Ekonomie, Nuus, Politiek -

Die raskaart

Solidariteit en AfriForum is onlangs deur die ANC uitgekryt dat hulle die raskaart gebruik en oorlog teen transformasie verklaar het.

 

Hierdie beskuldiging deur die ANC het gevolg na afloop van die hofverrigtinge van 16 April toe die Departement van Toerisme teen Solidariteit en AfriForum in die hof te staan gekom het. Die twee organisasies het hulle op ’n dringende basis na die hof gewend om die wettigheid van dié Departement se ekwiteitsfonds wat uitsluitlik vir ondernemings met oorwegend swart eienaars bedoel is, uit te daag.

 

Ek was heel verbaas oor die ANC se aantyging. Oorlog verklaar teen hulle rasmal-ideologie vir seker, maar die raskaart? Regtig? So asof enige Afrikaner oor so iets beskik.

 

Dit is eerder die rasmalregering en ander swart politici wat dit graag uitpluk en rondswaai wanneer hulle verontwaardig voel of hulle argumente (oor enige denkbare onderwerp) plat val. Die sogenaamde raskaart is dan ook die regering se gunsteling verskoning om self diskriminasie toe te pas soos in die geval van die Toerisme Ekwiteitsfonds en dit is juis teen hierdie diskriminasie wat Solidariteit en AfriForum veg.

 

Om ’n fonds te stig en dit dan slegs aan besighede met 51% swart eienaarskap beskikbaar te stel en dit boonop ’n ekwiteitsfonds te noem, sou lagwekkend wees as die impak daarvan nie so ernstig was nie.

 

Die Toerismesektor is lamgelê as gevolg van die voortslepende pandemie wat reeds verskeie vlakke van inperkings in Suid-Afrika, maar ook ander wêreldlande, tot gevolg gehad het. Menige ondernemings in die industrie moes vir 'n geruime tydperk hul deure toemaak en kon daarna slegs ’n beperkte diens aan kliënte lewer. Baie van hierdie besighede kon dit egter nie volhou nie en is gedwing om daardie deure permanent te sluit.

 

Die staat se oplossing: buit die situasie uit deur swart entrepreneurs te befonds om nuwe besighede in hierdie sektor op die been te bring ten koste van die ondernemings wat as gevolg van die pandemie finansieel geruïneer is. Hulle neem ook nie in ag dat die oorgrote meerderheid werknemers van sodanige besighede swart is en nou hulle werk kwyt is nie. Wat hulle dus doen is nie om die probleem op te los nie, maar om verdere werkverlies te veroorsaak.

 

Dit is egter nie ’n nuwe verskynsel dat die regering sy raskaart uithaal om mense van een ras te bevoordeel ten koste van mense van ander rasse nie. Dit is ook nie die eerste maal dat Solidariteit en AfriForum daarvan beskuldig word dat hulle teen SEB en transformasie gekant is nie.

Ek wonder of die regering gesien het SEB werk nie? En dat geforseerde transformasie tot dusver nie ’n suksesverhaal by enige staatsentiteit gelewer het nie. Hulle kom klaarblyklik ook nie agter dat alles wat hulle sentraliseer ten gronde gaan, maar waar inmenging en voorskriftelike regulasies nie van toepassing is nie, én waar vaardighede en kennis as kriteria gebruik word eerder as dié van velkleur, welvarendheid geskep word nie.

Of hulle dit raaksien of nie, erken sal hulle tog nooit. Dis tog net nog ’n geleentheid om die raskaart uit te pluk en apartheid die skuld te gee sodat hulle geen verantwoordelikheid hoef te aanvaar nie.

 

Daardie raskaart raak meer en meer aanloklik. Ek sal ook graag een wil hê, maar dan besef ek, ek sal dit in elk geval nie gebruik nie. Dit is nie in ons aard om te verskonings uit te dink en ander te blameer vir ons mislukkings nie. Dit is ook nie in ons aard om onsself vanuit die staanspoor tot so ’n mate te saboteer dat mislukking onafwendbaar is nie. Nee, ons neem verantwoordelikheid vir ons eie toekoms en ons bou daadwerklik daaraan om dit vir ons én ons nageslag te verseker. Ons strewe na vooruitgang en bewaar dit wat ons geërf het. Ons is nie brekers nie en ons is nie blameerders nie. Ons het nie ’n raskaart nodig waaragter ons hoef te skuil nie.

  •  
  •  
  •  
Johnell Van Vollenhoven Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close