Algemeen, Kultuur -

Die stryd om idees en Afrikanerinstellings se deelname aan die stryd

Dryfveer agter radikale optrede

 

Ons betree nou die sogenaamde stakingseisoen en sekere vakbondleiers gaan waarskynlik weer met stellings soos die volgende vorendag kom:

  • Ons staking gaan die Suid-Afrikaanse ekonomie op sy knieë dwing.
  • Ons wil hierdie land onregeerbaar maak.
  • Ons gee nie om oor beleggers nie.
  • Ons is in die tweede fase van die struggle.
  • Wit, monopolistiese kapitaal is die vyand.

 

Daarna volg die ontwrigtende staking en as ekonome na afloop van die staking somme maak, is die uiteinde gewoonlik dat stakende werkers weens die toepassing van die “geen-werk, geen-betaling”-beginsel, hulself armer gestaak het. Dit is dan wanneer ons uit 'n Westerse en Eerstewêreld-perspektief die optrede en uitsprake in oënskou neem en dit glad nie vir ons sin maak nie.

 

Hoewel voorgenoemde op die arbeidsverhoudinge terrein fokus, lê die verduideliking vir hierdie “onlogiese” optrede, maar ook soortgelyke optredes opgesluit in 'n opmerking wat Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, in Desember 2009 gemaak het na afloop van die tiende Cosatu-kongres. Vavi het aangedui dat die kongres ’n nuwe standaard rondom ideologiese debatte gestel het en dat Cosatu moet voortsnel om hul ideologiese oorlogvoering na 'n volgende vlak te voer om só hul idees te bevorder[1]. Hoewel die soeke na mag en persoonlike gewin nie totaal buite rekening gelaat kan word wanneer populistiese vakbond- en politieke leiers hul ondersteuners tot radikale optrede aanmoedig nie, word hierdie inisiatiewe grootliks deur ideologie, soos waarna Vavi verwys het, gedryf.

 

Ideologie

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging en kenner op die gebied van ideologie, verduidelik in sy aanbiedings oor die onderwerp dat die “ideologie” wat 'n individu of groep aanhang, die groep se denke rig en hul optrede bepaal. Buys verduidelik verder dat ideologie mense verenig of polariseer omdat dit oor die oordrywing van ’n idee gaan waar die idee jou “afgod” word. Verder beskryf die Oxford-woordeboek “ideologie” as ’n stelsel van idees en ideale, veral een wat die basis van ekonomiese of politieke teorie en beleid vorm.

 

Op 'n vraag aan Zwelinzima Vavi oor waarom hy 'n “sosialis” kan wees in die lig daarvan dat hy baie belese is en dat hy, te oordeel na die herehuis waarin hy woon, duidelik finansiële welvaart beleef, was sy antwoord aan my dat sy ideologiese denke reeds van sy kleintyd af gevorm was toe hy as kind van 'n arm plaaswerker grootgeword en ervaar het dat hy deel van 'n groep was wat ekonomies en polities uitgebuit word.

 

'n Persoon se ideologiese denkraamwerk word dus meestal uit historiese belewenisse gevorm. Wat egter belangrik is, is dat as jy 'n persoon se ideologiese denke verstaan, dan begin daardie persoon of groep se optrede vir jou sin maak, al bots dit met jou eie waardes en ideëraamwerk.

 

Stryd om idees in die praktyk

 

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding en leier van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), het onlangs die term “stryd om idees” as opskrif in 'n meningstuk gebruik wat op die SAKP se webwerf verskyn het en waarin hy Helen Zille, die DA-leier en premier van die Wes-Kaap, aanval. Nzimande het aangevoer dat dit Zille se agenda is om die ANC te verdeel tussen die “konstitusionaliste”, wat in die oppergesag van die reg glo, en die “radikales” wat tot ’n nasionale demokratiese revolusie verbind is. Nzimande skryf verder dat dit hulle, die radikales, se oortuiging is dat die belangrike konstitusionele en breër demokratiese winste slegs met ’n radikale tweede fase van die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) bevorder, beskerm en gekonsolideer kan word. Nzimande gebruik hier gelaaide woorde met 'n sterk ideologiese onderbou wat verstaan moet word binne die konteks van die ideëgevegte wat in die praktyk afspeel.

