Algemeen, Kultuur -

Die wilg en die stroom

Die wilg en die stroom.

Paul Maritz

2018.04.26

Ek is 'n wilg, geplant langs ‘n mooie stroom;
aan die oewer het my wortels 'n plek gevind
teen watergrens myself aan 'n toekoms verbind
hier kon ek voorspoedig oor toekomsjare droom.

Al die jare lê my wortels nog op dié een plek:
In tye van droogte was my wortels ver van water,
en het die mense vir my agtergeblewenheid geskater.
In tye van vloed het die water om my ganse stomp gegaan,
en die stroom het gevra waarom ek sy vloei teenstaan,
maar al die jare lê my wortels net hiér uitgestrek.

Oor die jare het die stroom versnel en versterk,
en die mense vra waarom ek sy vloei met my wese inperk.
Waarom is ek so radikaal en anders?
Waarom versper ek sy plotsende branders?

Maar my wortels het dan nooit geskuif nie,
ek is op geen ander plek as voorheen ingelyf nie!
Ek het nooit verander waar ek staan nie,
dit is die stroom wat nie getrou bly aan sy baan nie!

Hy kies om my weerstandig te doop,
tog is hy die een wat teen my vasloop.
Hy sê my bas en blaar staan in sy baan,
tog is dit hy wat sy skeppingsbeginsel teengaan.

Ek is 'n wilg, geplant langs ‘n mooie stroom
hier staan my wortels nog al my jare
en al druk en lag die stroom en skare,
hier is ek steeds, en steeds sal ek droom.

  • 28
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close