Algemeen -

Die regering se normaal teenoor die nuwe normaal – Waar pas jy in?

Deur Reon Janse van Rensburg

Dit is moeilik om die term “normaal” te definieer. Elkeen se persepsie van normaliteit verskil. Dit sal dus makliker wees as ons dan eerder noem wat nie normaal is nie en van daar af die grondslag bou om “normaal” te definieer.

Die nuwe normaal, soos daarna verwys word, laat die meeste van ons met 'n gevoel van ongemak. Dit is 'n blindelingse tree na die onbekende wat aan groot woorde soos revolusie gekoppel word. Dit praat van die toekoms waar tegnologie die middelpunt van die werkplek is en byna alles beïnvloed soos ons dit vandag ken, en 'n wêreld waar die strewe na gelykheid 'n universele gedagte geword het. Gelykheid in hierdie konteks is egter nie haalbaar nie, maar 'n gelyke wegspringplek kan die konsep vergemaklik.

Hierdie ongemak is nie noodwendig iets waarvan ons moet weghardloop nie; dit is eerder 'n gulde geleentheid om 'n nuwe persepsie van normaliteit te gebruik om 'n nuwe toekoms te skep.

Suid-Afrika se huidige stand van normaliteit sluit die volgende in, en verskoon tog asseblief indien ek 'n paar dinge uitlaat as gevolg van my geheue wat reeds van die besonderhede geblokkeer het of omdat dit bloot te waansinnig is om weereens op papier neer te pen:

Die eerste is magsbehepte polisiebeamptes en 'n minister wat klaarblyklik nie bewus is van die doel van die inperking nie, en wat boelietaktiek gebruik om die einste burgers wat hulle veronderstel is om te dien, eerder die skrik op die lyf jaag in plaas daarvan om regte kriminele te ondersoek.

Eskom, die staatsinstelling wat veronderstel is om die ligte aan te hou en jou ook verhoed om die grootste onuitputbare bron van energie, naamlik die son, vrylik te benut, los ons reeds aan die begin van 'n nuwe jaar in die donker. Dit is nie die eerste keer nie en dit het al so die gewone toedrag van sake geword dat ons as Suid-Afrikaners reeds die wanbestuur en verskonings as normaal aanvaar.

Terselfdertyd sit ons met 'n regering wat Suid-Afrikaners oor die afgelope jaar aan die mees sinnelose maatreëls onderwerp het om kwansuis te voorkom dat die pandemie vererger en  mediese dienste in dié tydperk oorval word en nie sal kan byhou nie. Of dit wel in sy doel geslaag het, is oop vir debat, maar die ekonomiese gevolge van die inperking is eindeloos en het veroorsaak dat meer as 2 miljoen mense in die tweede kwartaal van 2020 hul werke verloor het. Nes die tweede vlaag van die pandemie 'n krisispunt bereik het, sal 'n tweede vlaag van werksverliese die ekonomie die finale knou toedien waarvan daar nie herstel sal kan word nie.

Indien 'n inperking daarin sou slaag om mense gesond te hou, maar hulle verloor hul inkomste as gevolg van die ekonomie wat tot stilstand gekom het en die gebrek aan enige ekonomiese vooruitgang, het jy slegs daarin geslaag om mense van 'n virus af weg te hou terwyl hulle vergaan van hongersnood en armoede. Vir laasgenoemde “virus” is daar slegs een entstof – vooruitgang in die werkplek wat die ekonomie aan die gang hou.

Indien die inperking en sy gevolge ook die maatreël is wat die regering gebruik om groter gelykheid onder landsburgers teweeg te bring, het hulle wel daarin geslaag omdat daar ná die nasionale inperking selfs meer mense sal wees wat in armoede gedompel is as wat daar voor die inperking was.

Dit is duidelik dat wanbestuur, korrupsie, misdaad, armoede en grootskaalse agteruitgang vir die ANC-regering normaal is. Vir die einste kaders en onbevoegde mense wat deel uitmaak van die regering is daar ook nie 'n nuwe normaal nie. 'n Nuwe normaal verg 'n nuwe manier van dink en hernuwing in die benadering tot ou probleme – weg met die oue en in met die nuwe.

Die ANC is nie in staat tot hernuwing nie, en dit kan gesien word waar die swart middelklas, die werkersklas en ook die jeug wat vir lang tydperke deel van die ANC se ondersteuningsbasis was, hul rug op die party draai. Hierdie groepe sal moontlik in die toekoms nog meer volgens nuwe politieke stemlyne verdeel word. Die populistiese benadering wat politieke partye soos die ANC en EFF gebruik om relevant te bly om die griewe van hul kiesers aan te spreek, is uitgedien en gemeenskappe kom agter dat hulle nie op die regerende party kan staatmaak nie, selfs nie te midde van 'n pandemie nie.

Sowat 18 miljoen Suid-Afrikaners is afhanklik van toelaes wat deur die staat toegeken word. Die geld wat maandeliks aan hierdie miljoene mense uitbetaal word, word deur die regering vanaf ander lande en instansies geleen. Ekonome waarsku dat indien Suid-Afrika later die jaar deur kredietgradeerders verder afgegradeer word, die regering nie in staat sal wees om die geld wat hulle hiervoor geleen het, terug te betaal nie. Daar kan dus reeds gevra word wat die regering se verduideliking aan die byna 18 miljoen mense sal wees wat dalk in die toekoms nie hul toelaes sal kry nie. Een ding is seker: die ANC se normaal waar groot leuens en vingerwys aan die orde van die dag is, is weereens aan die broei.

'n Nuwe normaal verg nie nog 'n politieke party wat op die kieserslys geplaas word nie. Die nuwe normaal verg die samewerking tussen gemeenskappe wat mekaar in onsekere en ook in seker tye kan help. 'n Nuwe normaal sluit die lewering van dienste, opleiding en vooruitgang deur die gemeenskap en vir die gemeenskap in.

'n Nuwe normaal is op die horison, maar dit sal nie aan jou uitgedeel word nie – dit sal van jou afhang of jy dit raakvat en die geleenthede jou eie maak.

My nuwe normaal is 'n omgewing waar ek vry, veilig en voorspoedig kan leef.

Wat is joune en hoe lyk jou nuwe normaal?

  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close