Algemeen, Nuus -

Die SuperSport-sage en hoe om oor jou onderrok te tuimel.

Die uitdrukking “jou onderrok hang uit” beteken dat jou werklike bedoeling sigbaar is onderdeur of agter die fassade wat jy as jou bedoeling probeer voorhou.  In die nadraai van die voormalige Springbok Ashwin Willemse se verlating van die ateljee tydens 'n lewendige uitsending die afgelope Saterdagaand, het verskeie karakters in die Suid-Afrikaanse politieke sfeer se onderrokke so ver uitgehang dat hulle sommer 'n bollemakiesie geslaan het soos hulle oor hierdie uithangende kledingstukke geval het.  Alhoewel 'n hele skare Twitterati hulself aan “oor-die-onderrok-tuimel” skuldig gemaak het, fokus hierdie stuk slegs op drie persone.  Telkens sal die bo-rok, die onderrok en die tuimeltoertjie aangedui word.

  1. Minister Toko Xasa

In die eerste plek het ons die eerwaarde minister Toko Xasa.  Gewoonlik is die rol van 'n staatsamptenaar om die burgers van en besoekers aan 'n land na die beste van sy/haar vermoë te dien.  Waar geskille plaasvind, moet so 'n amptenaar sonder guns of voorkeur op 'n nierassige, niegeslagtelike en niekulturele wyse bepaal wat die feite is, wie verkeerd was, en hoe ons nou vorentoe moet gaan.  Eerwaarde me. Xasa se bo-rok, haar amptelike bedoeling, was om diskriminasie aan te spreek.  Haar onderrok, dus haar ware bedoeling, was om vir komende hofsake oor sportkwotas voorbrand te maak en haar ondersteunersbasis van haar ingebore swartbemagtigingsbegingsels te verseker – iets wat elf maande voor 'n verkiesing nie te versmaai is nie.  Die naam van haar tuimeltoertjie was: Die bewyslose, rasgebaseerde, ondeurdagte self-diskrediterende skoffel.  Op die onderroktuimel-punteskaal kry die eerwaarde minister Xasa 'n soliede 9 uit 10.

  1. Mmusi Maimane

In die tweede plek het ons die “vriend van alle Suid-Afrikaners”, die geagte Mmusi Maimane.  Alhoewel almal verstaan dat mnr. Maimane baie moeite moet doen om swart stemmers van die ANC of EFF weg te lok, en alhoewel almal verstaan dat die DA onlangs in 'n baie slegte lig geplaas is deur interne struwelinge, het meneer Maimane sy party se posisie, en die effense hoë grond wat hulle in Suid-Afrikaanse politiek gehad het, ernstige skade aangedoen.  Die DA is, of 'n mens met hul posisies saamstem of nie, oor die afgelope jare bekend vir 'n mate van regverdigheid en effektiwiteit.  Sonder volledige feite en totaal onbewus van die konteks, het meneer Maimane homself tot sy selfoon gewend en 'n kant gekies.  Sy bo-rok was natuurlik dié van 'n opposisieleier wat omgee vir sy land en al die baie mense in die land.  Sy onderrok is desperaatheid na populariteit, veral onder swart stemmers, en sy toertjie was die flik-flak genaamd “verneder jou party en gooi jou partybeginsels vir die wolwe”.  Op die onderroktuimel-punteskaal kry meneer Maimane 'n sukkelvoetige 8.5 uit 10.

  1. Die linkse en die sosiale media

Die heer Willemse se woorde was nog nie eens koud nie, of al wat 'n joernalis is het iets te sê gehad – natuurlik, wie blameer dan 'n aasvoël as hy 'n sterwende karkas uitmekaar skeur?  Dit is grusaam, maar dit is sekerlik in hul aard.  Veral die mediamense aan die linkerkant van die politieke spektrum het die vinnigste oorgang van joernalis na kenner na filosoof gemaak.  Dadelik is opmerkings gemaak soos “geen konteks is nodig nie, ons weet almal wat gebeur het” en “dank Nick en Naas dadelik af!” Stadig oor die klippertjies, kollegas, is jul werk nie om die feite te kry vóórdat julle dit verdraai nie?  Die linkse media se bo-rok was pro-aktiewe optrede, hul onderrok van ware optrede was sensasionele skryfwerk, en hul onderroktuimeltoertjie was die bollemakiesie genaamd “kwes my reeds sukkelende beroep”.  Ons is nie beïndruk nie, maar nie regtig verbaas nie.  Julle kry 7 uit 10.

Op 'n ernstige noot wil die onderroktuimel se beoordelingspaneel graag die volgende weet: Wanneer gaan hierdie land ophou om onmiddellik, en onvoorwaardelik, ras bo inhoud te kategoriseer?

Dit is ongelukkig duidelik dat die rassetemperatuur in Suid-Afrika 'n gevaarlike hoogte bereik, en dat 'n gesprek, 'n eerlike en opregte gesprek, nodig is om die temperatuur te laat daal.  In 'n land waar 'n Konstitusionele Hof beslis dat rassisme van die konteks afhang, en waar sosiale media eensklaps 'n besluit op grond van ras maak, is ruimte vir misverstand natuurlik groot.

Wanneer gaan ons begin besef dat mense van ons eie rasse nie perfek is nie, en mense van ander rasse nie inherent boos of veragtelik is nie?  In 'n volwasse ekonomie en 'n volwasse politieke ruimte sal feite altyd meer weeg as emosie, en sal die waarheid seëvier, al is daardie waarheid uiters ongemaklik.

  • 67
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close