 

Ek ervaar op 'n gereelde basis hoe die regerende party se leiers uiting gee aan Karl Marx se siening dat “die idees van die heersende klas in alle opsigte die heersende idees moet wees.”[2] So byvoorbeeld het die voorsitter van die portefeuljekomitee van minerale hulpbronne onlangs in reaksie op 'n aanbieding van Solidariteit oor stakinggeweld genoem dat die struggle in wese gegaan het om vryheid te bewerkstellig vir swart mense in die algemeen, maar vir Afrikane in die besonder, en derhalwe is die huidige stakingsgeweld tussen Afrikane vir hom verbysterend – ’n opmerking wat die ANC se etniese fokus beklemtoon. Ngoako Ramathlodi, minister van minerale bronne (DMR), het dit op sy beurt weer by 'n vergadering met mynbourolspelers duidelik gestel dat hy niks in die koerant wil lees waarvan hy nie vooraf kennis dra nie, want argumenteer hy, “die DMR beheer die mynbousektor en moet alle strategiese verwikkelinge goedkeur aangesien nasionale belang voor besigheidsbelang kom. Dié stelling beklemtoon die sentralisering van mag. By 'n ander geleentheid het die ANC-verteenwoordiger in die portefeuljekomitee oor minerale bronne tydens 'n debat oor die mynbouhandves vir my genoem dat ons moet ophou om tyd te mors in gesprekke oor transformasie en eerlik met mekaar moet wees deur eenvoudig te aanvaar dat die hoofdoelwit van transformasie die bevordering van Afrikane en swart vroue in die besonder is en dat dít die ANC se Afrikanisering dryf en rasdoelwitte beklemtoon soos vervat in hul sogenaamde nasionale demokratiese revolusie. In 'n laaste voorbeeld het die nuut aangestelde uitvoerende hoof van Eskom vir my by ons eerste ontmoeting genoem dat sy aanstelling inderdaad 'n politieke aanstelling is, dat hy ’n “politieke dier” is en dat ek derhalwe nie verder daaroor hoef te wonder nie. Dit bevestig dan kaderontplooiing en die verlammende toepassing van regstellende aksie binne Eskom.

 

Nasionale Demokratiese Revolusie as teoretiese begronding van heersende idees

 

Die nasionale demokratiese revolusie (NDR) en sy gepaardgaande “strategie en taktiek” is 'n dokument wat op die ANC se webwerf beskikbaar is. Daarin word die NDR gedefinieer as ’n struggle-proses wat daarna streef om die mag aan die mense oor te dra en om die samelewing te omvorm in ’n nie-rassistiese, nieseksistiese, verenigde demokratiese een en wat die wyse waarop rykdom verdeel word verander sodat alle mense daardeur bevoordeel kan word. Die hoofoogmerk van die NDR word in die dokument beskryf as Afrikane in besonder en swart mense in die algemeen se bevryding van politieke en sosio-ekonomiese slawerny.

 

Op die SAKP se webwerf word die hele konsep van ’n “nasionale demokratiese revolusie” verduidelik as iets wat voortspruit uit die Marxisme-Leninisme se ontleding van die ontluikende nasionale bevrydingstryde gedurende die 20ste eeu. Die NDR word sodoende sedert die ANC se 50ste nasionale konferensie in 1997 by elke kongres herbekragtig as hul amptelike strategie en riglyn vir taktiek. Tydens die ANC se 53ste kongres in 2012 is die bewoording egter effe versag en is die nasionale demokratiese “revolusie” met die nasionale demokratiese “samelewing” vervang.

