan “introspeksie” sonder om uit te kom by meer self-insig as waarmee ons begin het.

 

Studies toon dat mense wat baie insig het, meer in beheer is van hul lewens, meer dramatiese persoonlike groei toon, beter verhoudings geniet en kalmer voel. Hierdie mense het daardie geheime bestanddeel van “insig” ontdek.

 

Daar is inderwaarheid geen verband tussen introspeksie en insig nie.

Die denkbeeld oor onsself (dit wat jy van jouself glo) beteken nie noodwendig dat ons onsself goed ken nie.

 

Hoekom maak dit dan saak?

 

Ná oplees, ondersoek, eksperimentering en selftoepassing het ek begin agterkom dat die eienskappe wat in vandag se lewe krities is vir sukses – insluitend emosionele intelligensie, empatie, trefkrag, invloed, kommunikasie en samewerking – alles spruit uit ons eie self-bewussyn.

 

As ons nie self-bewus is nie, is dit amper onmoontlik om die vaardighede te bemeester wat van ons 'n sterker spanspeler, 'n beter leier en beter verhoudingsbouer maak, hetsy dit by die werk of in die res van ons lewe is.

 

Daar is geen beter manier om ons selfkennis te verhoog as om na binne te kyk nie. Dit beteken om diep in ons ervarings en emosies te delf en om te verstaan hoekom ons is wie ons is en hoekom ons doen wat ons doen, en dit sonder om in 'n gat van negatiwiteit te verval.

 

As ons 'n bietjie na binne kyk, kan ons ons gevoelens probeer verstaan. Dan kan ons onsself

afvra oor ons oortuigings en probeer om 'n negatiewe uitkoms of patroon te verduidelik.

 

Die probleem met introspeksie is nie dat dit ondoeltreffend is nie, maar dat ons dit nie altyd reg doen nie.

 

Wanneer ons die oorsake van ons gedagtes, gevoelens en gedrag ondersoek (wat ons dikwels doen deur onsself te vra “hoekom?”) is ons geneig om te soek na die maklikste en aanneemlikste antwoorde.

 

Om te vra “hoekom?” kan meebring dat ons op ons probleme konsentreer eerder as om op 'n gesonde en produktiewe manier vorentoe te fokus. As “hoekom” dan nie so 'n nuttige vraag is om te vra nie, wat moet ons dan vra?

 

Om te vra wát ons kan doen, om oopkop te bly om nuwe inligting oor onsself te ontdek, (al is daardie inligting negatief of strydig met ons bestaande oortuigings) is soveel beter as om te vra “hoekom.”

 

Wanneer dit dus kom by die ontwikkeling van interne selfbewustheid, maak eerder gebruik van hierdie eenvoudige instrument: Vra “wat”-vrae, nie “hoekom”-vrae nie!

 

“Hoekom”-vrae kan ons beperk, terwyl “wat”-vrae ons kan help om ons potensiaal raak te sien. “Hoekom”-vrae wek negatiewe emosies; “wat”-vrae hou ons nuuskierig.

Met “hoekom”-vrae raak ons soms verstrengel in ons verlede; “wat”-vrae help ons om 'n beter toekoms te sien en te skep.

 

Kom ons gestel jy is eendag in 'n verskriklike nukkerige bui. Om te vra “Hoekom voel ek so?” sal moontlik op onnuttige antwoorde afstuur soos “Omdat ek niks van Maandae hou nie!” of “Omdat ek net 'n negatiewe persoon is!”

 

As jy besluit om eerder te vra “Wat voel ek nou?” kan jy tot die besef kom dat jy oorweldig voel by die werk, uitgeput en dalk selfs honger is. Gewapen met daardie kennis, kan jy dan besluit om na jouself om te sien, 'n vriend te skakel en 'n braai te reël, 'n doenlysie op te stel, of jy kan besluit om vanaand sommer vroeg in die kooi te gaan klim.

 

Jy het gewen!

 

Deur soms “wat” in plaas van “hoekom” te vra, kan dit ons dwing om ons emosies by die naam te noem. Deur die eenvoudige daad om ons emosies in woorde om te sit (eerder as om hulle bloot te ervaar) kan ons brein ophou om ons “veg-of-vlug-reaksies” te aktiveer.

 

Voorts is dit net so noodsaaklik vir 'n gesonde, gebalanseerde lewenswyse om duidelike grense te stel.

 

'n Grens is 'n persoonlike eiendomslyn wat die dinge aandui waarvoor ons verantwoordelik is. Grense definieer dus wie ons is en wie ons nie is nie.

 

Dr. Henry Cloud en dr. John Townsend bied in hul boek, Boundries, Bybelse antwoorde op hierdie en ander moeilike vrae wat ons wys hoe om gesonde grense te stel wat ons ouers, gades, kinders, vriende, medewerkers en selfs onsself betref.

 

Dieselfde man wat die onderhoud met my gevoer het, het ook 'n hele ruk lank voorgestel dat ek die boek lees en ná seker 'n jaar het ek Bargain Books toe gestap en die boek gaan koop. Ek dink dit was ook uit 'n sin van desperaatheid na antwoorde en 'n dors na verstaan dat ek die boek gaan koop het. Die boek het voorwaar my lewe verander.

 

Jy sien, ek het nie besef hoe belangrik dié grense regtig is nie.

 

Wanneer ek dan hierdie introspeksie begin doen, vra ek myself heel eerste af: Waar lê my grense? Watter grense kan ek intrek en waar stel ek myself bloot?

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close