Algemeen -

Dink voor jy praat!

Daardie ding wat jou ma jou geleer het: Jy kan dink wat jy wil, maar jy kan nie sê wat jy wil nie. Dit is nog steeds waar! Nóú meer as ooit.

Elkeen van ons het ons eie opinies. Met die sosiale media is dit deesdae so maklik om ’n voet verkeerd te sit as jy op die ingewing van die oomblik reageer op iets wat iemand anders gesê of gedeel het.

Ek sien gedurig kommentaar wat my wenkbroue laat lig. Wat dink die persoon om so blatant hul mening te lug?

Al die ou-ou spreekwoorde duik in my gedagtes op:

Besin voor jy begin.
Gedane sake het geen keer.
Jy gaan jou vingers verbrand.
’n Tong soos ’n skeermes hê.
Hy sal sy rieme styf loop.

Dit beteken nie dat jy nie jou eie opinies kan hê nie. Natuurlik mag jy. Maar jy kan dit ongelukkig nie so wyd uitbasuin soos jy lus het nie. Sekere dinge is beter as dit ongesê bly.

Die wyse Salomo het baie te sê oor wanneer om te praat  en wanneer om stil te bly. Twee Spreuke wat vir my uitstaan is:

Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê. – Spreuke 12:18.

Jy sien self: vir die man wat praat sonder om eers te dink, is daar minder hoop as vir ’n dwaas. – Spreuke 29:20.

Wees tog maar versigtig wat jy sê. Dit kan en sál teen jou gebruik word.

  •  
  •  
  •  
  •  
Carina Bester Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close