Algemeen, My Werk -

Dit is ook net partykeer die swak regering se skuld…

Laat ek myself sommer op die intrapslag verdedig – Swart Ekonomiese Bemagtiging of BEE soos wat dit tans in Suid-Afrika toegepas word, en die raamwerk binne regstellende aksie waarin dit afspeel, is ’n euwel, hou jongmense uit die werk uit en behoort nasionaal as ’n vloekwoord gebruik te word. As bestuurder van Solidariteit Jeug ontvang ek amper daagliks e-posse van moedelose ouers wie se kinders nie keuring kry nie, nie befondsing kry nie, en bowenal, nie werk kry nie.

Vir hierdie moedelose persone het ons by Solidariteit se Loopbaanontwikkelingsafdeling ’n rits baie interessante oplossings oor die afgelope bykans drie jaar ontwikkel. Die Loopbaankompas bied ’n gratis belangstellingstoets, om die loopbaan vroeg reeds in die regte rigting te stuur. Werknet, waarvoor ons onlangs ’n nuwe baadjie aangetrek het en nuwe funksionaliteite ontwikkel het, gee geleentheid vir werkgewers en werknemers om mekaar te ontmoet en die loopbaanpad saam te stap, en Solidariteit Jeug bied ’n alles-in-een platform vir die jongmens om te kom tuis wees, en inligting oor ’n magdom loopbane en loopbaanopsies te kom geniet.

Al hierdie dinge is maar net ’n druppel in die emmer; ons weet dit, daarom neem ons ook gedurig deel aan kommunikasie met universiteite of beursprogramme om vas te stel waarom lede van Solidariteit Jeug nie aanvaar is tot ’n sekere program nie, waarom sommige programme wit jongmense uitsluit, en waarom administrasie en kommunikasie dikwels pateties is. Ter opsomming: Daar is dus ’n klomp redes vir ons om te kla oor die lot van ons jongmense, maar daar is een ding wat ons ongelukkig tot hierdie lys moet byvoeg en dit is waaroor ek vandag so effens wil keel skoonmaak – die alewige vinger wys na ander.

Dit gebeur te veel dat ek navrae kry van jongmense wat gewoon te lui was om te gaan soek vir geleenthede, gewoon nie gesteur kon word om navraag te doen oor waarom hulle nie toegelaat is nie, of gewoon nie hard genoeg gewerk het om keuring te kry nie. Ons moet baie versigtig wees om die vinger alewig na die regering en hul domastrante wetgewing te wys – verstaan my reg, dit is heel dikwels die regering se skuld, maar dit het te maklik geword om al brommende rond te loop en ander mense of stelsels te blameer vir ons eie tekort aan ywer.
Ek het al kwaai e-posse van ouers gekry omdat ’n kind se studiebeurs nie verleng is nie, en sodra ek dit opvolg stel die verbaasde proffie vir my dat die kind letterlik nie een klas bygewoon het nie, nie een opdrag ingedien het nie, en nie eens gesteur kon word om vir die eksamenvraestel op te daag nie. Geen rassistiese beleid of swak stuk wetgewing is te blameer vir luiheid nie, en ons moet baie versigtig wees om dit nie die verskoning van keuse te maak nie.

Die Westerse werksetiek wat ons geërf het is ’n kosbare ding en aan die hart daarvan lê die oortuiging dat die mens nie werk vir ’n baas of ’n maatskappy nie, maar dat die mens werk vir God, en werk omdat hul werk ’n roeping is. Die gevolg hiervan is dat die Westerse werksetiek die mens forseer om hom of haarself altyd op ’n hoër standaard te hou en altyd te probeer harder werk, die ekstra myl stap, en die beste moontlike diens te doen – ongeag die omstandighede. Ons moet bitterlik versigtig wees om hierdie mooi erfenis nie te laat wegglip omdat ons regering en staatsamptenare hulself nie by die selfde standaarde hou nie! Ons moet aanhou om ons beste te gee, aanhou om die ekstra myl te stap, ongeag die optrede van ander, want ons meet onsself uiteindelik net aan onsself!

  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close