Algemeen -

Droom ‘n nuwe droom

Om te droom en mikpunte te stel, maak die lewe die moeite werd.

Wanneer jy klein is, droom jy van wat jy gaan doen as jy groot is. Hierdie drome is nie altyd realisties nie en meeste van ons word nie brandweermanne of ballerinas nie. (Dankie tog daarvoor.)

Iewers, êrens in ons jeug – besluit ons egter wel wat ons wil doen met ons lewens. Ons begin dan werk om hierdie “nuwe” droom ‘n werklikheid te maak.

Wanneer ons die droom verwesenlik het, begin ons weer droom oor die volgende fase in ons lewens. Wil ons oorsee gaan of nie, waarheen? Wil ons trou of nie, met wie? Drome oor ‘n (nuwe) werk, ‘n (nuwe) kar, ‘n (nuwe) huis…

So volg die een droom op die volgende. Ons moet aanhou droom sodat ons vorentoe kan beweeg.

Partykeer word ons drome nie waar nie. Dit is dan ook nodig om “nuwe” drome te droom en nie vas te kyk in die dinge wat nie kan wees nie. Almal van ons kan nie dieselfde dinge hê nie, net soos wat ons nie almal dieselfde beroep kan beklee nie.

Moenie verbitterd raak oor drome wat nie waar word nie. Begin om 'n nuwe mikpunt na te streef. Droom ‘n nuwe droom.

Elke fase van ons lewe het sy eie lekkertes maar ook sy eie uitdagings.

Baie keer wil ons opgee en redes soek waarom dit nie die moeite werd is om aan te hou droom nie. Ons is “te oud” of “te moeg vir die verydeling van drome wat nie waar word nie”.

Mens stagneer en verval juis in ‘n groef omdat jy nie meer probeer om daaruit op te staan nie. Jy word juis “oud” omdat jy nie meer jou drome najaag nie.

Jy is nooit te oud om ‘n nuwe mikpunt te stel of om ‘n nuwe droom te droom nie – CS Lewis.

Hou aan met droom!

  •  
  •  
  •  
Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close