Algemeen -

Die pluskant van Inflasie

Inflasie is sleg. Dit vreet jou salaris se koopkrag op en maak dit moeiliker om jou leefstyl te handhaaf. So, hoekom mik die Reserwebank vir inflasie van tussen drie en ses persent? Hoekom nie nul nie? Met alles anders buite rekening gelaat, sal pryse wat onveranderd bly die ideaal wees. Maar alles anders kan nie buite rekening gelaat word nie. Mense wil salarisverhogings sien. Die aanbod van produkte bly nie onveranderd nie en die wêreldekonomie groei, al sien ons hier maar min van daardie groei.

'n Inflasiekoers van 0% is daarom onwaarskynlik, maar daar is lande wat dit beleef. Japan was die afgelope dekades die meeste van die tyd in 'n toestand van stabiele of negatiewe inflasie. Dit is lekker vir die algemene mens, maar vir die groep as geheel is dit nie so ideaal nie. Mense is nie bereid om hul geld te spandeer as dit voortdurend meer werd word nie. Dit maak dit dan amper onmoontlik om behoorlike ekonomiese groei te bereik.

In Suid-Afrika sukkel ons reeds om ekonomiese groei te bewerkstellig. As inflasie negatief was, sou dit wees soos om rente op jou geld te ontvang sonder dat jy dit belê. In so 'n omgewing sal die R100 onder jou matras volgende jaar R110 werd wees, dus sal dit die beste wees om jou geld net te hou. Inflasie is daarom nodig om veral die kleinhandelsektor aan die gang te hou. Daarsonder sal 'n mens nie nou 'n Suzuki wil koop as jy oor 'n paar jaar 'n Mercedes vir dieselfde bedrag sal kan koop nie.

Nog 'n voordeel van inflasie is dat dit die las van skuld verlig. Gestel jy het 'n huis gekoop vir R2 miljoen en inflasie is 7%. As jy elke jaar 'n inflasieverwante salarisaanpassing ontvang, sal daardie R2 miljoen in die eerste jaar van jou verbandterugbetalings tien keer jou jaarlikse salaris van R200 000 wees. Na tien jaar sal jou salaris, met 7% aanpassings, slegs 'n vyfde van jou huis se koopprys wees. Inflasie wis dan jou skuldlas uit.

Vir die gewone mens is pryse wat styg sleg genoeg om hierdie “wen” ongedaan te maak. As ons egter dieselfde som vir staatskuld doen wat tans R4,3 biljoen (“trillion” in Engels) beloop, kan 'n mens sien hoekom 'n positiewe inflasiekoers verlang word. Op so 'n bedrag is reële “afslag” van 50% oor tien jaar nie te versmaai nie. Inflasie is daarom 'n tweesnydende swaard.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close