Algemeen -

Die pedantiese pedagoë

Ek kan nie aan ’n beter opskrif dink wat die nodige effek sal hê van wat ek hier probeer oordra nie. Laat my wegval deur die twee terme te definieer. “Pedanties” beteken om verwaand of skoolmeesteragtig te wees.  ‘n Persoon wat te koop loop met sy geleerdheid en iemand wat oordrewe gewig heg aan die nakoming van (kleinlike, onbelangrike) reëls en ’n “pedagoog” is ’n opvoedkundige. Die manier waarop ek die twee terme inspan, mag dalk na 'n baie vreemde kombinasie klink, maar ek glo baie mense sal met my saamstem dat daar in ons samelewing talle pedante is wat hulself as pedagoë ag en wat vir ander wil vertel hoe dinge eerder gedoen moet word en wat hulle eintlik moes doen toe hulle gedoen het wat hulle in daardie stadium goedgedink het om te doen.

Dit laat my dink aan Susan-Marie, ’n oujongnooi van Vredendal wat elke Sondag uit die dorp plaas toe gery het om by haar ouers Sondagmiddagete te gaan eet. Die rit plaas toe was ’n 60 km lange rit en haar ma het altyd groot gekook vir die kind se kuiertjie. Die een Sondag besluit Susan-Marie tot haar spyt om nie te veel te op te skep nie want sy was nie so honger nie. Dit is toe dat haar ma haar aanraai om eerder te eet, want daardie “anoreksiese” lyfie gaan nie vanself regkom nie en sy hoor juis by die tannies van die VLU dat anoreksie nou juis die “in-ding” is. Drie Sondae later, en weer om die middagetetafel, was Susan-Marie regtig honger nadat sy die hele Saterdag by die kerkbasaar moes werk en daar nie tyd was om te eet nie en so skep sy toe meer op. Dit is toe dat haar pa afhaak en sê dat sy liefs minder moet skep want ’n vrou se figuur is belangrik om ’n man op die dorp te vang. Drie Sondae later kon sy dit nie oor haar hart kry om haar ma te vertel dat sy op pad plaas toe reeds KFC geëet het nie. Met die dat sy toe amper niks inskep nie, bars haar ma in trane uit oor haar dogter wat nou swanger, ongetroud en alleen is.

Soos wat Susan-Marie se ouers soos wafferse pedantiese pedagoë te kere gegaan het, is daar ook ’n hele paar wysneuse nes die oom en tannie van Vredendal in ons midde. So dryf talle pedante kwessies op die spits sonder om die regte inligting en feite in te win en doen hulle dit bloot net om hul eie agenda te dryf. Daardie agenda is ook vaag en is nie altyd mooi te begryp nie. Die agenda is eerder verswarend as versagtend; is negatief eerder as wat dit positief is; en is afbrekend eerder as om opbouend te wees.

Hierdie makkers sal ’n groot geraas maak oor korrupsie wat botvier in Suid-Afrika, maar sodra iemand korrupsie wil hokslaan deur die aanstelling van een van die land se bestes, word die aanklaer, wat hul oupa kon wees, se besluite in twyfel getrek en raai die wysneuse die oom aan om sy besluit te heroorweeg. Ek dink die oom is oud genoeg om self oor sy eie beroepskuiwe te besluit. Hulle spoel hul monde uit oor wit op swart rassisme en met reg so want dit is verkeerd, maar wanneer dit kom by omgekeerde rassisme is hulle so blind soos ‘n mol, want daardie soort rassisme kom uit 'n struggle-agtergrond en kan beredeneer word. Hulle, met die strydros du Preez voor in die koor, het ook baie te sê oor Afrikaanse onderrig, godsdiens in skole, tradisies op kampusse en ’n “kumbaya”-samelewing.

Hiermee eerbare, hooggeplaaste, pedantiese pedagoë, wil ek julle graag en sónder apologie vra om eerder iets doen om die plek ’n beter plek te maak as om diegene wat wel skouer aan die wiel sit, af te kraak. Jou stuiwer in ’n fopnuus-artikel sal nie deug nie.

 

Groete

Bouer, werker en hoopgewer

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Juran van den Heever Deur Juran van den Heever


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close