Algemeen -

Discovery: Wanneer privaat soos staat wil word

Deur Francois Redelinghuys

Discovery het vandeesweek staatsretoriek gebruik, en is toe verbaas toe dit in hul gesigte ontplof. Dit nadat Discovery se uitvoerende hoof, Adrian Gore, aangekondig het dat die groep se nuwe bank 10% se aandele aan swart kliënte gaan gee.

Jy “kry” danksy die hoeveelheid melanien wat jy het

Die woord “gee” is baie belangrik in hierdie konteks. Discovery het gesê hulle gaan aandele “gee”, nie omdat jy 'n getroue kliënt is en belê of die risiko waag om jou geld in 'n nuwe onderneming te belê omdat jy glo hulle het 'n goeie besigheidsplan of bestuur nie. Nee, jy “kry” dit omdat jy meer melanien het as ander.

Die reaksie op Gore se aankondiging het Discovery en die einste Gore onkant gevang. Gore het 'n gejuig van die massas verwag. Gore het verwag dat voornemende en huidige kliënte hom gaan toejuig en gelukwens met sy “progressiewe” idees. Niemand kan mos daarmee stry dat ons transformasie moet aanhang nie, of hoe? Selfs as dit beteken dat ons sommige bevolkingsgroepe geheel en al uitsluit.

Privaat vs. staat

Gore was, om die minste te sê, nie voorberei op die reaksie nie. Ek wil eintlik so ver gaan as om te sê dat Gore die reaksie in werklikheid hoegenaamd nie verstaan het nie omdat hy uit voeling is met die mense wat hom ondersteun. Uitsluiting op grond van ras het in die openbare sektor al so algemeen geraak dat dit nie eers meer gesprek ontlok nie. Die probleem is egter dat ons hier te make het met 'n maatskappy wat 'n privaat maatskappy is en wat vir 'n groot deel van sy kliëntebasis sê: “Dankie vir jou ondersteuning, maar ons glo dat die geld wat jy by ons bestee nie vir jou ekstra voordele kan gee nie, want jou melanien is 'n bietjie skraps.”

Die feit is dat Discovery ingekoop het in die staat se rasseretoriek. Discovery dink dit is goed, moreel reg en selfs wenslik. Boonop kan hulle dan punte kry by Luthuli-huis omdat hulle die staat in hul retoriek steun en dit help verkondig.

Dit alles net om hul SEB-syfers beter te laat lyk. Mense hou egter nie daarvan as jy hulle soos nommers – en dan nog gekleurde nommertjies – hanteer nie.

'n Kollega sê in die aanloop tot die Discovery-krisis vandeesweek dat die burgery, ten spyte van staatsverval, nog hul vertroue in die privaat sektor behou het … tot nou toe. Hulle het reeds alle vertroue in die staat verloor, maar het nog verwag dat die privaat sektor hul behoeftes sou bevredig en hulle billik sou hanteer. Spur, Sasol en nou die mees onlangse geval, Discovery, het hierdie vertroue verbreek deur onomwonde te sê dat hulle ook net na sekere Suid-Afrikaners wil omsien.

Die mag van koopkrag

Die verskil tussen staat en privaat lê egter daarin dat die verbruiker in laasgenoemde geval 'n sê het. Daardie seggenskap lê grootliks in die beursie.

Indien daar al ooit enige twyfel was oor hierdie mag, is die onlangse Momentum-voorbeeld deurslaggewend. Die versekeraar het sommer spoedig sy beleid verander vanweë verbruikerontevredenheid. Daardie tipe sensitiwiteit vir verbruikersbehoeftes is ongelukkig nie in die staatsbedeling te bespeur nie.

Dit is waar Discovery die fout maak. Hy hang staatsretoriek aan en soek op die manier witvoetjie by die einste staat. Die verskil is egter dat verbruikers die mag het om Discovery op 'n veel harder manier te “straf” as wat hulle die staat kan straf.

As Discovery soos die staat wil praat, moet hy bereid wees om die houe van die publiek oor die ontevredenheid, wat vanweë die staat al 'n ver pad kom, te verduur en om ook die verdere gevolge van hul standpunt te dra. Die aanhang van staatsbeleid sal kort voor lank tot staatsresulate lei. Discovery wil klaarblyklik hierdie les op die harde manier leer.

  • 418
  •  
  •  
  •  
Francois Redelinghuys Deur Francois Redelinghuys


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close