Algemeen -

Dit is nou die tyd om op te staan

Wat julle vandag gaan sien, is hoe akuut Afrikaners rassisme in Suid-Afrika beleef. Julle gaan hoor hoe hulle in raskassies geplaas word en hoe daar dan op grond van ras teen hulle gediskrimineer word. Die meesterverhaal in Suid-Afrika is dat dit heeltemal aanvaarbaar is: dit is gelykheid, nie-rassigheid en insluiting. Maar dit is nie aanvaarbaar nie; dit is nie okay nie! Dit is ongelykheid, rassigheid en uitsluiting. Hierdie mense beleef die ergste vorme van vervreemding. Hulle voel magteloos, betekenisloos, geïsoleer en selfvervreemd. Hulle sukkel met depressie, angs, selftwyfel en verlies aan identiteit.

Onlangs het ek in 'n hospitaal in Pretoria 'n familielid gaan besoek. 'n Lid van Solidariteit het my raakgesien terwyl hy besig was om opgeneem te word. Hy het net eenvoudig ingegee … 'n senuweewrak. Hy werk vir die staat in 'n staatsdepartement. Hy is van sy pligte gestroop en sit in 'n kantoor en wag vir aftrede. “Dis wat met wittes gebeur,” sê hy en toe begin hy huil. Hierdie volwasse man huil in die ontvangs van ‘n hospitaal. Dit is nie okay nie!

Kaptein Renate Barnard werk vir 24 jaar vir die polisie. Sy doen twee keer aansoek vir 'n pos. Sy was twee keer die beste kandidaat. Op grond van die kleur van haar vel word sy nie aangestel nie. Die pos word eerder vakant gelaat. 'n Derde keer doen sy aansoek. Dié keer onttrek hulle die pos. Sy vertel sy het begin dink die probleem lê by haar. Sy het al hoe harder begin werk. Sy was nooit meer by die huis nie. “Ek het ander mense se werk begin doen. My maag het op ‘n knop begin trek. Ek kon nie meer slaap nie en wou myself net bewys. Dit het my huwelik uitmekaar geskeur,” sê sy. “Hoe voel jy oor jou toekoms in die polisie?” vra hulle haar in die hof. Dan antwoord sy: “Ek is mal oor my werk en ek is 'n trotste lid van die SAPD” – en toe begin sy huil. Dít is nie okay nie.

Christo February se pa het hulle verlaat. Sy ma was 'n vrugtepakker. Die ses kinders en hulle ma het in twee kamers gebly. Sy ma het hulle laat leer en al ses kinders het bo hul omstandighede uitgestyg en kwalifikasies verwerf. Hy werk vir die DKD en kan nie verder bevorder word nie, want hy is bruin. Hulle sê daar is te veel bruin mense in die Wes-Kaap. Hy het vir die pos van senior staatsrekenmeester aansoek gedoen en het die beste punt gekry. Die aanbeveling was dat sy aanstelling nie voldoen aan regstellendeaksievereistes nie. Hy was in “oversupply”. Tydens die hofsaak teen die DKD sê hy: “Hulle het vanoggend in die hof gesê daar is geleenthede in ander provinsies. Die regering bepaal waar jy moet bly. As jy bevorder wil word, word die plek waar jy moet bly vir jou voorgeskryf.” Dít is nie okay nie.

Dit is 'n kleurbeleid van rasseklassifikasie.

Dit het niks met regstellende aksie te doen nie, maar alles met ras.

Dit diskrimineer teen mense, vervreem hulle en ontwrig hulle lewens. Hulle mag dit nie sê nie, want dis mos nie polities korrek of “woke” nie. Dit is nie okay nie.

Dis nie okay as ons dit normaliseer nie. Dis nie okay as ons nie opstaan daarteen nie.

Dis nie okay as ons dink niks gaan help nie.

Ons moet opstaan teen die regering se rasmalheid.

Omdat dit nie okay is nie, gaan Solidariteit die Suid-Afrikaanse regering aankla by verskeie Europese parlemente en die Verenigde Nasies.

Ons moet op internasionale verhoë ook sê dis nie okay nie.

Kom ons sê in massas: dit is nie okay nie.

Gaan voeg jou stem by die klag by www.solidariteit.co.za

Kom ons maak die klag 'n massaklag.

Staan op teen rasmalheid.

Want dít is nie okay nie!

Maak ons klag ‘n MASSAKLAG: https://solidariteit.co.za/cerd/ 

Solidairiteit stel skokkende RASVERSLAG bekend, kyk hier.

  •  
  •  
  •  
Dr. Dirk Hermann Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close