Algemeen, My Werk -

Dit is tyd vir solidariteit saam met Solidariteit

Wanneer 'n gebeurtenis, of reeks gebeurtenisse plaasvind wat jou op sielkundige of fisieke vlak bedreig, gaan 'n mens se liggaam oor in 'n veg- of vlug-modus.  Die Amerikaanse sielkundige, Walter Cannon, het hierdie term vir die eerste keer in die 1920’s gebruik om te verwys na hoe die liggaam al sy interne hulpbronne mobiliseer om 'n komende bedreiging te hanteer.

Die uiteinde is redelik voor die hand liggend: Wanneer die mens besef dat hierdie bedreiging bestaan, en hulle bedreig, verskerp hul sintuie, en 'n vinnige besluit moet gemaak word: Gaan ek veg, of gaan ek vlug?

Vir werknemers in Suid-Afrika is die bedreiging sterker as ooit.  Nie net onttrek beleggers op strepe hul miljarde nie, ons regering stel beleide in plek wat beleggingsonsekerheid vererger.  In so 'n tyd sou 'n mens verwag dat arbeidswetgewing juis ruimte sou skep om aanstellings te vergemaklik, tog het president Ramaphosa onlangs aan 'n klomp jongmense gestel dat Swart Ekonomiese Bemagtiging hier is om te bly.  Sprake dat die regering pensioenfondse wil gebruik om gate toe te stop, word al meer gehoor, en die wet oor onteiening sonder vergoeding is spoedig in wording.  Die bedreiging lê voor ons; soos die wolke wat oor die horison aankom, sien ons dit.

Die vraag wat by ons almal opduik is: Wat nou?  Wat moet ek nou doen?  Sommige mense gaan ander weivelde soek en die land verlaat, maar statistiek toon duidelik aan dat die oorgrote meerderheid van ons nie die land wil verlaat nie. Die Christen vind sy roeping dikwels juis midde in die krisis, so vlug is nie eers 'n opsie nie.  As vlug nie 'n opsie is nie, en as ons weet ons roeping lê hier, dan is daar net een ding oor om te doen: Veg!  Natuurlik word hier geensins bedoel dat die wapens opgeneem moet word nie, en die linies opgestel moet word nie; hier word na 'n intellektuele stryd verwys.

Wanneer gevaarlike wetgewing ten opsigte van jou pensioen op die tafel beland, baklei met alles in jou om dít wat joune is, te behou!  As jou dienskontrakvoordele in die werkplek teen jou diskrimineer op grond van jou ras, neem standpunt in!  As jy drie keer so hard as ander mense moet werk vir dieselfde of minder geld, laat jou stem hoor so hard as wat jy kan!

As jy voel dat niemand jou stem hoor nie, word deel van 'n groot en groeiende groep stemme wat alreeds oor die land eggo.  As jy te bang is om op te staan en te veg, kry 'n vegfikse stryder in jou hoekie!  As jy voel asof jy alleen staan, maak die keuse om saam te staan, want saam is ons sterker!

Jy sien die bedreiging reguit op jou afstuur.

Die tyd vir stilsit en niks doen nie, is verby.
Die tyd vir opstaan en getel word, is naby.
Die tyd vir saamstaan is nou.
Ons sal veg deur saam te bou.

Sluit vandag nog aan by Solidariteit se Netwerk van Werk. Laat ons saam met jou staan, saam met jou standpunt inneem, en saam met jou veg!

Besoek https://gildes.solidariteit.co.za/ sommer nou!

  • 4
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close