Algemeen -

Die vierde industriële rewolusie

Die afgelope paar jaar is die wêreld se toekoms-ekonome behep met die sogenaamde vierde industriële rewolusie (4IR) en hoe dit die wêreld gaan verander. Eintlik het 'n groot deel daarvan reeds gebeur. Ek tik hierdie blog op 'n rekenaar, dan stuur ek dit vir Cilleste, die grootbaas van inhoud, vanwaar dit taalversorg word deur iemand van ons taalspan, en dan word dit deur Lize-Mari op ons webblad gelaai, waar jy dit nou lees. In die hele proses het ons nie een keer persoonlike kontak met mekaar nie, al sit ons almal in dieselfde gang.

Hierdie aanlyn ekonomie het baie mense op hol gejaag oor die nuwe vaardighede wat nodig sou wees om in die werksplek van die toekoms te funksioneer – vandaar die praatjies oor die 4IR en hoe die aanlyn wêreld binnekort belangriker sal word as die regte wêreld. Baie van ons se werke het natuurlik heeltemal verander. As navorser van ekonomiese aangeleenthede hoef ek nie meer soos jare gelede op 'n duisend verskillende nuusbriewe in te teken nie. Die meeste inligting is sommer net so op die internet beskikbaar. Waar dit nie is nie, kan primêre navorsing gedoen word, en ook hier maak die internet dit dikwels veel makliker om respondente te bereik. Ek doen dus my werk vandag veel vinniger as wat dit 'n honderd jaar, of selfs net 20 jaar gelede, gedoen sou kon word.

Dit maak baie mense baie bekommerd, want dalk sou Solidariteit destyds meer ekonomiese navorsers moes aanstel om dieselfde uitsette te lewer. Dit is egter onwaarskynlik, want daar sou veel eerder 'n besluit geneem word dat die ekonomiese navorser slegs op die kernbesigheid van Solidariteit sou fokus eerder as om ekstra goed te doen. Om 'n blog te skryf sou nie deel daarvan wees nie.

Die ander sy van die saak is weer dat baie werke wat vandag bestaan, nie sonder die sogenaamde 4IR sou bestaan nie. Die meeste groterige besighede het voltydse IT-mense in diens. Baie besighede is uitsluitlik aanlyn. Geeneen van hierdie werksgeleenthede sou daarsonder bestaan het nie. Om die waarheid te sê, nuwe tegnologie het eerder meer werksgeleenthede geskep as wat die toename in produktiwiteit tot gevolg gehad het dat miljoene afgelê word, soos dikwels voorspel word.

Die idee dat die aanlyn ekonomie en die aanlyn wêreld belangriker as die regte wêreld sal word, is ook onwaarskynlik. Ekonomies gesproke is dit in sommige streke reeds die realiteit. Die meeste Amerikaanse miljardêrs het hul geld aanlyn of in die rekenaarwêreld gemaak. Tog het Elon Musk onlangs die grootste fabriek in die mensdom se geskiedenis voltooi. Die nuwe Tesla-fabriek in Texas is doodeenvoudig enorm. As dit op enigiets dui, is dit dat die regte wêreld steeds 'n toekoms bied. Elon herinner ons gereeld daaraan dat as niemand goed maak nie, daar nie goed sal wees nie. As dit steeds ten spyte van die VSA se enorme arbeidskoste die moeite werd is om fabrieke daar te bou, kan ontwikkelende lande soos Suid-Afrika nog baie ontwikkel.

Dieselfde geld vir alles wat met die internet verband hou. Elke artikel of item in die aanlyn ekonomie moes deur iemand geskep word. Dis aanlyn, maar iemand moes die rekenaar maak waarop die inhoud geskep word. Die selfde geld vir die kabels, torings, skottels en satelliete waardeur die inligting dan beweeg. Die wêreld het dalk verander, maar die regte wêreld sal vir ewig sy kant moet bring.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close