Die doelwit van die dwanglike staat is om alles na sy wil te verander; om die samelewing as’t ware na sy beeld te smee. Die proses vind beslag in 'n voortdurende strewe na assimilasie, wat ons miskien tans ken as “transformasie”.

 

Terwyl mense kwansuis hulle identiteit en kultuur mag kies – m.a.w. van mekaar mag verskil – blyk dit so te wees dat die enigste verskille wat sogenaamd toegelaat word, verskille sal wees wat met die wil en ideologie van die dwanglike staat ooreenstem.

 

Dit blyk ongelukkig dat die proses goed op dreef is. Onlangs lees ons in Beeld: “Span eis 1 kultuur by NWU”. Voorts wil dit voorkom dat die NWU, en spesifiek die Potchefstroom Kampus, aan 'n transformasieproses onderwerp sal word.

 

Wat beteken dit as 'n multikulturele universiteit sogenaamd “een kultuur” moet hê?

 

Vir die indiwidu beteken assimilasie gewoonlik 'n verlies aan kultuur en identiteit. Dit raak 'n geval van “een kultuur vir almal”. Wat dan as dié een kultuur nie self gekies word nie, maar deur 'n proses subtiel of selfs openlik afgedwing word?

 

'n Welbekende gesegde lui dat kuns die lewe naboots. Hoewel wetenskapfiksie nie in almal se smaak val nie, is daar soms sterk simboliek ter sprake, simboliek wat ons na my mening hierby kan betrek. Die fiktiewe uitbeelding van die Borg, 'n wese uit die reeks Star Trek, illustreer die proses van dwang-assimilasie.

 

Geen mens kan voorhou om iets van wetenskapfiksie te weet sonder om na Star Trek – Gene Roddenbery se bekende TV-reeks – te verwys nie.

 

In die reeks ontmoet ons die bemanning van die ruimteskip USS Enterprise wat op 'n toekomstige reis deur die ruimte is. Op die tog ontmoet hulle vele vreemde buiteruimtelike wesens. Sommige van die wesens is nie so vriendelik nie en in die verhaal moet die Enterprise gereeld vir oorlewing veg.

 

Een van die mees gevreesde vyande in die reeks is die sogenaamde Borg Collective (waar Borg verwys na “Cyborg”). Die Borg is waarlik 'n gruwelike vyand: 'n kubernetiese organisme, deels mens, deels rekenaar, deels robot. 'n Stomende, krioelende, kollektiewe eenheid; 'n bose bewustheid, saamgestel uit saamgesnoerde biologie en meganiese onderdele; 'n kollektief waarin indiwiduele onderskeid nie meer van toepassing is nie.

 

Locutus

Foto van http://upload.wikimedia.org

 

Daar is slegs een Borg; hy is 'n mag wat hom toespits op die uitwissing van alle indiwidue. Die onderdele van die Borg sluit in die biologiese materiaal van mense en wesens wat die stryd teen die Borg verloor het. Die gedagte voltooi 'n grillerige prentjie.

 

Vir die Borg self is hy natuurlik nie grillerig nie. Hy is dan 'n perfekte samehangende eenheid met een doel, een wil en een kultuur. Sy aanvalstuig is dan ook 'n perfekte kubus: klinies, simmetries, meganies en magtig; altyd op jag om sy mag te verbreed deur sy soort “eenheid” met geweld af te dwing.

 

Assimilasie is die Borg se dryfveer, mag is sy vernaamste doel en ook die rede waarom enige verskille uitgewis moet word. Buiten die kollektief van die Borg, word geen ander identiteit toegelaat nie. In die Borg verloor die indiwidu sy menswees en sy uniekheid. In die Borg bestaan geen indiwidu meer nie.

 

Daarom groet die Borg sy toekomstige slagoffers met die frase: “You will be assimilated” (“Julle sal geassimileer word”). Só sê die Borg ook koud en klinies aan die bemanning van die Enterprise toe die twee ruimteskepe mekaar se paaie kruis.

 

Kan die Borg gesien word as 'n metafoor vir die moderne dwanglike staat? As die prentjie van die Borg sinspeel op die dwanglike staat se begeerte vir perfekte eenheid, mag en beheer, dan kan dit sekerlik só wees.

 

'n Staat wat 'n ideologie van perfekte eenheid en integrasie met mag afdwing ten koste van indiwiduele verskille, kan op sy allerminste gesien word as 'n vooruitloper van die Borg-program.

 

Die doelwit van die Borg-staat is om alle verskille aan sy wil en ideologie te onderwerp. Enige verskille wat teenstrydig met die Borg-ideologie is, word summier uit die weg geruim. Gedwonge assimilasie is die leuse. Daarom is dit geen verrassing nie as só 'n strewe tot gevolg het dat identiteite wat buite die wil van die dwang-raamwerk lê, ná integrasie tot niet gemaak word.

 

Wanneer sogenaamde multikulturele universiteite “een kultuur” moet hê; wanneer alle tale “toegelaat” word, maar slegs een bevoordeel word; wanneer minderhede se kultuur subtiel afgetakel word; wanneer selfstandigheid as 'n lawwe idee uitgekryt word; dán blyk dit só te wees dat ‘n “Borg-program” goed op dreef is.

 

Dit laat my wonder, is daar nog plek vir ons buite die wil van hierdie spreekwoordelike Borg? Of, hoor ons ook in die agtergrond dat dwang-assimilasie ons voorland is?

 

  •  
  •  
  •  
Deur Gerhard van Onselen


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close