Kom ek hou die volgende scenario aan jou voor: As drie dames in dieselfde beroep wat al drie dieselfde professionele titel het, kom om jou te bedien en een dra ‘n denim-broek met 'n netjiese polo-hemp, die tweede dame dra 'n pragtige swart broek met 'n toeknoopbloes en die derde dame dra 'n minirompie met 'n toppie met oop skouers, watter een van die drie sal jy die ernstigste opneem? As dit by die werkplek kom, maak dit nie saak wat watter beroep jy beoefen nie; jy moet maar tyd maak om te kyk na wat jy dra.

Alhoewel die kleredrag van sektor tot sektor verskil, geld een goue reël steeds vir alle sektore en dit is naamlik om seker te maak jy trek professioneel aan vir die werk.

Navorsing toon dat jou kleredrag jou selfvertroue in die werkplek kan verbeter wat op die ou end tot hoër produktiwiteit kan lei. Jou ma het jou nie verniet geleer dat eerste indrukke blywende indrukke is nie, want dit neem mense glo net sewe sekondes om ’n eerste indruk van ’n persoon te vorm en jou kleredrag kan maklik ’n verkeerde indruk skep oor jou vaardighede of oor hoe ernstig jy oor jou werk is.

Hou die volgende drie wenke in gedagte wanneer jy onseker is oor hoe om aan te trek:

Hou die maatskappy se reëls in gedagte

By sommige werkplekke moet jy dalk ’n uniform dra wat dan die besluit namens jou neem, terwyl die meeste ander maatskappye riglyne of ’n kleredragkode het wat jy dus in ag moet neem. In sommige gevalle hoef jy net professioneel aan te trek as jy met kliënte werk.

Gemaklik maar skaflik

Deesdae word die kleredrag in baie kantore as “sake-gemaklik” beskryf. Dit beteken dat mans nie noodwendig pakke en dasse hoef te dra nie, maar dat hulle steeds 'n langbroek met toe skoene moet dra.

Nommerpas

As jou klere te klein is, kan dit die indruk skep dat jy nie selfvertroue het nie, terwyl klere wat te groot is, dit laat lyk asof jy daarin wil wegkruip. Koop klere wat pas, of as daar ’n verandering in jou gewig ingetree het, laat dit verstel om beter te pas.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Wilmarie Brits


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close