Algemeen -

Die stille meerderheid se stilte is oorverdowend

Die stille meerderheid is gefrustreerd. Die stille meerderheid is raadop. Die stille meerderheid is woedend, maar die stille meerderheid is tjoepstil.

Die stille meerderheid is gewoonlik 'n groot groep mense wat nie hul opinies in die openbaar bekendmaak nie. Die term is in die vroeë 19de eeu gebruik as ’n eufemisme om te verwys na diegene wat nie meer leef nie. Hierdie term het later in ’n politieke konteks bekend geword toe die destydse VSA-president, Richard Nixon, op 3 November 1969 in 'n toespraak tydens sy verkiesingsveldtog gesê het:  “And so tonight – to you, the great silent majority of my fellow Americans – I ask for your support.” Met “silent majority” het hy hier verwys na mense oor alle kleurgrense heen wat nie aan die openbare diskoers deelgeneem het nie. Verskeie ander Amerikaanse presidente, soos onder andere Clinton, het ook al hierdie term gebruik, en selfs Trump gebruik dit ook nou.

In Suid-Afrika geld die teorie oor die stille meerderheid deesdae selfs meer as tydens Nixon se verkiesing.

Te midde van vandag se kampuskrisisse word die stille meerderheid oordonder deur die meer verbale, oorverdowende minderheid wat al die mediadekking geniet. Net soos destyds het die meerderheid ’n opinie, maar hulle hang dit nie aan die groot klok nie – hulle keer in hulself in en onttrek uit hul gemeenskappe. Die media praat nie met hulle nie en berig net oor die belhamels. Waar is hierdie meerderheid? Die radikale minderheid polariseer die meerderheid wat net hul studies in vrede wil voortsit.

Dieselfde verskynsel manifesteer ook op nasionale vlak. Isis is 'n radikale minderheid wat vrees en verwoesting onder die meerderheid saai en dít ter bereiking van hul bepaalde agenda en doelwitte.

Die meerderheid bestaan hoofsaaklik uit mense wat ’n normale bestaan wil voer deur in vrede te leef, te werk en elke dag ’n verskil te maak. Hulle is deesdae net baie stil.

Waarom glo die stille meerderheid so min aan hulself? Hulle het tog gesien wat hulle by die stembusse reggekry het. Hulle kan tog sekerlik ook 'n verskil op die kampusse maak. Is die stille meerderheid bang vir iets? Is hulle bang hulle word geviktimiseer? Is hulle bang hulle verloor hul werk? Is hulle bang hul stem kos hulle dalk hul loopbaan?

Is jy ook stil?

Ek doen ’n beroep op die stille meerderheid – laat jul stem ook geld!

  •  
  •  
  •  
Deur juran


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close