 

Sienings oor die NDR

 

Volgens John Kane-Berman, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, bestaan daar by hom geen twyfel dat die NDR die oorgangsfase na sosialisme is nie.[3] Dave Steward, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting het weer op die stigting se konferensie in November 2014 sy siening oor die NDR so verwoord: “Indien die ANC die NDR-weg gaan bly volg, moet ons onsself afvra wat van die ekonomie gaan word; wat van daardie skaarsvaardighede waaraan die land so ’n dringende behoefte het gaan word; wat van buitelandse of plaaslike beleggers gaan word; wat van nasionale eenheid gaan word en wat van die land se internasionale beeld gaan word. Prof. Steven Friedman stel dit weer duidelik dat die NDR van links tot regs op die politieke spektrum gesien word as ’n resep vir radikale ekonomiese en sosiale verandering.[4] Verder beskryf prof. Herman Giliomee die NDR as die ANC-alliansie se bloudruk waardeur hy sy voortgesette revolusie en transformasie van die samelewing wil verwesenlik[5], terwyl dr. Anthea Jeffery die NDR “as die hoeksteen van die ANC se paradigma sien wat as aanwyser dien van wat die ANC, deur middel van die regering, vir Suid-Afrika beoog.”[6] Pres. Jacob Zuma bevestig Jeffery se siening toe hy op 20 Desember 2007 by die ANC se Polokwane-konferensie aangedui het dat die NDR die ANC se rigtinggewende filosofie is wat die weg na die toekoms aandui.

 

Die ANC se NDR word selfs in die spanning en woelinge by die Noordwes-Universiteit (NWU) weerspieël. In Januarie 2015 het prof. Francois Venter vir professor Dan Kgwadi, visekanselier van NWU-Potchefstroom, in 'n ope brief daarvan beskuldig dat hy die grootste gedeelte van die huidige hoogs produktiewe akademiese gemeenskap op die Potchefstroomkampus vervreem weens sy toepassing van die NDR-doelwit om swart Afrikane se invloed oral op die universiteit te verhoog.

 

Die belangrikheid van die NDR is egter dat dit 'n geskrewe dokument is waarvan die toepassing in die praktyk inslag vind. Op dié manier dien dit as teoretiese begronding vir die heersende idees wat in die land bevorder word. Dit is dan juis die afwesigheid van 'n omvattende Afrikaner idee raamwerk wat ontbreek en ons kwesbaar maak, soos ek ten slotte sal aanvoer.

 

Die NDR en die rol van die werkersklas

 

Wyle prof. Carel Boshoff het in Maart 1990 in ’n lesing by die Universiteit van Stellenbosch die rol van die werkersklas uitgelig toe hy aangevoer het dat “die swart arbeidsmag in Suid-Afrika die vryheidsmag vir swart mense geword het.” Populistiese leiers soos Irvin Jim, hoofsekretaris van Numsa, bevestig dit en die NDR stel dit onomwonde dat swart werkers inderdaad die werklike dryfvere van die NDR is. Cosatu het byvoorbeeld in hul 2013- kollektiewe bedingingsverklaring bevestig dat werkers nou in die tweede fase van die struggle is en verduidelik dat die magsverhoudings tussen werkers en werkgewers fundamenteel ten gunste van die werkers moet verander.

 

Dit is in hierdie omgewing wat Solidariteit homself bevind. Ons is daarop bedag dat ons eweknieë in die vakbondwêreld se uiteindelike doelwit oor baie meer gaan as werkers se brood-en-botter behoeftes. Dit verklaar ook vir ons waarom werkers wat aan huidige, of voormalige Cosatu- geaffilieerde vakbonde behoort wat 'n sterk sosialistiese onderbou het en 'n historiese struggle-kultuur het, so maklik hul griewe strate toe neem in 'n magsvertoon om die ekonomiese vyand, of sogenaamde wit kapitaal soos die NDR dit beskryf, se mag te probeer vernietig.

 

Die belangrikheid van besigheid se toetrede tot die stryd om idees

In die lig van die destruktiewe aard van die heersende linkse ideologie in Suid-Afrika beklemtoon Ann Bernstein van die Centre for Development and Enterprise, deurgaans in haar boek The Case For Business in Developing Economies (2010) die belangrikheid dat “besigheid” meer betrokke moet raak in die stryd om idees. Bernstein benadruk dat die belangrikste bydrae wat besigheid in Suid-Afrika kan lewer is om hul besighede te groei, meer mense in diens neem, diensverskaffers te betaal en lone en belasting te betaal.

