Vir so lank as wat ek kan onthou, is ek geleer dat die Staat, oftewel 'n regering absoluut noodsaaklik is vir 'n samelewing.

 

Sonder die moderne staat, word ons vertel, sal ons gou in ‘anargie’ verval en sal die samelewing nie moontlik wees nie.

 

Dit is die idee wat uit verskeie oorde aan ons gekommunikeer word – in staatskole, staatsuniversiteite, deur politici om net 'n paar te noem.

 

‘Anargie’, soos dit gereeld verduidelik word, is 'n gevreesde niemandsland waar wet en orde opgeskort word en almal veg vir hulle eie belang, sonder enige saak met ander. 'n Wêreld waar eiebelang seëvier ten koste van jou medemens. 'n Nagmerrie-wêreld in 'n konstante staat van oorlog.

 

In die woorde van Thomas Hobbes is 'n soewereinemag nodig om dié soort oorlog van almal teen almal te verhoed. Hobbes stel dit so:

 

“… that during the time men live without a common power to keep them all in awe, they are in that condition which is called war; and such a war as is of every man against every man”.

 

Voorstanders van sentralisering en die uitbreiding van staatsmag is natuurlik gaande oor Hobbes se siening. Hoe dan anders?

 

Tog beteken die woord anargie in sy eenvoudigste vorm slegs “sonder 'n regeerder”, daarom is dit meer akkuraat om na die bogenoemde nagmerrie-anargie as Hobbesiaanseanargie te verwys.

 

“Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?” Volgens Hobbes, blykbaar, van die soewereinemag van die staat wat almal in ontsag en eerbied moet saambind.

 

'n Groep mense word nou afgevaardig om ander mense teen hulleself en die bose menslike natuur te beskerm.  'n Gewelddadige en onbetroubare mensdom word nou skynbaar deur 'n spesiale klas persone, diegene in die staat, in toom gehou.

 

Is dit werklik so?

 

Ek weet dat om die noodsaaklikheid van die staat te bevraagteken, gewaagd is. Meeste mense glo dat een of ander vorm van regering noodsaaklik is.

 

Kom ons vra dan ten minste of die moderne staat werklik die gevreesde Hobbesiaanseanargie verhoed. Dit bring my by die onlangse staking van die Suid-Afrikaanse Poskantoor, wat miskien slegs 'n anekdotiese voorbeeld is.

 

Onlangs begin 'n wekelange staking by die Poskantoor. Die staking raak gewelddadig.

 

Vandeesweek berig die Benoni City Times die Benoni-poskantoor is skynbaar deur betogers met klippe bestook en ontwrig. Pos is skynbaar in die strate gestrooi.

 

In ander berigte sien ons poskantoorvoertuie wat uitgebrand is pos lê weereens die strate vol.Die sosiale media is tans vol klagtes van persone en besighede wat van die poskantoor se diens afhanklik is. Dit is denkbaar dat baie mense as gevolg van die staking baie skade gely het.

 

Die staking vloei blykbaar vanuit 'n ontnugtering met die Poskantoor se arbeidsstrategie, wat konflik tussen deeltydse en voltydse werkers veroorsaak het.

 

Die Poskantoor soos ons hom ken is in 1991 geïnkorporeer en is 'n private maatskappy in staatsbesit. Die Poskantoor is veronderstel om 'n toonbeeld van wet, orde en doeltreffendheid te wees. Dat lande nie so 'n belangrike diens soos die aflewering van pos aan ‘n vryemark kan oorlaat nie, is ‘n redenasie wat in baie lande gevolg is.

 

In Suid-Afrika is stakings, selfs gewelddadige stakings, 'n alledaagse gebeurtenis. Is die poskantoor staking nie net nog 'n gewone staking nie?

 

Wel, kom ons kyk na 'n paar feite –

 

  • Die Poskantoor word deur verskeie stukke wetgewing bekragtig. Die wetgewing bemaak basies aan die Poskantoor in 'n monopolie op die verskaffing van sekere posdienste.
  • Soos baie instellings in staatsbesit word die Poskantoor aan die lewe gehou deur die staat se beursie van belastinginkomstes en inflasie.

 

Die posdiensmonopolie beteken dat ander besighede nie direk op sekere vlakke met die poskantoor kan kompeteer nie. (Ironies, in die lig van die bestaande mededingingswetgewing wat op normale besighede van toepassing is).

 

Private besighede sal kwalik kan meeding met die staat se ‘onbeperkte’ beursie van voortvloeiende befondsing en reddingspakkette waarop gereeld aanspraak gemaak word.

 

Verder, hoe lank sal 'n private besigheid, wat toelaat dat mense se pos en pakkies, in die strate gestrooi word, bly voortbestaan? Ek dink nie lank nie.

 

Nou my vraag waarmee ek afsluit: Het ons regering se betrokkenheid by die verskaffing van posdienste wet en orde of “anargie” in ons samelewing bevorder?

 

As ons aanneem dat die staat veronderstel is om 'n oorlog van almal teen almal te verhoed, hoe is dit dan moontlik dat diegene wat nader aan die staat is, kan betoog vir permanente aanstellings en bo-markverwante salarisvergoeding ten koste van belastingbetalers?

 

Is dit nie maar net “Hobbesiaanseanargie” met 'n nuwe baadjie nie? Waar die stryd nou tussen staatsfaksies en belastingbetalers heers nie? Ek laat dit aan die leser oor om self hieroor te besin.

  •  
  •  
  •  
Deur Gerhard van Onselen


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close