Nuus -

Die toekoms van Afrikaans

 

Dit was 'n Donderdagmiddag 'n rukkie na werk toe die groot kar voor die Solidariteit- hoofkantoor stop. Die bestuurder het half onseker nader gestaan: “Is dit hier waar ons klere en dinge vir die arm mense kan aflaai?” Ek sê niks, my woorde raak maar partykeer op. “My ma’t gesê ons moet hierdie boeke sommer ook afgee. Dit het nog aan my pa behoort.” Ek buk af om te groet. In die kar sit sy vrou, twee laerskoolseuntjies en sy ma. “Ons gaan Australië toe, Oom”, sê een opgewonde. Die ouma sê niks. Ek vat die ou kleretas met die boeke; hy vat die sakke met klere, en roep die kinders om te kom help. Die tas is baie swaar. Sy vrou en ma stap ook saam. “Ja” sê hy. “Ons het maar besluit om te trek.” “Die misdaad en al die dinge. Jy weet mos.” Ek weet mos. By die Helpende Hand se stoor aangekom, fluit hy verbaas” Waar gaan al hierdie goed heen?” Ek begin verduidelik, hou toe maar op toe ek sien sy kop is klaar in Australië.

 

“Sal jy asseblief die boeke uitpak,” vra hy, “Ons het ongelukkig die tas nodig.” Dis 'n goeie tas. Ek begin uitpak. “Jammer vir die moeite, julle moet dit maar vir 'n museum gee of iets,” sê hy. “Ma het ongelukkig nie plek in haar nuwe huis nie. Sy trek nou na 'n lekker veilige plekkie.” Die ouma sê niks. Sy lyk nie baie opgewonde oor die lekker veilige plekkie waar sy nou alleen gaan bly nie. Daar is goeie boeke. “Pa was baie lief vir Afrikaans,” sê hy. “Natuurlik is ek ook”, voeg hy vinnig by. “Ons gaan nog Afrikaans met hulle praat,” sê hy oortuigend na die kinders se kant toe. Sy vrou lyk nie so seker nie. Ek pak verder uit. Hierdie boeke is gebruìk. Langenhoven se Spookstories. Die Woordeboeke van die Afrikaanse Taal. FA Venter, Van Wyk Louw, Die Groot Verlange. Die FAK. Een “Long Road to Freedom”- onoopgemaak. “Dit was 'n present.” My Pa is dood voordat hy dit kon lees,” sê hy half verleë. Hy sê nie hoekom h‎‎‎ý dit nie gelees het nie.

 Ek en die ouma kyk na die hopie boeke op die tafel. Die man en die vrou kyk vir haar. Sy neem afskeid van iets meer as die boeke. “Sy is nou 83,” sê die man sag. “Hulle was onderwysers.” Hy voel skuldig oor die weggaan. Ek werk vinnig uit. Sy is gebore in 1925, in die jaar toe Afrikaans 'n amptelike taal geword het. Binne een leeftyd, van die wieg tot in die museum. Ek sê dit amper vir hom, maar bedink my betyds. Ek tel een van die woordeboeke op, dink aan alles wat agter dit sit. Die reeks is nog nie eers voltooi nie, en die taal word al weer onderdruk, dink ek wrang. Die ouma tel een van MER op, sit dit weer neer sonder om te kyk.

Die kinders raak nou woelig. “Ons moet ry,” raak die Pa haastig. Ek wil iets vir sy ma sê, maar my woorde is nog op. Ek weet baie van haar, al het ek haar nog nooit voorheen gesien nie. Ek wens ek het haar man geken, al weet ek baie van hom ook. Ek kan dink hoe mis sy hom in hierdie tyd. Hoe sy al by voorbaat na haar kleinkinders verlang. Ons stap stadig terug, weg van 'n deel van haar lewe af wat nou daar op die tafel lê.

By die kar gaan sy staan, en praat vir die eerste keer. “Gee die boeke vir 'n Laerskool,” vra sy. “Nie vir 'n museum nie; ons taal is mos nie dood nie.” Ek sien die verlede en die toekoms van Afrikaans in haar oë. Ek verstaan presies, en voel lus om haar te salueer. Ek maak die deur vir haar oop, en terwyl hulle wegtrek  wonder ek of daar nie so iets soos 'n Taalmisdaad teen die Mensdom is nie.

  •  
  •  
  •  
Flip Buys Deur Flip Buys


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close