Algemeen -

Dis nie reg dat iemand so ryk is nie!!!

Daar is baie maniere om doodseker te maak dat jy nooit gelukkig sal wees nie. Seker die beste manier van almal is om jouself met ander te vergelyk en hulle dan te verwyt vir alles waarvan hulle meer as jy het.

Ongelukkig is dit deesdae baie modieus om te sê dat die rykes al hulle geld vir die armes moet gee, want “dit is net nie reg nie”. Maar hoekom nie? Het Mark Zuckerberg iemand beroof? Volgens alle berigte, en meestal eintlik gerugte, is ou Mark maar 'n goor vent – nie die tipe 'n ou wat jy op 'n braai wil hê nie. En tot 'n mate het hy ander mense se idee gesteel, maar hy het dit tot uitvoering gebring en hulle het nie. So, is dit regtig steel? En het sy rykdom regtig afbreuk gedoen aan enige iemand anders s’n? Natuurlik nie! Voor hy geld uit Facebook gemaak het, was daar nie eens 'n Facebook nie. Hy het al sy geld uit niks geskep, niks behalwe 'n goeie idee nie. Na my mening is Facebook 'n euwel, maar meer as 'n derde van die mense op aarde gebruik dit, so dalk is ek verkeerd.

Maar wat van die miljardêrs wat hulle geld in die ruimte gaan mors, terwyl daar soveel probleme op aarde is? Behalwe dat dit hulle geld is, en jy nie 'n sê daaroor behoort te hê nie, het hulle daardie geld ook gemaak deur die wêreld 'n beter plek te maak. En deur ruimte toe te gaan, maak hulle die wêreld nog beter. Deur kompetisie in die mark te veroorsaak en die staat, spesifiek die Amerikaanse, Russiese en Chinese state, se monopolie op die ruimte te verbreek, kan die ruimte moontlik oor 'n paar jaar vir ons almal bereikbaar wees – nie net vir die snaaksigheid nie, maar vir goedkoper satellietkommunikasie en vinniger vervoer ook. Teoreties sal dit binnekort moontlik word om lae-wentelbaanvervoer te gebruik om produkte, sommer hele vraghouers op 'n slag, in die ruimte in te skiet, te wag tot die aarde onder die produk draai en dan weer op die eindpunt te land. In wese gaan die produk dan net op en weer af en geen aflewering sal langer as twee dae neem nie. Tans duur dit omtrent 77 dae vir 'n vragskip om rondom die aarde te vaar, met direkte roetes wat natuurlik veel vinniger is.

Die oud-Pretorianer Elon Musk het reeds die wêreld se finansiële dienste op sy kop gekeer nog lank voor Bitcoin eers 'n droom was. Met Paypal, wat hy en 'n paar vriende ontwerp het, het hy betalings ongelooflik vereenvoudig en banke, met hul duur fooie en al, gedeeltelik vervang. Dalk is dit hoekom die SA Reserwebank Paypal grotendeels hier by ons verbied, maar dit daar gelaat. Toe vat hy sy geld en skep 'n klompie ander maatskappye waarvan Tesla en SpaceX die bekendste is. Die waarde van elektriese motors, veral in stede, is ongetwyfeld positief. Hoe lekker sal dit nie wees om nooit weer in die kar voor jou se stink uitlaatgasse te moet ry nie? Elon Musk het dit reeds vir baie Amerikaners die realiteit begin maak. Vandag is Tesla die waardevolste motorvervaardiger ter wêreld. Voor Musk dit gekoop het, was dit skaars 'n idee; nou help skep dit die wêreld waarin ons leef.

Die selfde geld vir die twee ander ruimtereisigers, Richard Branson en Jeff Bezos. Laasgenoemde is glo ook nie te aangenaam nie, maar dink net hoe Amazon en almal wat dit probeer nadoen het ons wêreld vergemaklik het. Enige iets is nou so ver soos die naaste slimtoestel. Niemand hoef meer te wag tot hul naaste winkel iets in voorraad kry nie. Die voorraad is as‘t ware in die lug, reg om uit die kuberruim na jou toe te val.

Branson het ook lank gelede op vindingryke maniere gehelp om lugvervoer meer bekostigbaar te maak, nadat hy 'n rits ander sakeondernemings op die been gebring het. Nou help hy en die ander twee miljardêr-ruimtevaarders om tegnologie te vestig waarmee die hele vervoersektor dalk in die toekoms versnel kan word tot daar geen skaarste in die wêreld oor is nie. Lande wat nie toegang tot direkte skeepsvervoer het nie, sal nie meer uitgesluit word van goedkoop, vinnige skeepsvervoerdienste nie.

Verder kan ons ook maar net dink aan welsynswerk en spesifieke projekte wat deur miljardêrs befonds is. Bill Gates, ook deesdae omstrede, het meer as enige iemand, mens of regering, gedoen om malaria te beveg.

Daarom moet 'n mens altyd selfondersoek doen as jy oormatig skepties is oor die rykes. Is jou jaloesie dalk so groot dat jy alles wat jy self het miskyk? Om nie eers te praat van wat jy alles kan hê as jy jou talente reg aanwend nie. Nie een van die innoveerders in die wêreld was nog ooit bekend daarvoor dat hulle gesit en kerm het nie. Hulle het eerder skatryk geword deur hul eie begeertes vir hulself en ander te vervul.

Foto bron: Getty Images, INFphoto.com

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close