Algemeen, Nuus -

Discovery se houding en mentaliteit mag nooit vir jongmense in Suid-Afrika aanvaarbaar wees nie!

Kom ons dink vir 'n oomblik aan die getal 25. Hierdie getal kom baie gereeld in ons algemene lewens voor, veral in terme van ouderdom. Statistiek Suid-Afrika beskou jou as 'n jeugdige tot en met 25-jarige ouderdom, die VN ook. Hierdie jaar is ook die 25-jarige herdenking van Suid-Afrika se demokratiese bestel. Ons kan dus die geldige afleiding maak dat Suid-Afrikaanse jeugdiges, binne etlike maande sonder uitsondering in 'n demokratiese land gebore is. Binne twee maande sal daar nie meer 'n plaaslik-gebore jeugdige in Suid-Afrika wees wat onder 'n vorige regeringbestel gebore is nie.

Is hierdie feit belangrik, en indien wel, hoekom?

Ek sou argumenteer, ja. Hierdie feit, naamlik dat al die jeug in Suid-Afrika gelyk gebore is, is uiters belangrik, juis omdat al die jeug in Suid-Afrika nie gelyk behandel word nie. In Suid-Afrika is dit nie vir ons vreemd dat 'n jongmens aansoek doen vir 'n werk, en 'n e-pos binne etlike minute terugkry wat steriel stel: “Due to equity reasons, your application will not be considered”.  Hierdie jongmens, wat op gelyke voet gebore is, wat aan dieselfde politiek en ekonomie blootgestel is, word as minderwaardig beskou deur die ganse sisteem, beide openbaar en privaat, net as gevolg van die kleur van sy vel. Hoe belaglik is dit nie? Die sisteem het nie in ag geneem of sy ouers in diens geneem is nie, het nie in ag geneem of sy ouers dalk alreeds deur die sisteem van SEB bevoordeel of benadeel is nie, het nie eens die aard van sy onderrig oorweeg nie. Hoe is dit nie oneties, boos, en gevaarlik nie?

Hierdie denkwyse, naamlik dat jy arbitrêr teen iemand kan diskrimineer op grond van sy of haar velkleur, vind meer en meer in ons daaglikse lewens vergestalting – dit word amper normaal. 'n Goeie voorbeeld hiervan is Discovery se nuwe bank wat nou op pad is. Hierdie bank gaan, alhoewel ons nog nie presies seker is oor die besonderhede nie, aandele aan rekeninghouers gee. Goed, maar wat is dan verkeerd daarmee, dit is verdeling van rykdom? Ja, goed, maar aandele gaan nie aan alle rekeninghouers gegee word nie, aandele sal slegs aan swartmense gegee word. Hoe belaglik is dit nie? Ons moet ook nie so naïef wees om te dink dat hierdie geval 'n uitsondering is nie, Discovery is dalk meer prontuit hieroor, maar ons ganse ekonomie is deurspek met hierdie verkleinerende gedrag teenoor kinders en studente wat nie in dié “kleur” prentjie pas nie.

Twee jongmans het albei 'n uiters skaars kwalifikasie studeer, kom ons kies Chemiese Ingenieurswese vir argumentsonthalwe. Beide het min of meer dieselfde punte vir hulle graad behaal, een was beter met sekere vakke, en die ander een was weer beter met ander vakke. Hulle was in dieselfde koshuis, hulle het elke dag saam by dieselfde eetsaal geëet. Kom ons neem dit nog ’n stap verder en veronderstel dat beide se ouers finansieel in die middelklas val – die een se pa is 'n direkteur van 'n staatsdepartement, en die ander een se pa 'n direkteur van 'n private maatskappy, maar hulle inkomstes is basies dieselfde. Hierdie twee jong mans, albei 22 jaar oud en albei Suid-Afrikaners, daag op by Discovery Bank. Een kry aandele, die ander een doen nie. Een mag deel in die wins, die ander een nie. Een word verwelkom en beloon, die ander een nie. Die enigste rede vir hierdie verskillende optrede:

Die een is swart, die ander een is nie. Hoe het dit vir die openbare- of privaatsektor van Suid-Afrika logies, normaal en reg geword? Dit is alles behalwe reg. Die individuele menseregte van die jong wit man word sonder twyfel geskend, hy word summier as 'n mindere afgemaak, sonder enige oorweging van sy agtergrond of vermoë. Discovery het 'n finansiële waarde op sy lewe gevoeg, en besluit dat die koste daarvan om te doen wat reg is, nie op die boeke sin maak nie.

Discovery se optrede hoort in dieselfde Whatsapp-groep as die optrede van die LUR wat juffrou Elana Barkhuizen summier in die pad wou steek, asook Yes4Youth wat 'n “geen blankes” bordjie bo hulle platform ophang. Optrede wat blind gemaak is deur rasbeheptheid.

Hoe presies het ons hier gekom? Wat is die ideologie of wêreldbeskouing wat deur ons regering, en maatskappye wat hulle probeer paai, aangehang word? Daar is twee maniere om hierdie optrede te probeer regverdig: Eerstens sien ons hier 'n voorbeeld van kulturele relativisme. Dit is die oortuiging dat dit wat eties reg en aanvaarbaar is deur die kultuurgroep bepaal kan word. As die meerderheid van 'n kultuurgroep iets as reg beskou, word dit as eties aanvaarbaar beskou. Die grootste uitdaging hiermee is dat daar geen absolute waarheid is nie, ons het niks behalwe die groep se konsensus nie.  Wat gebeur nou as hierdie groep ontwikkel en oor tien jaar anders voel? Kulturele relativisme het geen vaste basis nie, dit gaan maar net daaroor dat die meerderheid in hierdie stadium glo dat dit reg is om so te maak.

'n Ander manier om hierdie verskynsel te definieer is utilitarisme – die doelwit van 'n goeie samelewing wat op hierdie manier dink is om so veel moontlik mense so gelukkig moontlik te maak, al moet 'n minderheidsgroep swaarkry vir hulle om hierdie voordeel te kry. Utilitarisme is boos, en word wêreldwyd verag – tog is hierdie rasbehepteheid, wat in werklikheid beteken dat jong witmense wat nie 'n dag onder apartheid gelewe het nie, swaar kry, uitgesluit word, en hul professionele lewens met teleurstelling teenoor hul vaderland begin.

Dit mag nooit vir ons normaal word dat wetgewing en besighede jongmense in boksies deel op grond van die kleur van hulle velle nie. Ons mag dit nooit net aanvaar nie! Voeg jou stem by duisende, sê NEE! https://solidariteit.co.za/discovery-veldtog/

 

  • 107
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close