Algemeen -

Die simboliek van die Denel-oorwinning

Solidariteit-lede vier 'n oorwinning oor die staatsbeheerde Denel nadat meer as R300 miljoen se agterstallige salarisse aan Denel-werknemers uitbetaal is. Solidariteit het beslag gelê op van Denel se bates en meubels en hyskrane is voor hul oë opgeveil. Toe Denel nie wou hoor nie, is beslag gelê op hul bankrekeninge. Die uiteinde – duisende gesinne kan weer 'n toekoms begin bou.

Waarom is die belangrik? Waarvan is dié oorwinning simbolies? Dit sê dat dit vir 'n klein groepie mense moontlik is om 'n groot verskil te maak. Dit sê dit ís moontlik om die staat uit te daag daar waar onreg geskied. Dit sê dat ons onsself kan beskerm en dat ons saamstaan ons sterker maak. Die Denel-oorwinning is nie net 'n arbeidsgeskil nie; dit is die basuin van 'n ramshoring wat verklaar dat ons onsself laat geld. Dit bewys dat ons moet deel wees van iets groter as onsself.

Denel was vir lank aan die voorpunt van millitêre tegnologie. Geskiedkundiges, veral oor die oorlog in Angola, onthou nog hoe verbaas die wêreld was oor die wapentuig wat Suid-Afrika destyds vervaardig het. Wat dit meer besonders maak is dat dit sonder hulp uit die buiteland gedoen is, en dat dit uit noodsaak gedoen is. Die land moes teen kommunisme, 'n wesenlike gevaar in daardie stadium, beskerm word. En danksy Denel se tegnologie kon ons die bedreiging van kommunisme plaaslik afweer tot dit internasionaal gefaal het. Ter wille van 'n ideaal het ons, die mense van Suid-Afrika, millitêre tegnologie vir ewig verbeter.

Toe hierdie ideaal begin vervaag, het die destydse instellings ook begin verval. Denel se werknemers vertel hoe hulle steeds tegnologie verbeter het, maar dat die nuwe tegnologie amper nooit tot produksie oorgegaan het nie. Dit is genoeg om 'n mens se moed te breek.

So 'n ideaal van uitnemendheid is ook wat Solidariteit kenmerk. Ons kon nie toekyk hoe ons lede by Denel verarm en vir die wolwe gegooi word nie. Ons het vir die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis 'n beslagleggingsbevel teen ‘n staatsentiteit bekom. So kon ons verseker dat Denel se ooreenkomste met werknemers eerbiedig word. Om 'n skikking te bewerkstellig was nie die oorwinning nie. Geld in ons lede se bankrekeninge is die oorwinning. Voor geregtigheid kon geskied, het ander Solidariteit-instellings soos Helpende Hand mense gehelp om aan die lewe te bly.

Dit is ook hierdie benadering wat maak dat Solidariteit nie bloot toekyk as ander instellings verval nie. Net soos Denel is Eskom ook 'n eens trotse instelling wat weens staatskaping en jare se wanbestuur verval. Ons daag Eskom voor die hof as hulle onregverdige heffings wil instel, begelei honderde deur die Nersa-lisensieproses om hulle met kleinskaal-kragopwekking te help, oorhandig 'n lys van kundiges wat beskikbaar is om Eskom te help aan dié instelling se bestuur; reik verslae uit om die probleem te verstaan en mobiliseer duisende Suid-Afrikaners totdat 'n parlementêre debat oor die krisis toegestaan word. So sal ons Eskom red.

Omdat Solidariteit uit die Christelike vakbondtradisie, eerder as die Marxistiese tradisie van die meeste ander vakbonde kom, glo ons aan opbou en vooruitgang; nie net aan herverdeling nie. Ons lede se belange kom eerste, maar dit moet altyd in samehang met landsbelang wees. Daarom sal ons toesien dat ons lede by Denel vergoed word vir die werk wat hulle doen. En daarom sal ons Eskom red.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close