My Gesondheid -

Durf die winter sorgvry aan – kry 'n griepinenting

Jy loop vir dae lank met 'n  krapperigheid in jou keel en sê vir almal wat vra hoekom jy so hees is dis net die stof in die lug wat jou sinuskanale so bietjie irriteer. Jy sluk ’n  antihistamien en kry ’n goeie neussproei. Jou keel word seerder en jy koop suigtablette. Jy probeer die moegheid ignoreer, maar dan word jy in die nag wakker met ’n hoë koors, seer spiere en ’n kloppende hoofpyn. Dan weet jy jy is hulpeloos in die griep se kloue.

Wat is griep?

Griep word deur die influenza-virus veroorsaak. Dit word as ’n respiratoriese siekte geklassifiseer, is hoogs aansteeklik en word deur besmette mense se gehoes en genies versprei.

Die simptome is welbekend

  • Hoë koors
  • Kouekoors en sweterigheid
  • Hoofpyn
  • Seer spiere en gewrigte
  • Moegheid
  • Diarree en naarheid

Die rol van immunisasie

Gesondheidsowerhede stem wêreldwyd saam dat die beste manier om jouself teen griep te beskerm, tydige immunisasie daarteen is.

’n Toepaslike griepentstof word jaarliks ontwikkel om die verwagte virusse wat in sirkulasie gaan wees, die hoof te bied. Die entstof word vervaardig van virusse wat onskadelik gestel is. Dit bevat nie die aktiewe virus nie en kan dus nie griep veroorsaak nie. Binne twee weke nadat jy die inenting ontvang het, is jou liggaam slaggereed om teenliggaampies te vervaardig vir wanneer jy met die griepvirus in aanraking kom. Afhangend van jou algemene gesondheid sal jy griep óf heeltemal vryspring óf minder ernstige simptome toon en vinniger gesond word indien jy wel griep opdoen.

Ander maniere om jouself teen griep te beskerm:

  • Was gereeld jou hande.
  • Gebruik ’n snesie wanneer jy nies, gooi dit weg en was onmiddellik jou hande.
  • Probeer om nie aan oppervlakke soos openbare toonbanke en die relings van trappe en roltrappe te raak nie.
  • Hou op rook.
  • Maak gereeld vensters en deure oop sodat vars lug kan sirkuleer, al is dit koud buite.
  • Was badkamer- en kombuisoppervlakke gereeld met antibakteriële skoonmaakmiddels, veral as iemand in die huis reeds griep het.

Wie behoort hierdie seisoen ingeënt word?

Enigiemand wat ten minste ses maande oud is, moet teen griep ingeënt word. Dit is veral belangrik vir mense wat ’n hoë risiko loop om ernstige komplikasies soos longontsteking te ontwikkel indien hulle griep opdoen, soos:

  • Mense wat aan asma, diabetes en chroniese longsiektes ly;
  • Swanger vroue;
  • Mense wat ouer as 65 is;
  • Mense wat pasiënte met chroniese siektes versorg of in dieselfde huis as 'n chronies siek persoon bly.

Vermy griepinenting indien jy:

  • In die eerste trimester van swangerskap is;
  • Allergies is vir eiergeel;
  • Deur jou dokter afgeraai word weens ’n hoërisikotoestand.

Medihelp sal die koste van die entstof betaal uit jou voordele vir voorkomende sorg, jou spaarrekening of jou dag-tot-dag-voordele, afhangend van jou voordeleopsie. Indien jy die griepinenting by Dis-Chem of Clicks se apteekkliniek kry, betaal Medihelp ook die koste om die inenting toe te dien soos in die reëls van jou voordeleopsie uiteengesit.

Jy kan jou voordele op die Medihelp-toepassing vir lede nagaan, Medihelp se gesekerde webtuiste vir lede besoek of met ’n konsultant by Medihelp gesels by 086 0100 678.

Kry daardie inenting so gou as moontlik en durf die winter sorgvry aan!

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Wilmarie Brits Deur Wilmarie Brits


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close