 

Besigheid en Solidariteit se geveg om idees moet grootliks in opposisie wees tot die sosialistiese dryf wat daadwerklike beperkinge op die markekonomie en privaat eiendomsbesit wil plaas. Voorgenoemde strategie word binne die heersende idee toegepas omdat geglo word dat die hertoedeling van rykdom en toenemende staatsbeheer oor ekonomiese aktiwiteite sowel die populistiese elite as hul werklose of swak geskoolde ondersteunersbasis sal bevoordeel. Gesonde logika en vele internasionale mislukkings bied genoegsame rede om hierdie vernietigende ideologie teen te staan, want na afloop van elke populistiese eksperiment is werklike lone vir professionele en ongeskoolde werkers laer as wat dit by die aanvang daarvan was.[7] So is dit ook naïef om te glo dat die basiese ekonomiese beginsels van sosialisme aanvaar kan word sonder om ook die outoritêre politieke strukture en beperkinge daarvan op persoonlike vryheid te aanvaar. [8]

 

Die vrye mark se stryd teen die sosialistiese ideologie is wel iets nuuts in Suid-Afrika, maar in die laat 1940’s het Winston Churchill, destydse Britse premier, aangedui dat die inherente euwel van kapitalisme wel die oneweredige verspreiding van seëninge is, maar dat die inherente deug van sosialisme, die gelykopverdeling van ellende is. Margaret Thatcher, latere Britse premier, was weer van mening dat die probleem van sosialisme daarin gesetel is dat iemand anders se geld gebruik word tot voordeel van jou sosialitiese ondersteuners, maar dat dié geld uiteindelik gaan opdroog.

 

Die hartseer ironie is dat ons nou in Suid-Afrika in 'n ideëgeveg geknoop is oor iets wat reeds jare gelede in die res van die wêreld misluk het.

 

Belangrikheid van openbare mening

 

Op alle terreine, maar veral op die politieke en ekonomiese terrein, is beïnvloeding van die openbare mening deur middel van die media belangrik in die stryd om idees. Bruce Barton, oud-Amerikaanse politikus was van mening dat die verhaal van groot besigheid met al die verbeeldingrykheid waartoe die moderne media en advertensiewese in staat is, behoort vertel te word. Dit word dus verwelkom as groot geeste in die sakewêreld soos Johann Rupert, wat tydens 'n FW de Klerk-stigting se konferensie op 3 Februarie 2015 hom sterk uitgespreek het teen die beperkinge wat op die markekonomie geplaas word en aangedui het dat “die vraag nie meer is oor hoe om rykdom te verdeel nie, maar hoe rykdom geskep moet word deur ekonomiese groei”.

 

Pres. Jacob Zuma is egter 'n meester wanneer dit daarby kom om die openbare mening te mislei veral wanneer hy aandui dat die ANC 'n goeie storie het om te vertel. Om die werklike storie te vertel moet veral Afrikaanse meningsvormers kragdadig tot openbare debatte toetree, maar ook geleenthede skep om die realiteit van Suid-Afrika se morele en fisiese verval in die openbare domein te beveg. Soos Abraham Lincoln dit gestel het: “openbare mening is alles, met openbare sentiment kan niks faal nie, maar sonder dit, kan niks slaag nie”.

 

Waar bevind Afrikaner-instellings hulle in die stryd om idees?

 

Instellings soos die N.P. van Wyk Louw-sentrum, AfriSake, AfriForum en Solidariteit neem reeds bewustelik deel aan die stryd om idees deur onder andere die gevare van die heersende idees bloot te lê, maar ook om ons eie ideëraamwerk te bevorder. Die stryd om idees woed op vele terreine, maar dit is veral op die politieke en ekonomiese terrein waar die aanslag fel is en die gevare van die sentralisering van politieke mag, beperkinge op privaat eiendomsbesit en die markekonomie, die Afrikanisering van veral openbare en semi-staatsinstellings en die verdraaiing van die Afrikaner se geskiedenis, op ’n ideëvlak teengestaan moet word.

 

Oor die algemeen is Afrikaners, maar ook vele Afrikaner-instellings, ongelukkig nie voldoende toegerus en opgewasse om die terrein waarbinne die ideëstryd plaasvind, effektief te betree nie. Daar is ook 'n geneigdheid in ons geledere om te oorkompenseer vir die foute in ons verlede en só polities korrek te probeer wees dat konfrontasie vermy word. Dit gebeur terwyl die linkse en veral die ultra-linkse groeperinge by monde van hul populistiese leiers verwagtinge skep deur radikale beloftes aan hul ondersteuners te maak, terwyl hulleself niks het om te bied nie, behalwe om dit van hul ideologiese vyande af weg te neem of om hul vyande te benadeel deur hul regte en erfenis te skend.

