Algemeen -

Die suur “tannies”

Só vernaam en grênd het ek lanklaas gesien. Kyk jou op en af en skud kop omdat jy durf waag het om jou kinders saam te bring na die Woolworths Cafe.

Vir ingeval jy nie geweet het nie, hierdie plek is slegs vir suur tannies met stywe lippies en oë vol oordeel.

Die feit dat ek na hulle verwys as “tannies” behoort hulle nog meer te laat frons: “Mevrou vir jou” – of dalk eerder die Franse: Madame. Oud is hulle seker ook nie – so in hul laat vyftigs, vroeë sestigs.

Gewoonlik sal ek en my man alleen gaan en die kinders by oupa en ouma los. Juis om sulke kyke te vermy. Vandag is anders, vandag word my pa geopereer. Sy derde hartoperasie. Ons wil graag lekker koffie drink en iets te ete kry voordat ons hospitaal toe moet gaan.

Ja, met ‘n een-jarige en drie-jarige kan jy maar weet: hulle gaan bietjie kriewelrig wees, hulle gaan gesels en hulle gaan waarskynlik nie stilsit nie – maar regtig, so erg is dit ook nie. Ek berispe hulle heeltyd en doen wat ek moet, maar ek kan ook nie van hulle verwag om tjoepstil te sit nie.

Die twee tannies staan ná twee minute op en gaan sit dan op die verste punt van die eetplek terwyl hulle ons nogeens kopskuddend aankyk.

Dit krap my om.

Het hulle vergeet hoe dit is om klein kindertjies te hê? Het hulle nie kleinkinders nie?

Ek sou eerder begrip van die twee verwag as veroordeling. Ek sou gedink het dat hulle eerder sal glimlag omdat hulle self daardeur is en weet dat dit soms maar moeilik gaan.

Nee. Hulle is vies. Hulle Vrydagoggend koek-en-tee-sessie het nie uitgewerk soos wat hulle beplan het nie.

Mag ek, as ma, nie partykeer ook ‘n lekker koppie koffie iewers drink en iets gesonder eet nie? Moet ek by ‘n “kindervriendelike” restaurant gaan sit waar ek net die teendeel kan kry?

Ek sluk my warm koffie so vinnig moontlik af en wurg aan die helfte van my avokadopeer low GI broodjie terwyl ek my man aanjaag. Ek wil net daar uitkom. Vir hom is dit soos water van ‘n eend se rug af en ek beny hom daarvoor.

Die oggend, wat al klaar moeilik genoeg was, is nou nog slegter. Ek wil iets sê, maar besluit daarteen, al vat dit alles in my om net verby hulle te loop. Wat gaan dit my baat?

Ek hoop maar net ek word nooit so suur ou tannie nie.

  •  
  •  
  •  
  •  
Carina Bester Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close