Algemeen -

Die SNI-ETM Arbeidsmarkindeks en die resessie

Die Solidariteit-ETM Arbeidsmarkindeks (AMI) en -rapport is een van die meer omvattende projekte wat die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) aanpak. Die jongste indeks, wat deel vorm van die Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkrapport vir April – Junie 2017, is vandag deur die SNI in samewerking met ETM Analytics, 'n span intydse markanaliste en ekonome, vrygestel.

 

Klik hier om die indeks en rapport aanlyn te lees.

 

Die LMI bestaan uit drie indekse, onder meer 'n indeks van werksekerheid wat vloei vanuit 'n kwartaallikse peiling onder Solidariteit se lede; 'n indeks oor sake-omstandighede wat vanuit ETM se sakesiklusaanwysers ontwikkel word; en 'n indeks wat die bekostigbaarheid van arbeid vir werkgewers aandui.

 

Hierdie drie indekse word uiteindelik tot die AMI se finale syfer verwerk en op die volgende grafiek aangedui.

 

Die uiteinde van die AMI is 'n syfer wat bo of onder kan 50 val, waar 50 die gelykspeelvak tussen stygende en dalende werk- en loonsekerheid is.

 

Die meeste van ons wat werk, sal wil hê dat die syfer bo 50 moet val, omdat dit daarop sal dui dat werk- en loonsekerheid besig is om te versterk, en dat werkgewers meer “ruimte” in hul begrotings mag hê om deur o.a. loonverhogings vir werknemers te kompeteer.

 

Soos in die volgende tabel gesien word, is die LMI vir die eerste kwartaal van 2017 op 'n syfer van 47.8 bereken, maar wat beteken dit? Basies gestel, 'n AMI-syfer onder 50 beteken dat werk- en loonsekerheid in SA besig is om te daal.

 

'n Vlak van 47,8, tussen 40 en 50, maar nader aan 50, soos ons in K1 2017 sien, dui daarop dat matiger werk- en loononsekerheid beleef word, wat beteken dat vergoeding onder druk is, stagneer of stadig styg, en dat daar afleggings in sommige sektore gesien word. Hoe verder die indeks onder die vlak van 50 daal, hoe swakker raak die prentjie vir jou as werknemer.

 

In vergelyking met die afgelope kwartale was daar in K1 2017 darem 'n ligpuntjie. Teenoor die vierde kwartaal van 2016 het die indeks aansienlik verbeter. Hierdie verbetering van 42.2 tot 47.8 was meesal te danke aan 'n versterking van ETM se sakesiklusaanwysers en minder werksonsekerheid. Tog moet ons in gedagte hou dat die indeks steeds onder die vlak van 50 val, wat tegnies gesproke daarop dui dat werk- en loonsekerheid steeds besig is om te verswak, hoewel beduidend stadiger as vantevore.

 

AMI in konteks van 2017 se amptelike resessie

 

Dit is wel interessant dat die indeks so sterk in kwartaal een versterk het te midde van die amptelike resessie wat nou in die BBP-syfers aangegee word, waar BBP in K1 2017 vir die tweede kwartaal in 'n ry op 'n geannualiseerde ktk-grondslag gedaal het (na -0.7% in K1 2017 en -0.3% in K4 2016).

 

Vir ons dui dit daarop dat selfs die beter sake-omstandighede, soos gesien in ETM se sakesiklusindeks en in die leidende aanwysers van die Reserwebank en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD), sowel as 'n vermindering van werksonsekerheid in K1, nie die ekonomiese stagnasie wat die ANC-regering se strukturele beleidsbelemmeringe en politieke onsekerheid veroorsaak, die hoof kon bied nie.

 

Daar is tans in ons ekonomie 'n wisselwerking tussen faktore soos 'n sterker rand en gunstiger hulpbronpryse vir SA se minerale wat dinge kan laat verbeter, teenoor strukturele beleidsbelemmeringe soos oorregulering, grootskaalse regeringsinmenging en beleidsonsekerheid, wat vrye ondernemerskap en groei onderdruk.

 

Ekonomieë is lewenskragtig en mense kan met sukses rondom heelwat van hierdie belemmeringe werk, maar uiteindelik, wanneer politieke onsekerheid en inmenging te veel raak, sal ongunstige elemente selfs gunstiger sikliese faktore kan baasraak.

 

Na ons mening is dit wat in K1 gebeur het. 'n Sterker rand, gunstiger hulpbronpryse en verbetering van die droogte-omstandighede het as’t ware die tafel vir sterker groei gedek, maar dit blyk nou dat weens skadelike beleid en politieke onsekerheid, die deelnemers aan die ekonomie as geheel eenvoudig nie na wense by die gunstiger omstandighede kon baat nie.

 

Die onderliggende strukturele skade aan die ekonomie het dus in K1 duideliker na vore getree.

 

Dit sluit aan by die breër tema van ekonomiese stagnasie en swak vaste investering wat sedert die Nenegate-debakel van laat 2015 gesien word. Dit is die oorsake van hierdie stagnasie van groei wat eintlik die probleem is – die huidige “amptelike” resessie is slegs 'n simptoom van hierdie dieper probleem.

  • 11
  •  
  •  
  •  
Gerhard van Onselen Deur Gerhard van Onselen


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close