Hoekom 'n musiekblyspel oor die Grensoorlog?

Deon Opperman antwoord:

Twee jaar gelede het ek die Boereoorlog-musiekblyspel Ons vir jou in die Staatsteater aangebied. Ek is deur baie mense aangeval omdat ek 'n musiekblyspel oor daardie oorlog juis op “hierdie tyd” (soos hulle dit gestel het) aangebied het, en daardie kritiek deur mense wat nog nie eers die stuk gesien het nie! My posisie was soos volg: Hierdie is my volk se geskiedenis en as ons nie die reg het om ons verlede te onthou nie, hoe sal ons weet wie ons nou is en hoe sal ons ons toekoms kan droom? Die uiteinde van die saak was dat 45 000 mense Ons vir jou gaan sien het.

Bespreek nou vir Tree Aan! Musiekspel in die Staatsteater oor die Grensoorlog

Toe wonder ek: wat sal ek volgende doen? Na aanleiding van 'n gesprek met Steve Hofmeyr oor sy aksies by Freedom Park en hoe die Grensoorlog waarin die meeste mans van my ouderdom geveg het basies 'n toffie gewys is en uit daardie monument gelaat is, het ek dadelik geweet waaroor my volgende musiekblyspel sou gaan. Vandaar die produksie wat ek nou in Junie in die Staatsteater aanbied:  TREE AAN – Dit was die dae toe ons troepies was. My eerste drama 30 jaar gelede was per slot van sake Môre is 'n lang dag, wat in 'n tent op die grens afgespeel het.

Die ouens wat by die oorlog op die grens en in Angola betrokke was, het g’n debriefing gekry nie. Ons is uitgeklaar en laat staan. En toe kom Freedom Park en ons word vertel dat wat ons op daardie grens opgeoffer het, vir niks tel nie, inderdaad vergeet moet word. Maklik vir 'n politikus om te sê, maar hoe vergeet enige mens so iets?

Toe reken ek: nou maar gaaf, as hulle nie vir ons saam met die res in Freedom Park wil eer nie, dan sal ek, met dit wat ek beste doen – teater ‒  dit in die middel van Pretoria in die Staatsteater doen. TREE AAN is 'n musiekblyspel wat die lewens van 'n klomp troepies volg  ‒  van koebaai by die stasie, deur basics en al die pad na die grens. My bedoeling is dat dit 'n lewendige monument sal wees vir almal, mans en vrouens, wat so duur vir die Grensoorlog betaal het. Ek wil hê ma’s, pa’s, susters, oupas en oumas, seuns en dogters en veral my geslag se kinders moet sien wat ons deurgemaak het. Ek het die stuk as 'n musieblykspel geskep om geskik te wees vir die hele gesin, want ek wil hê almal dit moet kan sien. Ek wil hê ons storie moet vertel word en op die skouspelagtige skaal wat net 'n musiekblyspel kan gee.

Die jong geslag het met Ons vir jou skielik iets van hulle geskiedenis verstaan wat hulle tot dan nie verstaan het nie. Met TREE AAN gaan almal wat nie op die grens was nie, oud en jonk, die lag en die huil van troepie-wees verstaan. Ek hoop dat ek vir duisende mans van my eie geslag uiteindelik daardie debriefing kan gee wat hulle nooit gekry het nie.

Die produksie kos my 'n paar miljoen rand, maar nes met Ons vir jou, huiwer ek nie vir 'n oomblik om sulke geld vir hierdie produksie te betaal nie. Dis 'n dramaturg se werk om sy of haar mense se stories te vertel. TREE AAN is 'n storie wat nou vertel moet word, juis in “hierdie tyd” waarin daadwerklike pogings aangewend word om die Suid-Afrikaanse burgers van Europese herkoms se hele geskiedenis te kriminaliseer en op grond daarvan uit te wis.

Sien julle by die Staatsteater!

Deon Opperman

Voorskou op sTube

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close