 

Afrikaners en Afrikaner-instellings se opsies in die stryd om idees

 

Dr. Bertus de Villiers, 'n oud-Suid-Afrikaanse reggeleerde en nou 'n gerespekteerde Australiese juris, het op 22 Januarie 2010 in Beeld geskryf dat “wit mense het verwag dat Suid-Afrika anders as Afrika sal wees, maar dit is nie, en nou is hulle kwaad, seer, teleurgesteld, moedeloos en ‘gatvol’ en hul ‘revolusie’ is om te trek, want dit help nie om te baklei nie”.

 

Clem Sunter, die gesaghebbende scenario-beplanner, se siening is egter dat Afrikaners ’n gemeenskaplike bewussyn het wat die geestelike grondslag van ’n effektiewe kommersiële netwerk vorm. Taal, godsdiens, kultuur en ’n gemeenskaplike uitkyk of die lewe heg hulle in spanne saam wat feitlik onoorwinlik is wanneer hulle deur mededingers, wat nie dieselfde kohesie het nie, uitgedaag word. Sunter gaan voort en vra: “Waarom dink jy die Jode, Pakistani’s en Chinese vaar soveel beter op andere se speelveld as op hul tuisveld? Hulle weet die uitslag hang uitsluitlik van hul eie pogings af. Afrikaners het dit reggekry om hierdie sielkundige aanpassing te maak sonder om te emigreer. Dis ’n pluimpie vir hulle. Die volgende taak is om ons medebroers en -susters op dieselfde manier te bevry”. [9]

 

Om aan die kompliment van Sunter gehoor te gee, moet Afrikaners op alle vlakke en ook soos ons medelandsburgers al van skoolvlak af meer “straatwys” gemaak word om ons kennis en redeneringsvermoë te verbeter om met selfvertroue aan die stryd om idees te kan deelneem. Dit behels die dokumentering en verspreiding van ons heersende idees, die publisering van gesaghebbende meningstukke in die Engelse media ook, en deelname aan veelrassige konferensies om openbare mening te beïnvloed, maar ook “gewone mense” te bemagtig met 'n teoretiese begronding van ons ideeraamwerk. Die effektiewe toetrede tot die stryd om idees is dus deel van ons politieke, ekonomiese, kulturele, geestelike en fisiese oorlewing, maar Afrikaners moet ook verhoudinge bou oor taal- en kultuurgrense heen sodat ons bydrae en insette in die stryd om idees geloofwaardig en aanvaarbaar sal wees.

Die artikel is oorspronklik geplaas op www.standpunte.co.za

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit

 

[1] Zwelinzima Vavi (2009) SAKP-kongres. 11 Desember 2009

[2] Karl Marx & FRIEDRICH ENGELS (1932) The German Ideology, DAVID RIAZANOV – MARX-ENGLISH INSTITUTE, MOSCOW

[3] MARTIN WILLIAMS (2014) WHY SHOULD WE WORRY, The Citizen. 26 Februarie 2014

[4] Steven Friedman (2014) Is the NDR Really a Formula for Radical Change? SACSIS. 20 NovEMBER 2014.

[5] Prof. H. Giliomee (2014) Politicsweb. 3 NOVEMBER 2014

[6] Dr. Anthea Jeffery & FRANS CRONJE (2010), IS THE NDR AT THE ROOT OF THE ROT? Politicsweb, SAIRV.29 AugUSTUS 2010

[7] Rudiger Dornbusch en Sebastián Edwards (1991) The Macroeconomics of Populism in Latin America , UNIVERSITY OF CHICAGO

[8] Regter Jan H. Steyn (1990) Managing Change in SA – WITHOUT CHANGING THE MANAGEMENT

[9] Clem Sunter (2010) The economic liberation of Afrikaners. News24. 23 Maart 2010

  • 75
  •  
  •  
  •  
Gideon du Plessis Deur Gideon du Plessis


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close