Nuus, Politiek -

Die skuld van Jan

Ek lees vandag 'n berig oor die woorde wat val in die Vrystaat oor onder andere die toestand van paaie. Volgens die ANC-regering is dit Jan se skuld. Ek het hardop begin lag. Hoe daar op hierdie aarde tot daardie slotsom gekom is, gaan my verstand en alle logiese denke te bowe.

 

Die ontkenning van eie mislukking is iets wat ons elke dag op verskeie platforms en uit verskeie monde van die regeerder hoor. Selfs by die president. Voortdurend by die president. As voorbeeld by die president. Blaam word verplaas en daar is 'n onvermoë om verantwoordelikheid te aanvaar. Verontskuldiging. Ontkenning. Swakheid.

 

Ek wonder soms of dit moedswillig is en of hulle werklik hulself glo. Hoe dit ook al sy, dit is om hierdie rede dat ons regering misluk. Daar is net geen manier om vooruitgang te kan bewerkstellig as jy jou eie foute nie kan erken nie.

 

Ek wens ek kon my hand opsteek en aanbied om Jan te wees. Ek sal met graagte al die skuld aanvaar, maar dan wil ek ook die al verantwoordelikheid hê. Met graagte sal ek blameer word vir al die sleg en die seer, die dinge wat nie werk nie, die instansies wat beroof word en die haglike omstandighede waarin mense moet probeer oorleef.

 

En met my verantwoordelikheid sal ek begin regmaak en skoonmaak. Ek sal aanstel wie bevoeg is. Ek sal dereguleer en groei aanmoedig. Ek sal onderwys in verskeie moedertale laat ontwikkel, en leer en lees 'n werklike prioriteit maak. Ek sal dokters laat dokter sonder om hulle binne 'n stelsel te probeer vasvang. Ek sal boere laat boer en eerder na hul oplossings luister as na 'n minister want min idee het van die werklikheid waarmee hierdie mense gekonfronteer word.

 

Ek sal gemeenskappe sterk maak. Ek sal desentraliseer en toelaat dat burgers meer insae het en dat vergrype aan mag geminimaliseer word. En ek sal werk. Hard werk. Soos die regte Jan wat uit 'n rou stuk aarde 'n funksionele nedersetting gebou het; wat laat plant het, wat laat onderrig het, wat die hoekstene vir vooruitgang aan die suidpunt van Afrika kom lê het.

 

Daardie hoekstene het nie verkrummel nie. Hulle staan nog vas, en op hulle bou ons steeds voort – soms stil en diep gefokus, en ander kere hard en vol veglus – maar deurentyd sonder om van stryk gebring te word. Doelgerig. Gefokus.

 

Nie die ANC, sy lede in die regering of enige ander radikale politikus kan ons van koers laat verander nie. Hulle woorde en dade vuur ons eerder aan om te volhard en ons drome te verwesenlik. Anders as hulle, weet ons waar ons vandaan kom. Ons weet hoekom ons hier is. Ons weet dat ons hier mag wees, en bo alles weet ons waarheen ons op pad is. Ons sal vry wees. Ons sal veilig wees. En ons sal voorspoedig wees.

  •  
  •  
  •  
Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close